Maandag, 26 Oktober 2015

GEDIERTETJIES EN ORGETIELE!


Die Filistyne se dermpies is sommer vroegaand gestop en nou is daar tyd vir kuier en klets op die blad. 

Tydens saterdag se lekkergoed klas het ‘n voëltjie uit een van die hoë bome geval. 
So stap ek met die liederlike dingetjie in my bakhand af om die kinders werk te gee! Siestog, die ogies is toe en die vere min. Al wat jy sien is die bekkie wat na bowe gaan en soos ‘n diamantjie oopmaak en vra vir ‘n kossie. Van die klasmaters het baie voorstelle grappig gemaak wat om met die dingetjie te doen maar katkos was nie op die lys nie! Dit is ‘n gesoek en skrop later die aand om wurmpies te soek vir die dingetjie. Die groot tiener seuns het geen erg aan die bondeltjie wat so piep en sussie is vreeslik ingenome met die speelding. Sy weet sy mag nie vat nie, maar druk wel die kombersie snoesig om die dingetjie toe binne in die skoendoos.

Ons gaan slaap met die piepende lyfie in ons kamer en sussie op ‘n matrassie omdat dit naweek is. Sondag oggend 05h00 tjirp die gedoentetjie my wakker, ek kyk dit met een oog aan en dink, ek wil slaap, sjusssh! 
Nee, hy is honger en hou nie op nie, ek pomp pappie in die ribbes maar nee, hy is moeg en draai om. Hy gaan nie op ‘n sondag oggend loop wurms soek nie. Ek staan traag op en gluur die dingetjie aan. Val oor sussie wat langs my bed lê en vloek ‘n paar woorde. Strompel na die alarm en sit af. Soek my skoene en stap met mening kombuis toe met die gedroggie in sy boksie soos ‘n rugby bal onder die arm. Waar gaan ek jou nou sit waar jy kan stil bly. Sit die radio aan en tjoep stil. Ek loer na binne en daar blom die bekkie! Ok, jy wen ek gaan jou kos soek.

Vat die stoor se sleutels en stap met my pejossies (nagklere) na die stoor om ‘n spitvurk en bakkie te kry. 
Halfpad tussen die huis en die stoor steek ek vas en dink, wat maak ek as daar nou ‘n gas om die hoek kom en my in my pejossies vang? Ek wik en weeg, wie sal nou wakker wees? Stap met mening na die stoor, sluit oop en kry my wurm vang goeters. Ek stap na ‘n bedding waar ek weet baie wurms is en spit dat die blare spat, nee, die klein boggertjies kruip vir my weg, NIKS! As mens orgetiele soek dan is dit nie daar nie! Ek raak nou ergerlik en swets weer. Ek hoor vir sussie by die deur, "Mammie wat maak jy? " Ek roep haar om te kom help. So soek ons saam wurms, sussie raak ook moedeloos. Min besef ek waar staan die tyd. Ek sit nog so op my hurke en ons een werker kom om die skaap kraal se sleutels te kry. Ek bly maar sit en stuur vir sussie om die sleutels te gaan haal. Erg verleë kyk ek nie op en die ouman vra wat maak ek, ek verduidelik die storie. Nee, reken George hy sal by die rivier onder die brug vir my gaan wurms kry. Ek dink by myself “Jy is so aangeklam dat dit by jou agter ent gaan uit waai”. 

Sussie kom terug met die sleutels en die bakkie met wurms. 
Ek sê vir haar ons moet die wurmpies nou vat vir die voëltjie. Toe ek so afkyk in die bakkie raak ek sommer lam, die goedjies het ontsnap! Nee, ek was sommer moedeloos. Staan op en besluit dit is te vroeg vir wyn sal maar op die stoep sit en tee drink en ‘n nuwe strategie beplan. Ek sal maar iewers moet gaan wurms koop. Ons trek aan en maak reg vir kerk met sussie en die gediertetjie wat ewe veel kerm. Ek hou my doof, ek is nukkerig. Die agter deur klokkie lui en ek stap om soos ouder gewoonte die sleutel te gaan haal. Raai wat kry ek, ’n hele Stork bakkie vol vet glibberige wurms. Ou George stink so na drank dat ek hom sou gedruk het as hy skoon was. Gee hom ‘n R20 en sy smile sit reg rondom sy kop. Dus leer ek my les, Mamma voëltjies weet wat hulle doen. Ek is ‘n mense Mamma en maak kos in groot maat, nie vir pikkewouters nie. 

Annelien Pienaar se manewales!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking