Saterdag, 31 Oktober 2015

GEMMERSTUKKE IN STROOP OF VERSIERSUIKER

BEGINSEL
Die gemmerstukke word eers baie sag gekook deur middel van ‘n stoompot, of as jy nie so iets het nie, ‘n slow cooker. 
Hierdie proses neem nogal tyd. 
Met die stoompot moet die proses tot 4 keer gedoen word of totdat ‘n vuurhoutjie maklik deur die gemmerstuk steek. 
Met die slow cooker oor 2 dae gedoen.

Daarna word die gemmer gekook en dan gelos in stroop vir 4 - 6 keer een keer per dag sodat die stukke letterlik die stroop kan indrink en ook helder en deurskynend word. 

Dit is gewens om liefs jong wortels te gebruik dan is die vesels nog nie so hard nie. 
Dus as jy geduld het is hierdie ‘n treffer. 
Spesialiteits winkels sal vuis slaan vir hierdie lekkerny.

Verder kan julle met dieselfde beginsel versuikerde gemmerstukke maak. 

Dis net die laaste dag wat dinge anders verloop, ek sal dit in die wenke aan die einde van die metode aanheg.
Dit is ook belangrik om ingedagte te hou hoe kleiner die kooksel wat jy maak hoe gouer verdamp die vog. 
Dus beveel ek aan dat julle nie minder as 1 kg op ‘n slag kook anders maak julle gemmer toffie.
Die kastrol wat julle gebruik moet liefs nie‘n te groot bodem hê nie, verkieslik die stoompot se kastrol.

RESEP
45 ml Koeksoda
5 liter Water - vir koeksoda - water word later weg gegooi
1 kg Gemmer stukke
1 kg Suiker
1.5 liter Water - stroop maak
2 ml Kremetart

METODE
1. Skil, prik en sny gemmer in stukke of skywe of laat heel bly.
Die rede vir die prik is om die vesels sag te maak sodat dit maksimaal die stroop kan absorber.
Baie belangrik dat dit BAIE goed gedoen word en dat die steke deur die stukke gaan.

2. Maak die gemmer bros deur dit oornag in die koeksoda water te laat lê.
Spoel die volgende dag goed af en laat in skoon water rus vir 2 ure om uit te vars.

3. Kook die gemmer sag in stoompot vir 4 - 6 keer of totdat jy ‘n vuurhoutjie se agterkant met gemak deur die vleis kan druk.
Moenie die water waarin die gemmer gekook word weg gooi nie, al die geur sit daar en word aan gevul met gewone water tot die regte maat verkry word vir die kookproses.
Syg deur kaasdoek om stukkies te verwyder.

4. Voeg die water, suiker en kremetart by mekaar en laat stadig oplos by lae hitte.
Stroop mag nie kook voordat al die suiker nie opgelos het nie.
Onthou om die kante van die kastrol met ‘n kwassie af te was om kristal vorming te voorkom.
Laat die stroop 5 minute kook sodra die suiker opgelos is.

5. Sit die gemmer bietjies vir bietjies by die kokende stroop.
Die stroop moet die heeltyd bly kook terwyl jy die gemmer byvoeg.
Kook die vrugte vir 30 minute by baie vinnig en laat 24 uur in stroop staan.

6. Verwyder gemmerstukke en verhit stroop tot kookpunt.
Voeg weer die stukke bietjies vir bietjies by terwyl die stroop bly kook.
Kook vir 30 minute matig vinnig.
Laat weer 24 uur staan en herhaal die proses tot 6 keer of totdat die gemmerwortels deurskynend raak.

7. As ek nie versuikerde gemmerstukke gaan maak nie, dan bottel ek die stukke in die oorblywende stroop, verkieslik warm.

HOE OM VERSUIKERDE GEMMER TE MAAK 
1. Nadat jy die bogenoemde stappe gevolg het, laat die gemmer op ‘n draadrak droog word totdat die oppervlak net effens klewerig voel.
Die oppervlak moet net klam genoeg wees dat die suiker kan vassit en nie so nat dat dit sal oplos nie.

2. Rol die gemmer stukke in suiker sodat dit eweredig met die suiker bedek is.
Ek laat dit ‘n dag staan om verder te droog en verpak dit dan in glas botteltjies

BRON: Hierdie resep is ‘n aangepaste weergawe van Naceema Patel se oorspronklike resep.
‘n Baie talentvolle en beskeie Moslem vrou in my gemeenskap met ‘n onuitputlike bron van kennis en ervaring.

2015. www.bosenbergguestfarm.co.za

VIS EN UIERINGE MET 'N BIERBESLAG

Wat is nou lekkerder as 'n vars stukkie vis in 'n bierbeslag so langs die strand! My Ma het altyd vir ons vars seevis gebak en dan uie ringe. Maak seker dat jou olie goed warm is sodat dit nie olie trek as dit gebak word nie. Geniet!

RESEP
200 ml Bruismeel
50 ml Mielieblom (maizena)
250 ml Bier
½ t Sout
4 Stukkies vis - ontdooi of vars
1 - 2 Groot uie - in dik ringe gesny

METODE
1. Voorverhit die olie vir die braai van die vis en uie ringe.

2. Meng die bruismeel, mielieblom, bier en sout saam. Klits goed deur met ‘n whisk om die beslag so glad as moontlik te kry.

3. Doop die vis in die beslag en braai dadelik totdat die vis goudbruin is. Doop dan ook die uie ringe in die beslag en baai.

4. Bedien met bottersous, skyfies en slaai.

BOTTERSOUS
2 Suurlemoene se sap en 1 se skil gerasper
5 Knoffel toontjies - fyn gedruk
250 g Botter
1 tl Dill tippies

METODE
1. Smelt die botter en voeg die suurlemoensap, knoffel en dill by die botter. Roer die suurlemoenskil by. Bedien oor vis.

2. Die sous mag dalk dik word, verhit net effens om dit weer loperig te kry.

English Version

RECIPE
200 ml Self raising flour
50 ml Corn flour (maizena)
250 ml Beer
½ tsp Salt
4 Pieces of fish - thawed or fresh
1 - 2 Big onion - cut into thick rings

METHOD
1. Preheat the oil to fry the fish and onion rings.

2. Mix the flour, cornstarch, beer and salt.  Beat thoroughly with a whisk to get the batter as smooth as possible.

3. Dip the fish in the batter and fry immediately until the fish is golden brown.  Dip the onion rings in the batter and fry.

4. Serve with butter sauce, chips and salad.

BUTTER SAUCE
2 Lemons juice and 1's zest grated
5 Garlic cloves - crushed
250 g butter
1 tsp Dill tips

METHOD
1. Melt the butter and add the lemon juice, garlic and dill.  Stir in the lemon zest.  Serve over fish.

2. The sauce may thickened, just heat it slightly to get it runny again.

QUANTITY: 4 servings.


SOURCE: Annelien Pienaar. www.bosenbergguestfarm.co.za, 2015

HOEVEELHEID: 4 porsies.


BRON: Annelien Pienaar. www.bosenbergguestfarm.co.za, 2015


Donderdag, 29 Oktober 2015

ROOSMARYN EN SUURLEMOEN SKAPIE

In die dorpie waar ek groot geword het was daar ‘n Oom by wie ons baie gaan braai het. Hy was volgens my die beste skaap braaier ooit! Hy het die tjoppies en ribbe met vars roosmaryn wat fyn opgekap is ingevryf en dan oor die kole gebraai. As die vleisie halfpad gaar is het hy dit in ‘n swaarboom pot gesit en dan met suurlemoensap bedruip en verder gaar gemaak. Vandag sit ek die tradisie voort. Oom Smit is nie meer met ons nie, maar ek dink elke keer aan hom as ek ‘n tjoppie eet!

RESEP
12 Skaap tjoppies of lamsrib
4 Roosmaryn takkies - fyn opgekap
2 e Knoffel - fyn
Olyfolie
4 Suurlemoene
Sout en peper na smaak

METODE
1. Stroop die roosmaryn takkies af en kap die groen blaartjies redelik fyn op. Meng met knoffel en genoeg olie om dit smeerbaar oor die lams tjoppie of ribbe te maak. Smeer die vleis goed in met die mengsel en voeg nog olie by as dit nodig is. Laat staan oornag of vir 2 ure.

2. Braai die vleis op ‘n oop vuur of onder die grill van die oond. Sodra dit halfpad gaar is sprinkel met die suurlemoensap en vryf met die suurlemoen se oop kant oor die tjoppie. Los sommer die suurlemoen so op die vleis vir ekstra geur terwyl jy braai.

3. Verwyder die vleis van die vuur en sprinkel dan met sout en peper na smaak. Ek hou daarvan om die sout laaste oor te sit omdat sout altyd geneig is om die sap uit die vlies te trek en dit dan droog te maak.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Woensdag, 28 Oktober 2015

KHULFI - INDIESE SPESERY EN NEUT ROOMYS

Ek het hierdie ongelooflike lekker roomys geleer eet by ‘n Indiese vriendin van my.  Sy het die basis resep vir my gegee en ek het bietjie kinkels bygesit. Dit is soet en romerig en gepak met neute. Ek gebruik enige neut wat ek in die hande kan kry. Dus moenie dat dit jou stop om dit te maak nie, selfs goeie kwaliteit grondbone werk ook lekker.

Daar is verskei maniere wat roomys gemaak kan word en die grootste kopseer is om die mengsel gevries te kry. Ek maak my eie roomysmaker soos volg: Basies maak jy 'n soutwater oplossing wat in 'n bak geplaas word en nog 'n leë bak van dieselfde grootte word dan met 'n gewig bo-op in die onderste bak geplaas. Hierdie is nou waar ons die roomys maker mimiek. Plaas die bak versigtig in die vrieskas en vries tot kliphard. Sout oplossing: 1 liter water met 200 g sout. Onthou nie almal se bakke is ewe groot nie. So jy mag dalk vir die onderste bak meer soutwater nodig kry. Plaas dan jou klaar roomysmengsel in die koue bak en bly roer met ballon klitser totdat die gevries het of jy kan met 'n handmenger ook klits. Dit is belangrik om te klits om sodoende die yskristalletjies fyner op te breek. 

RESEP
110 g Pekans of amandels of macadamia neute - ongesout
50 g Pistasie neute (pistacio) of grondbone - souterige neute
410 g Blik Ideal melk
60 ml Mielieblom (maizena)
Kaneel stokkie
1 Blikkie Kondensmelk
250 ml Room
10 ml Vanielje geursel of enige likeur van keuse

METODE
1. Plaas die neute op ‘n bakplaat en rooster vir 5 minute in die oond op 180 ˚ C.
Haal uit en laat afkoel.

2. Maak die mielieblom aan met die helfte van die Ideal melk.
Verhit die ander helfte van die Ideal melk tesame met die kaneel stokkie.
Voeg nou die aangemaakte mielieblom by die kokende melk en roer met whisk deur om aanbrand en klonte te voorkom.
Kook oor matige hitte vir 3 - 4 minute totdat dit verdik het.

3. Verwyder van hitte en roer die kondensmelk by en meng deeglik. Gooi nou die res van die bestanddele by en meng weer deeglik.

4. Skep uit in ‘n bak geskik vir vries.
Ek neem altyd ‘n metaal bak wat koue goed gelei en dan vries die mengsel ook vinniger.
Jy moet elke 30 minute die bak uithaal en vir 3 minute lank klits om die yskristelletjies fyner op te breek.
Hou so aan totdat dit soos slush puppy lyk.
Los dan om heeltemal te stol.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

GESONDE HOENDERSLAAI BROODJIE

Hoenderslaai broodjie
As daar nou een gereg is wat ek geniet tydens die warm somers hier bo by ons in Noorde, dan is dit slaai. Maar soos almal verval mens gereeld in ‘n groef, sodat jy later nie ‘n groen slaai meer in die gesig wil kyk nie! Dan maak die boer ‘n plan en maak daarvan ‘n ligte maaltyd. Ek is nie ‘n groot eter van nature nie en hou van peuselkos. 
As ek broodjies maak dan val dit onder peuselkos en daarom hou ek van piekniek mandjie pak. Ons kuier vir ure onder by die dam en jy pik die heeltyd in die mandjie vir ‘n snoep happie.

Omdat ek lief is om my eie brode te bak, knie ek meer as een maal per week my eie brood. 

Ek werk net met sourdoug en as jou plantjie eers aan die gang is, kyk jy nie terug nie, die eeg leef voort. Maar vir julle wat haastig is en nie dae kan wag vir ‘n broodjie om te ontwikkel nie stel ek die onderstaande resep voor. Ek geniet my mini Baugette’s en Panini (baba boetie van Ciabata) om op te tooi met slaai, kaas en vleisies vir ‘n alles in een dis.

RESEP VIR BROODJIE
1 kg Koekmeel of 500 g koekmeel en 500 g Nuttywheat om dit 'n bruin broodjie te maak.
10 ml Sout
20 ml Suiker
1 sakkie Kits gis
50 g Botter of bak margarien - gesmelt
500 ml sterk Louwarm water
150 ml sterk Louwarm melk

METODE
1. Sif die koekmeel, sout en suiker saam.

2. Voeg die kits gis by en neem ‘n ballon klitser en mend dit goed deur sodat die gis eweredig versprei word.

3. Meng die botter, warm water en melk saam en voeg by die droë bestanddele.
Knie die deeg met die hand vir 10 minute totdat dit glad en elsties is.
Die deeg se bo kant moenie soos selluliet boude lyk nie.
Dit moet mooi ferm wees!
As jy met ‘n staan menger knie, gaan dit na ongeveer 5 minute gereed wees.

4. Smeer die deeg se bokant met olie en bedek met kleefplastiek.

5. Laat die deeg vir 30 minute op ‘n warm plek staan of maak dit toe met ‘n kombersie.
MOENIE die deeg in die son sit nie, die son sal die gis doodmaak.

6. Haal die deeg uit die bak en vou die deeg oor mekaar om van die lug uit te kry.
Dit is nie ‘n boks geveg nie!
Verdeel die deeg in 200 g porsies om jou broodjies mee te vorm.
Sien die tabelle vir idees hoe om jou broodjies te vorm.

7. Laat die broodjies eers weer rus en bedek dit om dubbel die volume te rys vir nog 30 minute.
Voorverhit solank die oond na 230 ˚ C en plaas ‘n oondpan op die vloer van jou oond om solank baie warm te word.

8. Sodra die broodjie gereed is om gebak te word.
Smeer die broodjies met geklitste eier en sprinkel met sade, kaas, neute, kruie van keuse, selfs koekmeel.

9. Sodra jy voor jou oond staan moet al die panne voor jou lê.
Gooi 10 ysblokkies in die onderste pan, dit gaan onmiddellike stoom veroorsaak.
Jy het dit nodig om te keer dat jou korsies te vinnig hard word.
Dit help jou broodjie baie hoër rys as normaal.

10. Bak die brood vir die eerste 5 minute by 230 ˚ C en dan by 200 ˚ C vir nog 15 minute as dit klein handbroodjies is.
Vir groot brode sal ek by ‘n egalige temperatuur bak van 200 ˚ C vir 35 minute.

11. Laat op draadrakkies afkoel.

PAK VAN BROODJIE 
2 Hoender borsies - gaar en in blokkies gesny
2 kop Kool - gesnipper
1 kop Granny Smith appels in blokkies - ongeskil
2 Seldery stingels - in baie fyn ringe gesny
¼ k Neute
½ k Lae vet mayonnaise
½ k Lae vet joghurt - appelkoos
Sout en peper na smaak
Mozzarella skywe
Avokadopeer skywe
Slaai blare van keuse

Die vulsel is genoeg vir 2 mense.

METODE
1. Meng al die bestanddele met mekaar en hou die mozzarella skywe, avokadopeer en slaaiblare eenkant.

2. Moenie die broodjies met botter smeer nie want die mayonnaise het reeds genoeg olie in.

3. Pak eers ‘n lagie slaai blare, avokadopeer, mozzarella en dan die hoeder vulsel en eindig af met slaai.
Hierdie broodjie kan op ‘n oop broodjie of ‘n toe broodjie gepak word.

4. Lekker eet!

BRON: Annelien Pienaar.  2015,www.bosenbergguestfarm.co.za


Dinsdag, 27 Oktober 2015

BKT FREEZO KOFFIE!

Dit was weer bloedig warm vandag en niks kan my kokende siel so laaf soos ‘n Freezo. My vriendin, Dalene Berg, het my eendag ‘n happie van haar Freezo by ‘n bekende koffie winkel gegee en ek was verslaaf. So het ek bly speel met ‘n resep totdat ek by hierdie een uitgekom het. Voorwaar ‘n fees vir die smaak kliere!

RESEP
25 ml Douwe Eggberts of enige goeie kwaliteit koffie korrels
150 ml Kondensmelk
100 ml Water
100 ml Ideal melk
30 Ysblokkies
2 ml Vanielje of karamel geursel
25 ml Amarula of Cape Velvet - opsioneel

METODE
1. Plaas die ys in ‘n vadoek en kap dit met ‘n mallet of rolstok in kleiner stukkies.
Ek doen dit om my voedsel verwerker se lem skerp te hou.

2. Plaas dan die ys saam met al die bestanddele in die voedsel verwerker en blitz totdat dit super fyn en egalig is.

3. Skink in twee verkoelde glase, so sal die drankie vir langer gevries bly.

HOEVEELHEID: 750 ml.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Maandag, 26 Oktober 2015

GEDIERTETJIES EN ORGETIELE!


Die Filistyne se dermpies is sommer vroegaand gestop en nou is daar tyd vir kuier en klets op die blad. 

Tydens saterdag se lekkergoed klas het ‘n voëltjie uit een van die hoë bome geval. 
So stap ek met die liederlike dingetjie in my bakhand af om die kinders werk te gee! Siestog, die ogies is toe en die vere min. Al wat jy sien is die bekkie wat na bowe gaan en soos ‘n diamantjie oopmaak en vra vir ‘n kossie. Van die klasmaters het baie voorstelle grappig gemaak wat om met die dingetjie te doen maar katkos was nie op die lys nie! Dit is ‘n gesoek en skrop later die aand om wurmpies te soek vir die dingetjie. Die groot tiener seuns het geen erg aan die bondeltjie wat so piep en sussie is vreeslik ingenome met die speelding. Sy weet sy mag nie vat nie, maar druk wel die kombersie snoesig om die dingetjie toe binne in die skoendoos.

Ons gaan slaap met die piepende lyfie in ons kamer en sussie op ‘n matrassie omdat dit naweek is. Sondag oggend 05h00 tjirp die gedoentetjie my wakker, ek kyk dit met een oog aan en dink, ek wil slaap, sjusssh! 
Nee, hy is honger en hou nie op nie, ek pomp pappie in die ribbes maar nee, hy is moeg en draai om. Hy gaan nie op ‘n sondag oggend loop wurms soek nie. Ek staan traag op en gluur die dingetjie aan. Val oor sussie wat langs my bed lê en vloek ‘n paar woorde. Strompel na die alarm en sit af. Soek my skoene en stap met mening kombuis toe met die gedroggie in sy boksie soos ‘n rugby bal onder die arm. Waar gaan ek jou nou sit waar jy kan stil bly. Sit die radio aan en tjoep stil. Ek loer na binne en daar blom die bekkie! Ok, jy wen ek gaan jou kos soek.

Vat die stoor se sleutels en stap met my pejossies (nagklere) na die stoor om ‘n spitvurk en bakkie te kry. 
Halfpad tussen die huis en die stoor steek ek vas en dink, wat maak ek as daar nou ‘n gas om die hoek kom en my in my pejossies vang? Ek wik en weeg, wie sal nou wakker wees? Stap met mening na die stoor, sluit oop en kry my wurm vang goeters. Ek stap na ‘n bedding waar ek weet baie wurms is en spit dat die blare spat, nee, die klein boggertjies kruip vir my weg, NIKS! As mens orgetiele soek dan is dit nie daar nie! Ek raak nou ergerlik en swets weer. Ek hoor vir sussie by die deur, "Mammie wat maak jy? " Ek roep haar om te kom help. So soek ons saam wurms, sussie raak ook moedeloos. Min besef ek waar staan die tyd. Ek sit nog so op my hurke en ons een werker kom om die skaap kraal se sleutels te kry. Ek bly maar sit en stuur vir sussie om die sleutels te gaan haal. Erg verleë kyk ek nie op en die ouman vra wat maak ek, ek verduidelik die storie. Nee, reken George hy sal by die rivier onder die brug vir my gaan wurms kry. Ek dink by myself “Jy is so aangeklam dat dit by jou agter ent gaan uit waai”. 

Sussie kom terug met die sleutels en die bakkie met wurms. 
Ek sê vir haar ons moet die wurmpies nou vat vir die voëltjie. Toe ek so afkyk in die bakkie raak ek sommer lam, die goedjies het ontsnap! Nee, ek was sommer moedeloos. Staan op en besluit dit is te vroeg vir wyn sal maar op die stoep sit en tee drink en ‘n nuwe strategie beplan. Ek sal maar iewers moet gaan wurms koop. Ons trek aan en maak reg vir kerk met sussie en die gediertetjie wat ewe veel kerm. Ek hou my doof, ek is nukkerig. Die agter deur klokkie lui en ek stap om soos ouder gewoonte die sleutel te gaan haal. Raai wat kry ek, ’n hele Stork bakkie vol vet glibberige wurms. Ou George stink so na drank dat ek hom sou gedruk het as hy skoon was. Gee hom ‘n R20 en sy smile sit reg rondom sy kop. Dus leer ek my les, Mamma voëltjies weet wat hulle doen. Ek is ‘n mense Mamma en maak kos in groot maat, nie vir pikkewouters nie. 

Annelien Pienaar se manewales!


GOLDEN OLDIES - TUISGEMAAKTE LEKKERGOED SOOS OUMA DIT GEMAAK HET!

Spoon Fudge en Karamel Toffie
Wat kan mens sê as jy goud ontdek? Wel, dit smaak my 'n engel het op my tong gepiepie! 
Johan Lombard is die eienaar en baas brein agter Golden Oldies en maak ongelooflike tuisgemaakte lekkers. 
Hy het my bederf met 'n pakkie van sy handgemaakte lekekrs en die verpakking is uiters professioneel en netjies afgewerk. 

Toe ek die eerste hap gee van die Karamel toffie met sy sjokolade smaak, kon ek ongelukkig nie ophou en het al drie die vingers binne minute verorber. 
Die Spoon fudge is fluweel sag en die twee lagies binne in die botteljie was 'n smaak reis van sy eie. Regtig waar 'n produk waarop Johan baie trots kan wees. 

Indien jy van hierdie lekkernye en nog vele meer van Johan Lombard wil bestel, wel die nommer is op die etiket!
Die Baas brein agter Golden Oldies!

KLONTVRYE WITSOUS

Kaas en biltong sous
Daar is niks so frustrerend soos witsous maak, veral as jy klonte kry as jy dit maak. Deur die jare het ek al slim geraak en maak met groot sukses op die stoof asook in die mikrogolfoond witsous, net soos ek my vla sou maak. Dus dieselfde tegnieke is van toepassing.

WAT IS 'N ROUX?

Nee dit is nie ‘n van nie!  Dit is die begin gedeelte van ‘n witsous. Die botter word eers versigtig gesmelt. Die botter mag nie aanbrand as jy begin nie of van kleur verander nie. Jy kan botter met enige BAKE bargarien vervang. Jou gewone smeer margarien gaan nie werk nie. Jou sous sal nie verdik nie. Hoekom? Want smeer margarien het minder olie partikels in en meer vog. Die doel van die botter in die roux is om elke meel korreljie letterlik te smeer reg rondom, sodat dit nie aan mekaar sal vas sit as jy vog by sit nie (in hierdie geval die melk). Daarom sal jy nie klonte kry in jou sous nie. In kort word die botter eers gesmelt en dan word die koekmeel bygevoeg en met ‘n whisk gemeng om te help dat al die meel deeltjies (stysel korrels) gesmeer word. Soms dui die resep aan dat die mengsel vir 1 - 2 minute nog gekook word voordat die melk bygevoeg word. 

VOLGENDE? 

Die melk word dan by die mengsel in die kastrol gevoeg en dan word die kastrol nie vir ‘n oomblik alleen gelaat nie. Jy roer die heeltyd met jou whisk totdat die mengsel begin borrel en jy kan dadelik voel met die whisk of daar nog dele onder in die kastrol besig is om te verdik.

HIER IS 'N TABEL VIR DIE VERSKILLENDE DIKTES WITSOUS
                            DUN WITSOUS     MATIGE WITSOUS      DIK WITSOUS
BOTTER             20 ml (20 g)             30 ml (30 g)                      50 ml (50 g)
KOEKMEEL        20 ml (10 g)             30 ml (20 g)                      50 ml (40 g)
MELK                 250 ml                     250 ml                             250 ml
SOUT                 2 ml                  2 ml                                3 ml
PEPER               na smaak                 na smaak                        na smaak

METODE

1. Smelt die botter in ‘n kleefvrye kastrol en voeg die koekmeel by. Meng die mengsel deeglik met ‘n draad whisk sodat al die meel goed bedek is met die botter. Doen dieselfde proses in die mikrogolf oond maar net vir 30 sekondes of totdat die botter gesmelt is.

2. Voeg die melk by en begin dadelik met die whisk in die rondte te klits totdat die mengsel begin verdik. 
Laat die mengsel vir minute nadat dit volkome verdik het nog kook en haal van die plaat af. Plaas die mengsel met die melk wat goed deur geklits is met whisk vir 1 minuut terug in die mikrogolfoond, stop haal uit en roer met whisk, hou aan om elke minuut te stop, meng, totdat die mengsel verdik het. Sal ongeveer 5 - 8 minute neem.

3. Die sous kan nou omskep word in ‘n sampioen sous, uie sous, room sous, biltong sous,  knoffelsous, kaas sous en peper sous, voeg by en proe soos jy aangaan. 
As jy byvoeg hou by 1 koppie gaar groente soos uie, sampioene ens. Maar smaak verskil jy kan dalk van meer of minder hou.

HOEVEELHEID: 250 ml.


BRON: Annelien Pienaar. www.bosenbergguestfarm.co.za, klasse



Sondag, 25 Oktober 2015

VINNIGE KAASKOEK GENOT

Hierdie resep kan met enige vrugte van jou keuse gemaak word en dan met die bypassende kleur jellie. Dus kan jy van pers (moerbeie), groen (kiwi), blou (bessies, druiwe), pienk (kersies, aarbeie), geel (sitrus, perskes, mango, papaja) basies al die kleure van die reënboog kan ‘n kaaskoek pakkie maak! Jy sal die gewildste gasvrou ooit wees met hierdie treffer nagereg of tee tyd verassing.

RESEP
15 ml Gelatien korrels gespons oor 50 ml kraan water
1 x 410 g Blik Kondensmelk
125 ml Vars suurlemoensap
250 g Roomkaas - NIE maaskaas
15 ml Suurlemoenskil
50 ml Melkpoeier aangemaak met 100 ml kook water
250 ml Room
2 pakkies Nutti krust koekies - fyn gestamp

METODE
1. Plaas 50 ml water in ‘n glasbakkie en sprinkel die gelatien oor die water.
Laat dit staan totdat dit soos rubber lyk.

2. Meng die kondensmelk, suurlemoensap en suurlemoenskil saam en klits met elketriese menger goed deur.

3. Voeg nou die roomkaas en aangemaakte melkpoeier by die kondensmelk mengsel en klits totdat glad en egalig.

4. Smelt die gelatien in die mikrogolf oond versigtig en hou dit dop.
Dit sal soos stroop lyk as dit gereed is en moenie kook nie.

5. Nou gaan jy ‘n snaakse ding doen.
Jy gaan terwyl jy die room styf klop die gelatien in ‘n dunstraaltjie by die room in klits.
Dit gaan die room sy volume in die einde laat behou en ook baie sponsagtig maak.
Die kaaskoek gaan veerlig wees.
Dus as jy ooit room wil stabiliseer vir koeke wat moet vervoer word en jy is bang dit smelt dalk, hier is jou noodhulp!

6. Vou nou die styf geklopte room by die mengsel in en plaas eenkant om effens te verdik.
As dit ‘n baie warm dag is plaas dit in ‘n dubbel koker gevul met ys, dit moet nog nie set nie maar die room moet ook nie pap gaan van die hitte nie, anders verloor die mengsel sy sponsagtige tekstuur.

7. Vat mooi deursigtige bottels met wye nekke of pragtige glasbakkies en skep van die koekie krummels onder in.
Skep dan van die kaaskoek mengsel in.
Jy kan verskeie lagies soos jy goed dink pak..

8. Rond af met jellie aarbeie

AARBEIE EN JELLIE BOLAAG 
2 Pakkies Aarbei jellie
250 g Vars aarbeie - in die helfte gesny

METODE
1. Maak die aarbei jellie aan soos op die pakkie aangedui.
Gewoonlik is die pakkies in 80 g mates en word met 125 ml warm en 125 ml koue water gemaak, trek asb 25 ml per warm en 25 ml per koue water af.
Die suur van die aarbei bolaag mag dalk verhoed dat die jellie stol.
Dus moet ons die gelatien help in die jellie mengsel om sy werk te kan doen teen die suur wat teenwoordig is.
Laat die jellie so dik word soos stroop in die yskas.
Pas dit asb mooi op.
As dit dalk oor die stroop fase gegaan het, plaas in warm water om weer loperig te word.

2. Voeg nou die aarbeie by die stroperige jellie mengsel en skep bo op die kaaskoek mengsel en verkoel totdat dit benodig word.
Versier met vars kruisement takkies, kersiers, aarbeie ens.

HOEVEELHEID: 4 porsies.


BRON: Annelien Pienaar. boerekostwist@gmail.com, klasse


FOTO: Geleen op Pinterest.

HOENDER EN SAMPIOEN SOUT TERT

Soms gebeur dit dat jy inderhaas gou ‘n ligte ete vir kuiergaste moet voorsit. Hierdie resep het my meer as eenkeer uit gehelp. Die korsie is ook baie maklik. Word in die pan gedruk en met die vulsel gebak, geen blindbak of tydrowende proses nie.Nou goed ek weet jy gaan dalk dink dit is nie so maklik om witsous te maak nie, maar raai wat? Dit is!  Daar is twee maniere hoe jy witsous kan maak. Die eerste een is die Witsous Bêre mengsel wat op die blog is. Dit het reeds melkpoeier, margarien en koekmeel in. Jy gooi net water by en in ‘n kits het jy ‘n klont vrye witsous. Die tweede manier gaan ek nou vir julle met die resep verduidelik. Die geheim? Ballon klitser / whisk en jou mikrogolf oond en voila!

RESEP
VULSEL
500 g Hoender vleis - klaar gaar (oorskiet werk wonderlik)
250 ml Room
250 ml Witsous - effens afgekoel (sien resep)
4 Eiers
250 g Knopies sampioene - op gesnipper
1 t Knoffel
2 e Dill
Sout en peper na smaak

METODE
1. Voeg al die bestanddele saam en meng baie goed deur.

2. Berei die kors voor deur 1 koppie koekmeel met 1 koppie gerasperde kaas en 1 koppie gerasperde koue bakmargarien in die voedsel verwerker te blits totdat dit soos broodkrummels lyk.

3. Druk die krummels in ‘n gesmeerde terbak van jou keuse vas of kleiner porsies van jou keuse.

4. Gooi die vulsel in die kors en bak by 180 ˚ C vir 30 minute vir groot terte en 15 - 20 minute vir dunner en kleiner porsies.

WITSOUS
250 ml Melk
30 ml Koekmeel
30 ml Botter
250 ml Kaas - gerasper
2 ml Neut muskaat
Sout en peper na smaak

METODE
1. Plaas die botter in ‘n glasbak en verhit in die mikorgolf vir 30 sekondes totdat die botter gesmelt is.

2. Neem nou ‘n whisk en klop die meel goed by die botter.
Draai weer vir 30 sekondes en stop.

3. Voeg nou die melk by en klits goed deur met whisk totdat al die meel goed versprei is in die melk. Mikrogolf vir 1 minuut, haal die bak uit en klits weer deeglik deur met die whisk.
Doen hierdie proses totdat die mengsel goed verdik het.
Sal ongeveer 5 minute neem.
Nooit weer sal jy witsous hê wat aanbrand nie!
Gooi die kaas by en klits goed deur.
Voeg sout, peper en neutmuskaat na smaak by.

HOEVEELHEID: 8 porsies.

BRON: Annelien Pienaar. www.boerekostwist@gmail.com, klasse



Donderdag, 22 Oktober 2015

SITROENGRAS (LEMON GRASS)

My een swaer het my altyd die Hippie chef genoem omdat ek met bossies kos gemaak het. 
Vandag lag ons net lekker daaroor maar ja, ek is bossies oor kruie en speserye. Vir my is beide nie net die botteltjie op die winkel se rak nie, dit is soos ‘n persoonlikheid. Sodra jy die botteltjie oopmaak kielie dit alle sintuie en jy kan nie ophou ruik aan alles nie, ‘n verhouding en ‘n ontdekkingsreis begin.

Wat kruie en speserye vir my nog meer fasinerend maak, is die feit dat dit nie net vir kosmaak gebruik word nie. 
Dit word vir medikasie en ook vel versorging gebruik. Dit is ‘n pragtige struik om in jou tuin te hê en dit groei ongelooflik maklik. Dalk het jy al verby ‘n bos gestap en nie besef watter juweel jy gemis het nie. 

Ek is ‘n groot aanhanger van Margaret Roberts. 
Haar kennis is ongelooflik wyd en as jy haar ontmoet, kan jy nie glo dat op haar ouderdom, sy so helder en belese is nie. Haar hand staan vir niks verkeerd nie. Dus as jy ooit die geleentheid kry om haar te gaan besoek, doen so. Die eerste keer wat ek die Margaret Roberts tuin gaan besoek het, was toe ek saam met ‘n klompie homeopate en aptekers en ander baie slim mense, ‘n jaarlikse gesprek wat sy hou in September oor Tissue sout bygewoon het. Ek kon mooi onthou hoe ek die twee spoor paadjie op ry na die agterkant van die Magaliesberg en dan sien jy die waarskuwings bordjies wat lees: “We are only open on wednesdays” ... dan later “Are you sure it is wednesday?”... die volgende bordjie lees, “Please turn around if it is not wednesday”. Sy is reguit en op die man af. Vat nie nonsens van die manne met die sterk chemiese agtergrond wat wou slim wees nie, die tannie het kringe om hulle gehardloop.

Nou goed ek wil eintlik gesêls oor Sitroen gras. 
Die sitroen gras word gereken as ‘n “afkoel” krui wat goed is vir bloed sirkulasie. Dit is ook antibakteriël en teen swaminfeksies. Wanneer dit as ‘n tee gedrink word is dit kalmerend op die gemoed. Dit word gereken dat dit sellulere hernuwend is en ook goed vir ‘n intestinale infeksies. 

Hierdie geurige gras kan soos preie saam met roerbraai groente gemaak word. 
Verder is dit ook heerlik in bredies fyn op gekap. Wat dit so “versatile” maak is die feit dat dit in soet en sout geregte gebruik kan word. Voeg dit eers by jou kookwater vir soet groente soos wortels en patat’s en kook verder. Kneus net die stingel en gooi heel in. In Aartappel en prei sop vervang die prei!

Vir koeke en terte kan die stingels in die melk “infuse” word vir goed soos melktert, creme brulee, vla, roomys, tuisgemaakte yoghurt ens.

Onthou die suurlemoen ystee wat ek 'n rukkie gelede gepost het? 
Wel, as jy eers hierdie lemoen gras gebruik het in jou ystee sal jy nie weer daar sonder kan nie. Jy kook die heel stingels gras saam met al jou bestanddele en stoor die stroop met die gekneuse stingel vir 2 dae en verwyder dit dan.
Die struik
TUISGEMAAKTE HANDEROOM
2 k Aqueous room
2 k Sitroengras - baie fyn gekap
5 e Vitamien E olie
5 ml Bergemot essence van Lennons

METODE
1. Gebruik ‘n dubbel koker en verhit die room en sitroengras saam vir 30 minute sodat die vlugtige olies in die room vasgevang kan word.

2. Gooi die mengsel deur ‘n sif om die blare te verwyder.Ek verkies om dit deur ‘n moeselien doek te syg en dan die ekstra room uit te druk.

3. Sodra die room afgekoel is, roer die res van die bestanddele by en roer deeglik deur met ‘n ballon klitser.Seel in ‘n skoon glas botteltjie.

4. Dit kan gebruik word om muskiete weg te hou en gebarste hande en voete te behandel.

LEMOEN TEE
¼ kop Sitroengras stingels - opgekap
1 k Kook water

METODE
1. Gooi die kook water oor die gras en laat dit afkoel.

2. Dreineer en geur met heuning.

3. Drink koud of warm.

BRON: Margaret Roberts se: My 100 Favourite Herbs, ISBN: 978-1-43170-244-2

PEKANS

Bos en Berg se Pekan Boord, Skeerpoort, 2011
So praat ons vandag oor Pekan neut tert en ek het al die bestanddele en bak toe maar vir die nuwe gaste in die gastehuis ‘n lekker “welkom” happie.
Johan van Deventer roer toe ‘n teer snaar oor die herinneringe van Pekans.

Ons het op die plaas kom woon en my skoonpa het toe so paar boompies geplant vir die “tuin”.
Min het oupa Peet geweet dat dit ons passie sou word. 
Na sy dood het my man die grond begin bewerk en ons het toe die hele 40 hektaar onder pekans gesit.
Ek kan nog so goed onthou hoe ons begin het met die grond analise en water monsters.
Toe moes ek die kontrepsie ding (Theodo light / Trichonometer) in Krugersdorp gaan huur om die boord se uitleg presies in ‘n diamant vorm uit te werk. 
Met ander woorde of jy nou kruis en dwars, op en af kyk die rye is in perfekte simmetrie. 
So kom ek met die gedoente tuis en met die bietjie kennis wat die man aan my oorgedra het stel ek die raamwerk op en stel die ogie in en daar het die reis begin.
Met ons eerste aanplanting het ons rye en rye grond hopies gehad, pragtige ryk rooigrond. Ek onthou hoe ons jongste seun en sy niggie in een van die gate weg geraak het! 
Daardie dag was die Vader so goed vir ons want die een werker het hulle dop gehou en toe ek paniekerig begin hol van gat na gat het hy gou vir my gesê: “Klein Nooi, hulle is by daai kant”. 
Hulle kon versmoor het maar daar sit die twee stoute goed en speel met klonte en stokkies plaas-plaas. 
Nee, kyk ek het elke gryshaar op my kop voor gewerk!
Ons het self met twee spanne, my man een en ek die ander, al 2 000 bome geplant.
Dit is in die hartjie van die winter wat die bome geplant moet word omdat dit nog dormant is. 
Die besproeingstesel was van die buurman se moederlyn gedoen want vir die eerste paar jaar kon ons net met lei vore natmaak. 
Die water pype was gevries in die oggende en het die plantery erg opgehou. 
Onthou elke gat is 1.5 mx1.5 m en 1.85 m diep vir die lang wortelstelsel. 
Daardie grote gate moet dan toe gegooi word met die hand sodat die syhaarworteltjies nie kan seer kry nie. 
Terwyl jy plant moet die water die heeltyd loop om te help dat die worteltjies nat bly, dit is stof, water en modder. 
Jou neus brand, jou vel is rooibruin en jou rug breek. 
Maar plant daardie jaar het ons 750 gedoen.

Ek dink ander mense bou nuwe huise of bou aan om hul huwelike te toets, ons plant ‘n boord!
Vandag staan ek op my dam se wal en die bome is al 10 jaar oud, die 2de fase 7 jaar oud en nou is die “Insert coin” dae besig om te draai en die natuur beloon ons vir ons harde werk. 
As ek nou terug dink kan ek nie glo ons het profesionele beroepe beoefen nie, vandag leef ons van ons plaas en het ‘n rustiger en eenvoudiger lewe sonder “glitz en glamour”. 
Ons leef waarlik!
Vandag het my man ‘n deeltydse konsultasie besigheid en bedryf ons Boeredae waar beide die plaaswerker en boer opleiding kry om hul Pekan boorde te bestuur.
Ons vat die boere se hande en ek kan met trots sê ons Pekan boere kan wragtig hande vat en saamstaan. 
Ons skud mekaar se bome tydens oestyd, ons leen gifspuite en werkers uit om te snoei.

Hierdie bome het my lewe en my passie geword.
Elke boompie wat na die winter elke keer sy knoppies groen laat begin uitkom, maak my elke keer opgewonde soos ‘n kind. 
In November is dit die bestuiwings tyd en elke middag om 17h00 as jy met ‘n stok op ‘n tak tik en in die son opkyk, sien jy Tinkerbell se fairy dust (stuifmeel) soos goue liggies trek, dit is mos die lewe! 
Ja, ons het baie foute gemaak en leer nou ander opkomende boere wat gedoen moet word.
Tans is ek besig met ‘n studiegids juis vir die bedryf.
Dit vat lank om te skryf want dit is nog steeds ‘n wetenskap, ons het 9 Pekan streke en klimatologies groot verskille en sekere varieteite werk in natter dele beter as in droëer dele! 
Maar een van die dae het die boere en werkers ‘n praktiese gids tot Pekan produksie en bestuur vir Suid Afrikaanse omstandighede.
Hoop elkeen kan eendag daardie plekkie binne hul harte vind waar hulle gelukkig en tevrede kan wees, dan kom die res van nature.

Annelien Pienaar.
www.bosenbergguestfarm.co.za

Woensdag, 21 Oktober 2015

SJOKOLADE AARTAPPEL KOEK MET 'N TWIST!

Ja, ek weet jy kyk die koek uiters skepties aan oor die gemash storie in die resep maar raai wat, dit bring die GI van die koek af! Verder maak dit die koek veerlig, donsig en klam. 
Jy kan nog ‘n stappie verder gaan en die donker sjokolade vervang met wit sjokolade om ‘n wit vanielje koek te bak. Hoe wonderlik is dit nie, die beste van beide wêrelde!

RESEP
250 g Botter - kampertemperatuur - 225 g vir beslag - res vir ganache
210 g Suiker
4 Eiers - geskei
300 g Bak sjokolade van eie keuse (ek het bitter gebruik) - 180 g sjokolade vir die beslag
80 g Amandels - gemaal
170 g Kapokaartappels
230 g Koekmeel
10 ml Bakpoeier
5 ml Koeksoda
½ tl Kaneel
1 tl Vanielje geursel
15 ml Melk
Knippie sout

METODE
1. Voorverhit oond na 180 ˚ C. Smeer ‘n ronde koekpan met ‘n deursnit van 23 cm.

2. Room 225 g van die botter en al die suiker saam tot baie lig en donsig. Klits die eiergele een vir een by totdat die mengsel weer lig en donsig is.

3. Rasper 175 g van die sjokolade en meng in die beslag in. Meng nou die aartappels in.

4. Sif die koekmeel, bakpoeier, koeksoda, kaneel en sout saam. Voeg om die beurt by die beslag met die melk en vanielje geursel.

5. Klop die eier witte styf en vou in die beslag in.

6. Skep in pan en druk 'n duik in die middel van die beslag om te verseker dat die koek nie met ‘n punt gaan rys nie. Die beslag is nogal dik en jy moet maar gelyk skraap.

7. Bak vir 60 minute of dalk meer, toets die gaarheid van die koek met ‘n toetspennetjie.

8. Laat die koek eers vir 5minute in die pan afkoel voordat dit ontvorm word.

9. Sodra die koek goed afgekoel het. Kap die res van die sjokolade grof op en smelt oor ‘n dubbel koker en voeg die klontjies van die orige botter by. Roer tot alles gesmelt het en glansend word. Drup oor die koek van die middel af en laat dit verder self versprei. Versier met sjokolade krulle of neute, lekker speel.

PS: Jy kan die half warm ganache klits om fluffy te word soos op die foto of net laat afloop.

BRON: Annelien Pienaar 2015.  www.boerekostwist@gmail.com

SOET GROENTE SPESERYE


Hettie Botha was so gaaf om haar pampoen speserye mengsel se reseppie te deel. Terwyl ek so sit en tik besef ek soos die lysie opdoem dat dit mos vir baie meer resepte gebruik kan word. Hettie se opmerking oor waar die reseppie vandaan kom.“ Ek het dit handgeskrewe gekry in ‘n ou resepteboek”. Ek dink dit is kosbaar!

Die speserye word gebuik om oor soet groente te gooi soos, patats, pampoen en ek dink wortels sal ook heerlik wees. Beetslaai, blatjang ens. Dan kan dit gebruik word vir gemmerkoekies, Hummingbird koek, piesangbrood, doughnuts, roomys, karamel sous, wortelkoek, spesery koffie koek, muffins, man dit kan net lekkerder word!

RESEP
⅓ k Kaneel - fyn
1 e Gemmer
1e Neut muskaat
1½ t Naeltjies - fyn
1½ t All spice

METODE
1. Ek sif die speserye so twee keer saam met my fyn tee siffie om seker te maak al die bestanddele versprei eweredig.

2. Plaas in lugdigte houertjie, gebruik soos nodig.

BRON: Hettie Botha 2015. www.bosenbergguestfarm.co.za

Dinsdag, 20 Oktober 2015

GEROOKTE SNOEK QUICHE MET AARTAPPEL KORS

Die tert is ryk en romerig met ‘n pikante nasmaak van gerookte vis. Gebruik die les oor beroking op die stoof om jou vissie te rook. Anders as jy dit gerook in ‘n blik kan kry, des te meer tyd om ander dinge te doen. Jy kan ook bietjie anders wees en die vis met gerookte hoender borsies vervang!

Die kors is uniek omdat dit met kapokaartappels gemaak word, dit is bros en heerlik.


RESEP
KORS
120 g kapokaartappels - heeltemal koud
230 g koekmeel - gesif
120 g botter in blokkies gesny en effens verkoel - nie pap nie
½ eier - geklits
1 ml neut muskaat
sout en peper na smaak
10 ml ys water

METODE
1. Plaas die koekmeel en botter in ‘n voedsel verwerker en meng dit totdat dit soos broodkrummels lyk.
Meng dan die aartappels en geurmiddels by en laaste die eier.

2. Gooi die mengsel oor in ‘n mengbak en voeg die water by om die deeg aan mekaar te kan druk.

3. Rol die deeg op ‘n meel bestrooide oppervlakte uit en voer ‘n 23 cm flan pan of enige ander bak uit met die deeg.
Bedek die deeg en verkoel vir 30 - 60 minute in die yskas.
As jy nie goed is met uitrol nie, druk met die hand in die pannetjie in.

VULSEL
300 g Gerookte vis (enige soort sal werk - op die foto het ek salm gebruik
1 Prei stingel - opsioneel
¼ Rooi ui - grof gesny - opsioneel
6 Eiers - geklits
150 ml Melk
150 ml Vars room
150 ml Suur room (soms maak ek my eie ricotta en vervang met dit)
15 ml Dill - gedroog
5 ml Kappertjie saad
1 Knoffel toontjie
Sout en peper na smaak

METODE
1. Voorverhit oond na 200 ˚ C en plaas ‘n bakplaat vir die bakkery in die oond.

2. Braai preie en rooi ui tot net sag. Vlok die gaar vis en hou eenkant en pak dit in die tert kors.

3. Meng die res van die bestanddele saam.

4. Gooi die melk en eier mengsel oor die vis en preie mengsel en bak vir 35 - 45 minute totdat die middelste gedeelte droog en geset is. Dit moenie drillerig wees soos jellie nie.

BRON: Annelien Pienaar.  2015, www.bosenbergguestfarm.co.za