Woensdag, 28 Oktober 2015

KHULFI - INDIESE SPESERY EN NEUT ROOMYS

Ek het hierdie ongelooflike lekker roomys geleer eet by ‘n Indiese vriendin van my.  Sy het die basis resep vir my gegee en ek het bietjie kinkels bygesit. Dit is soet en romerig en gepak met neute. Ek gebruik enige neut wat ek in die hande kan kry. Dus moenie dat dit jou stop om dit te maak nie, selfs goeie kwaliteit grondbone werk ook lekker.

Daar is verskei maniere wat roomys gemaak kan word en die grootste kopseer is om die mengsel gevries te kry. Ek maak my eie roomysmaker soos volg: Basies maak jy 'n soutwater oplossing wat in 'n bak geplaas word en nog 'n leë bak van dieselfde grootte word dan met 'n gewig bo-op in die onderste bak geplaas. Hierdie is nou waar ons die roomys maker mimiek. Plaas die bak versigtig in die vrieskas en vries tot kliphard. Sout oplossing: 1 liter water met 200 g sout. Onthou nie almal se bakke is ewe groot nie. So jy mag dalk vir die onderste bak meer soutwater nodig kry. Plaas dan jou klaar roomysmengsel in die koue bak en bly roer met ballon klitser totdat die gevries het of jy kan met 'n handmenger ook klits. Dit is belangrik om te klits om sodoende die yskristalletjies fyner op te breek. 

RESEP
110 g Pekans of amandels of macadamia neute - ongesout
50 g Pistasie neute (pistacio) of grondbone - souterige neute
410 g Blik Ideal melk
60 ml Mielieblom (maizena)
Kaneel stokkie
1 Blikkie Kondensmelk
250 ml Room
10 ml Vanielje geursel of enige likeur van keuse

METODE
1. Plaas die neute op ‘n bakplaat en rooster vir 5 minute in die oond op 180 ˚ C.
Haal uit en laat afkoel.

2. Maak die mielieblom aan met die helfte van die Ideal melk.
Verhit die ander helfte van die Ideal melk tesame met die kaneel stokkie.
Voeg nou die aangemaakte mielieblom by die kokende melk en roer met whisk deur om aanbrand en klonte te voorkom.
Kook oor matige hitte vir 3 - 4 minute totdat dit verdik het.

3. Verwyder van hitte en roer die kondensmelk by en meng deeglik. Gooi nou die res van die bestanddele by en meng weer deeglik.

4. Skep uit in ‘n bak geskik vir vries.
Ek neem altyd ‘n metaal bak wat koue goed gelei en dan vries die mengsel ook vinniger.
Jy moet elke 30 minute die bak uithaal en vir 3 minute lank klits om die yskristelletjies fyner op te breek.
Hou so aan totdat dit soos slush puppy lyk.
Los dan om heeltemal te stol.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking