Vrydag, 02 Oktober 2015

LAVENTEL BROSBROOD KOEKIES

Elke jaar voor kersfees bak ek hierdie koekies as ‘n bederf vir die mense na aan my hart!  My Laventel bosse is dan ook vol in die blom en ek gebruik die fyn pers blaartjies van die plant om my koekies mee te bak.  Jy het letterlik net 1 - 2 tl nodig vir die koekie beslag!

Ek is baie lief om by Margaret Roberts een maal per jaar haar praatjie by te woon vir Homeopate en Alternatiewe geneesmiddels.  
So het ons een jaar ‘n soort gelyke koekie by ons oggend tee gekry.  Dit was voorwaar dekadent, mens sou dink die sterk reuk van die laventel sal die koekie oorheers maar allermins nie!  Ongelukkig wou hulle nie die resep vir my gee nie en soos ‘n goeie chef betaam het ek aanhou bak totdat ek iets wat my eie stempel afdruk gekry het.  Hoop julle geniet dit net soveel soos my geliefdes!

RESEP
110 g Strooisuiker
2 t Laventel blommetjies - fyn gebreek
2 t Suurlemoenskil
230 g Botter of Bake margarien - kamertemperatuur
350 g Koekmeel
Knippie sout

METODE
1. Hier is ek effens lui, vat die voedselverwerker vir hierdie takie!

2. Plaas die suiker, laventel en botter in die verwerker en meng totdat die mengsel lig en donsig is. Voeg dan die suurlemoen skil by en werk vir 1 minuut lank deur.

3. Gooi die koekmeel by die mengsel en meng totdat dit ‘n deeg vorm.

4. Plaas die deeg in ‘n plastiek sakkie en druk dit met jou palms plat. Laat in yskas vir 30 minute rus.

5. Sny die sakkie stukkend en plaas die deeg op ‘n meel bestrooide werksoppervlakte en rol 3 - 5 mm dik uit. Druk vormpies van keuse en rol die deeg weer en druk.

6. Plaas die uitgedrukte koekies op ‘n gesmeerde bakplaat ver uit mekaar. Prik die bo kante met ‘n vurk.

7. Bak die koekies by 150 ˚ C vir 12 - 15 minute of totdat dit goud bruin is. Laat die koekies vir paar minute afkoel op die bakplaat anders gaan dit in jou hand verbrokkel as dit te warm is. Laat dan verder op afkoel rakkie koud word.

8. Eet met melk!

HOEVEELHEID: 12 koekies.

BRON: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za


2 opmerkings:

  1. Ek wil net weet of daar laventelplante is wat oneetbaar is, want ek het die mooiste Butterfly lavender plant gekoop waarmee ek reeds so koekie wou bak, maar is nie seker of enige plant eetbaar is nie.

    AntwoordVee uit
  2. Hallo Lynette Vivier, Volgens die boek van Margret Roberts noem jy dit Rabbits Ears...jy breek daardie pers blaartjies af en sit dit in jou beslag. So lank die ettiket van die plant gelees het: Lavendula Dentata of Lavendula Intermedia...die lavendula moet vooraanstaan.

    AntwoordVee uit