Sondag, 18 Oktober 2015

ENGELE OM ONS!

Onlangs beseer een van my seuns hul been so erg dat ons moet hospitaal toe vir ekstrale en dinge. 
My man is op reis vir werk en ek moet inderhaas reëlings tref vir alternatiewe, om my te help met my ander twee filistyne wat moet agter bly. 

So sit ek in die ongevalle van ‘n groot hospitaal gewapen met my laptop en selfoon. 

Ek het klasse en besprekings vir die gastehuis aan oor twee dae en ek moet reëlings tref om die kliente te sorteer met die minste skommeling as moontlik. 

As ek nie op die laptop besig is nie, dan is dit die selfoon om my gastehuis bestuurder te order wie en wat kom die naweek in. 
Aflewerings wat ontvang word en ek moet ook die klas van die naweek skuif want dit lyk soos operasie sake. 
Ek reël akkommodasie so oor die foon vir myself en ek sit agtertoe en sluit my oë vir ‘n minuut en haal diep asem met die hoop dat die knop wat op my maag is, sal verdwyn. 

Ek is so vas in my eie gedagte gang, dat ek nie die klein vroutjie oorkant my raak sien nie. 

Ek dink ek het ook nie so sag gesels nie dus seker hoekom sy my hele petalje kon gadeslaan. 
Sy kyk my in die oë en vra:”’n Slegte dag?”. 
Ek rol die oë as bevestiging omdat my mond droog is en ek te moeg is vir praat. 
Die dame is baie spraaksaam en gaan my nie uitlos nie.
”Jy weet wat kort jy?”
Ek vra ‘n woordelose vraag met die optrek van die skouers.
Sy antwoord:”Non-chalante-fok-jou-tisme pille”
Ek dog ek stik my dood van die lag.

Die trane loop oor my wange van die lag, maskara strepe sit soos ‘n teken van ‘n somer stortbui op ‘n Westransvaalse vlakte. 

Die lag gaan oor in huil, die hele dag se stres loop oor my wange. 
Die vroutjie kom sit langs my en hou my hand vas. 
“Mevrou, ek wou jou net op cheer!” 
Ek gee haar hand ook ‘n drukkie terug. 
Haal weer diep asem en vra haar verskoning vir my ongeskiktheid om nie te wil praat nie. 

Ek nooi haar om saam met my gou koffie en ‘n broodjie te kry. 

Ek het die vorige aand laas geëet en nie besef ek is vodde moeg en erg honger nie. 
Ons gaan terug wagkamer toe en ons gesêls toe een stryk deur om die wag toe sommer vinnig oor te kry.

Ek vra haar toe uit oor haar rede vir die besoek by ongevalle, toe is dit haar beurt om stil te raak. 

Sy wys met haar hande na haar plat bors en vertel die steke van die mastektomie het los getrek en sy moet nou wag vir iemand om die wond skoon te maak. 
Sy het geen hulp tuis nie en die wonde is 2 weke oud. 
Ek sien die kussingkie onder die arm en die geswelde hand. 
Ek vra haar uit oor die versorging van die wond en hoekom die hand so geswel is. 
Sy doen al haar werk self vir haar en haar man. 
Tyd vir siek wees is daar nie.
 In my hart krimp alles in een, sy het reeds skade aan die limf met die gewoel en wikkel. 
Besef sy nie die waarde van die nasorg nie? 
Dan besef ek, tyd vir jouself is 'n luukse, in haar geval spandeer sy dit aan haar huishouding en haar mense se versorging. 
Ek wens ek het 'n tower staffie gehad om haar omstandighede te kon verbeter.
Ek vertel haar toe my storie van kanker en ons ruil nommers uit! 
Ek het die flikkering in haar oog gesien toe ons gesels en sy my weer uitvra oor my pad, sy kan sien ons is beide pakkies wat langs mekaar sit, die inhoud van ons verhaal verskil net maar pakkies dra ons saam! 

Sien, mense kom met 'n rede oor jou pad! 

Moenie blind wees vir jou eie moleste nie maar kyk met 'n ander bril na situasies.

Engele is oral om ons gesaai!


BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking