Donderdag, 01 Oktober 2015

CHOC-CHIP HAWERMOUT KOEKIES

Met hierdie koekie het jy die beste van beide wêrelde, die soet met die gesond gemeng.  Dit is ‘n goed gebalanseerde soetheid met ‘n tikkie growwigheid om die soet mee weg te vee.

Klein handjies kan sommer gou gou bedrewe raak en Mamma en Ouma bystaan met die maak van hierdie koekies!


Ek eksperimenteer baie met die verskillende soort bruin suiker op die mark.  
Ek het al van lig tot donker gebruik, Muscavado en Treacle natuurlik my gunsteling. Onthou net, die kleur gaan verskillend uitkom! Hierdie koekie is bros aan die buite kant en sag in die binnekant. As jy 'n bros koekie wil hê moet jy die bruinsuiker vervang met gewone witsuiker. Lees die artikel oor wenke met koekies bak.

RESEP
115 g Koekmeel
½ t Koeksoda
¼ t Bakpoeier
115 g Bak margarien
115 g Strooisuiker
90 g Bruin suiker
1 Eier
½ t Vanielje geursel
75 g Hawermout pap
1 k Sjokolade splinters
knippie Sout
Mielieblom vir panne

METODE 

1. Voorverhit oond na 180 ˚ C. Smeer 4 oondpanne vooraf met botter en sprinkel met mielieblom.

2. Sif die koekmeel, koeksoda, bakpoeier en sout saam in ‘n mengbak.

3. Klits die bruinsuiker en strooisuiker saam met die botter tot lig en donsig. Voeg dan die eier en vanielje geursel by en klits weer totdat die mengsel lig en donsig is.

4. Meng nou die koekmeel by die mengsel in.

5. Voeg die sjokolade en hawermout by. Druk die deeg verder met die hand aan mekaar. Die deeg moet bros en krummelrig wees. Skep die grootte van jou keuse uit met jou roomys scoop of afmeet apparaat van keuse. Ek maak altyd vir kersfees se geskenk pakkies sulke lekker groottes soos ‘n piering!

6. Plaas ver uit mekaar op die bakplaat sodat dit kan versprei. Bak vir 15 minute totdat die kante begin bros word en die middel sag is. Dan het jy die perfekte koekie.

7. Verwyder van bakplaat en plaas op afkoel rakkies.

8. Versier verder met gesmelte sjokolade in variasie van kleure of eet dit net so!

HOEVEELHEID: 60 koekies as 5 ml lepeltjie gebruik word.

BRON: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking