Woensdag, 14 Oktober 2015

'N MOELIKE BRAHMAAN EN 'N BESEERDE MALTEES!

Nou goed, soms dink jy-jy het alles gesien en dan kry jy dae soos vandag!

Ek is gevra om ‘n pakkie by mense te gaan aflaai as daar dalk ‘n geleentheid verby kom. 

Soos dit my aard is sal ek die ekstra myl gaan, veral as dit bejaarde mense is. 
Ek kom by die plaas hek aan en moet self die draad hek wat so tjirr en kierrr oop swaai. 
Dit is so ‘n lang ene en die verdomde ding is so lank en maak na die verkeerde kant oop. 
Klim terug in die kar en sit die kar in tru-rat, stoot ver terug om plek te maak vir die lang hek sodat dit kan oop maak. 
So ry ek sukkel-sukkel deur die hek, maak toe, want ek weet ‘n hek is daar vir ‘n doel. 
Iets is veronderstel om nie uit te kom nie. 
Net toe ek om die draai gaan, storm ‘n bedonderde Brahman bul die kar en stamp teen die wiel. 
Ek kyk die witte bul aan en skree vir hom: “Voetsek, ek maak biltong van jou!”, gooi hom met my groot sonbril en jy sien net ore spat en toe volg my pienk waterbottel! 
Ek weet nie wat hom van plan laat verander het nie maar hy kies koers veld in. 
Mmmmh dink ek jou blikskottel, geen  wonder daar is ‘n moewiese hek om jou in te hou nie! 
My moer-meter is nou teen die dak vas.

Ek ry maar versigtig die lang paadjie af na die huis, ek sien die mooiste windpomp wat draai in die wind wat besig is om ‘n dam vol te maak.

Dit is warm en ek is dors en kyk verlangend na die straal water wat inloop, sussie tyd vir stop is daar nie!  
Gelukkig sien ek gou die huis en stop. 
Die tannie kom uit en ek kan nie help nie, maar vra dadelik vir yskoue water. 
My Ma het my geleer dit is erg ongeskik om te vra voordat jy nie gevra word nie. 
Ek gaan sit op die brëe rooi stoep en die koel wind kom om die hoek. 
Skielik spring daar ‘n maltesie op my skoot en die arme dingetjie se agterlyfie is erg met verbande verbind. 
Selfs die lang stertjie het iewers heen verdwyn. 
Hopelik was dit nie die bul wat haar beseer het nie, hy is kapabel en trap haar plat! 
So sit ek met die beseerde woefter op my skoot. 
Die tannie kom by die huis uit en bring die heerlikste koue Rooibos ystee en ‘n glas water. 
Ek sluk eers die water weg en toe volg die tee. 

Ek vra bietjie uit oor die plaas en soos ouder gewoonte skiet ek wortel en vra vreeslik uit. 

Op ‘n stadium spring die beseerde hondjie van my skoot af en ek probeer keer. 
“Nee”, sê die tannie droog, “die hondjie is nie siek nie”. 
Sy sien die hengse vraagteken op my gesig, ek ek vat ‘n groot sluk tee. 
So tussen die sluk deur antwoord die tannie my: “Die hondjie is op hitte!” 
Die tee het oral uit gespuit, deur my neus, mond en ek dink my oë se trane ook. 
Ek kon nie help nie, maar ek het so gelag dat die nat plek wat op die stoel was dalk nie ystee was nie! Hierdie boervrou  maak ‘n plan en die tannie het 10!

Oppad terug het ek nie weer die beduiwelde bul gesien nie, my bottel opgetel en my bril aanmekaar probeer sit. 

My dag het goed ge-end!

Groete Annelien Pienaar.

www.bosenbergguesfarm.co.za
2015


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking