Maandag, 07 September 2015

TUISGEMAAKTE VLA

Nou goed, ek is nie ‘n groot voorstander van die mikrogolf kook kuns nie maar daar is goed soos vla wat maklik kan brand wat ek in die mikrogolf oond maak. My skoonma het my hierdie manier van vla maak geleer en ek het dit verder geneem en verfyn totdat ek vandag nie meer goed afmeet nie.

Selfs die kinders maak vla as hulle lus raak vir ietsie soet. Die manne gooi dan Tennisbeskuitjies of Marie koekies in en laat dit stol vir 2 ure. Kyk ‘n liter melk verdwyn in ‘n oogwink in die magies af! Indien jy van die Ultramel vla se smaak hou koop dan UHT lang lewe melk om die vla mee te maak. Ek wil nou nie te tegnies raak nie, maar die Ultra hoë temperatuur skok wat die melk ondergaan karameliseer die melksuikers in die melk en dit gee dan daardie kenmerkende smaak.

Hierdie resep is vir ‘n dikkerige vla.  Indien jy terte wil maak dan moet jy nog so 2 eetlepels vlapoeier by sit.

RESEP
1 liter Melk - enige persentasie vet is reg
¼ k Wit suiker of kunsmatige versoeter na smaak bygevoeg
4 e Vlapoeier - medium hoog
3 e Botter
1 t Karamel geursel

METODE
1. Gebruik ‘n glasbak asb en geen plastiek in die mikrogolf tensy jy weet dit is BPA vry.

2. Plaas die melk daar in en skep bietjie uit om die vlapoeier daarin aan te maak. Voeg die suiker by en roer om op te los.

3. Mikrogolf die melk vir 2 minute en roer elke minuut om die suiker te laat oplos. Jy wil die melk lou kry voordat jy die opgeloste vlapoeier ingooi.

4. Na 2 minute voeg die vlapoeier mengsel by en kook die vla vir 8 minute maar jy moet elke minuut stop en die mengsel met ‘n ballon of draadklitser goed deur roer om te voorkom dat die vlapoeier wat afsak ‘n bol in die middel maak of aan die kante. So roer goed na elke minuut.

5. Sodra jy sien die mengsel begin opkook soos melk wat wil oorkook, stop, roer en doen dit nog 2 keer. Proe of die vla gaar is.

6. Meng die botter en karamel geursel by en klop goed deur.

PORSIES: Ongeveer 1 liter.

BRON: Annelien Pienaar.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking