Woensdag, 14 Oktober 2015

OUMA HANTIE SE SOUTSKONSIES

My Ma het male sonder tal, hierdie wonderlike sout skonsies vir ons kosblikke gemaak. Dan het sy ook vir die kerk se tee na nagmaal, gou-gou vroeg oggend hierdie skonsies gebak. Jy kan enige soutvulsel binne in sit. 

Oorskiet bobotie, pasta vleis, bullybief, gekookte eier, smoor snoek tert wat oorgebly het, mozzarella, ricotta, bloukaas, gerookte worsies, tuna mayo of selfs hoender mayo. Die vulsels wat jy gebruik moenie loperig in dikte wees nie, dit moet sy vorm redelik behou anders gaan die skonsie nie mooi rys nie.

RESEP VIR DIE GEWONE SKON
250 g Gaar maalvleis
140 g Koekmeel (1 kop)
15 ml Bakpoeier (1 el hoog)
1 t Sout - gegeurde soute werk ook lekker hier
250 ml Melk (1 k)
125 ml Olie (½ k)
2 Eiers - geklits

VARIASIE WAT BY BESLAG GEVOEG WORD
¼ k Spriet uie
1 e Pietersielie of ander groen kruie
½ k Spekvleis - uitgebraai en opgekap

METODE
1. Voorverhit oond na 200 ˚ C en spuit kolwyntjie pannetjies. Jy kan die mini pannetjies ook gebruik, die degie bak pragtig.

2. Hou die maalvleis of vulsel eenkant.

3. Sif al die droë bestanddele saam behalwe die bakpoeier.

4. Meng al die vloeistowwe saam en die eier. Meng dan met draadklitser by die meel en klits goed deur sodat daar geen klonte kan wees nie. Die beslag se konsistensie moet die van plaatkoekie deeg wees, effens dunner. Laat die beslag vir 20 minute staan om verder te verdik. 

5. Voeg die bakpoeier en variasie bestanddele by die beslag en klits goed deur. Skep die beslag in die pannetjies tot so ¼ vol en skep dan ‘n bietjie maalvleis in die beslag. Vul dan die gaatjie op met nog beslag tot op ¾ vol. Moenie die pannetjies te vol maak nie, dit gaan oor die kante rys en dan is die kolwyntjies nie netjies nie.

6. Die beslag kan ook in ‘n groot broodpan vir een groot vleisbroodjie gebak word, volg net stap 5 se vul metode.

7. Bak vir klein kolwyntjies 8 - 10 minute by 200 ˚ C, vir gewone grootte muffins 15 - 20minute en vir broodjie 45 minute by 180 ˚ C.

BRON: Hantie Bezuidenhout.  www.bosenbergguestfarm.co.za

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking