Sondag, 11 Oktober 2015

DIE STOFPAD AVONTUUR

Ek woon tans weer in die dorpie waar ek groot geword het, Skeerpoort.
En as ek na hierdie foto kyk neem dit my baie jare terug.

Op ‘n Maandag, Woensdag en Vrydag het die trokkie verby gekom.
Ma het jou bo na die pad toe gestuur met ‘n mandjie en ‘n lysie.
Daar het ons hop-scothch en klippies gespeel totdat die Oom met sy trokkie verby gekom het.
Elke boom, gat en klip het jy geken terwyl jy wag.
Daar was in die winter sulke snaakse sade wat ons onder die tong gesit het en dan skiet dit so oop. Die saad binne in was neuterig en heerlik.
Ons het pyltjies gespeel met die gras sade wat in blom was, lekker gejeuk ook!
Daar was ook botter klappers in die somer maande wat ons op die klippe oop gekap het en dit op die plek geëet het.
Daar was ook moepels en drolpeer.
Soms het dit begin rëen as jy daar staan, dan moes jy vir die vale keer dat die kleiner kinders wat saam met jou staan en wag, nie onder die bome gaan staan vir skuiling nie, die weerlig was maar erg so in die randte rondom ons.
Ma het net een keer per week dat ons pad toe gaan, sy het baie goed beplan met haar aankope.

Soms het ons met ons fietse na die pad gery as die kleintjies nie wou saam gaan nie.
Dan het ons behoorlik pret gehad.
Ons fietse was nog van daardie soort wat agter toe getrap het as jy moet briek, dus as die ketting afval is jy in jou .... kanon!
My fiets het altyd geblink, ja dit was soms modder en stof pad maar sy was pers en sy was skoon. Eending van ‘n fiets wat nie op ‘n plaas werk, is ‘n modderskerm want waar ek gerits het, het die ding getjirrrrr tot ek besluit het om dit self te verwyder.
Natuurlik tot my Ma se ergenis weens al die modder agter teen die broek en hemp as ons so deur die poele gejaag het.
Daar was nou een afdraende wat ek en my sus nie kon weerstaan nie, dit het by die asgat verby gegaan en net reg oor dit was ‘n hengse truksvy bos!
Ja, jy het reg geraai, ons het vele kere die bos getref as die ketting afval wanneer ons so oor die klippe en gate jaag.
Dan smeer Ma ons vet en begin krap met die pens lepel vir afval skrop.
Daarna moes ons ons hande, voete, knieë en elmboë met Ma se bruinsuiker, vaseline en heuning skuur sodat die rooi grond uit ons velle kan gaan en ons sag kan wees soos dit ‘n dogtertjie betaam voor Sondag se kerk.

As die Oom met sy trokkie gekom het, het ek altyd seker gemaak Mamma se goedjies word eerste gekoop en dan het ek vir my met 5c ‘n hele sakkie vol “chappies” gekoop.
Daardie soort met die apie op.
My gunsteling was die groot vet pienkes, ek het dit Vicks chappies genoem, maar hulle was duur, dus het ek net een maal in drie maande geldjies gespaar dan koop ek daai sakkie vol.
Ek het net die helfte van die groot stafie geëet sodat dit langer kon hou.
My sussies kon net nie spaarsamig met hul kougom werk nie en het hul kieste vol gestop.
Ek het dit een keer gedoen en my kake was so seer dat ek dit nie weer gedoen het nie.
Die Oom het ook Coke in glas botteltjies verkoop en ek het altyd as ‘n groot bederf gesien as ek een kon koop.
Ek het die snaakste ding gedoen, in die winter het ek my nartjie skywe plat gedruk en dan in die bietjie Coke wat oor was gedruk, die smaak was toe vir my verslawend!

Vandag stap ek die stofpad en geniet dit om te sien hoe die mense van die stede hier kom kuier en met hul fietse die wêreld vol rits op die grondpad waar ek met perd en fiets baie geval het, op gestaan het en elke dag ‘n nuwe avontuur beleef het!

Ek is skatryk aan die wonderlikste herinneringe en alles is gemaak op Skeerpoort en sy stofpaaie!

My storie: Annelien Pienaar, 2015.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking