Maandag, 28 September 2015

TUISGEMAAKTE ROOMYS SONDER 'N ROOMYSMAKER




1. Hierdie resep is gebasseer op die tradisionele eiervla basis vir die fynste roomys in tekstuur. Ryk en romerig.

2. As jy kreatief wil raak en vruggies wil inwerk in die resep, blansjeer eers alle vrugte in 'n suikerstropie en voeg dan by roomys, maak seker dit het goed gedreineer voordat jy dit gebruik. Ek is lui en gebruik sommer konfyt en ander goed wat ek in die loop van die jaar bottel vir die spesefieke geure wat ek wil maak, speel, dit kan niemand dood maak nie. Op hierdie resep sit ek so 100 ml in. Neute, sjokoldae, enige iets selfs koffie bone, caramel treat, gemelte barone, kan in kom.

3. Wanneer jy enige iets wat warm is vinnig wil afkoel gebruik ys wat met growwe sout besprinkel is, die growwe sout verlaag die vriespunt van die ys drasties. Die soutblokke binne in die roomys makers werk op hierdie beginsel. Dus ons doen dit soos ouma dit destyds gedoen het.

4. Die geheim van 'n goeie roomys kom daarby dat hoe fyner die yskristalle op gebreek word hoe gladder die roomys. Dus moet die klits proses nougeset gevolg word wanneer die roomys verkoel word.

5. Roomys makers het ‘n basis binne van 'n soutbrine wat verkoel word, die masjientjie draai met 'n armpie in die rondte om die mengsel wat teen die kante set af te skraap en die kristalle fyner op te breek, die proses neem ongeveer 5 minute dan het jy roomys, met die hand 3 - 5 ure maar tuisgemaak bly nog die beste, ongeag hoe lank dit neem my kinders is mal oor roomys maak.

6. Gaan loer ook na die konsep van Ice cream in a bag, die eind produk is nie so fyn nie maar die kinders leer speel-speel.

RESEP
4 Jumbo Eiers - geskei
100 g Strooisuiker
1 e Mielieblom (maizena)
300 ml Room
300 ml Volroom melk
5 ml Geursel van keuse
5 ml Kleursel van keuse

METODE
1. Skei eiers en moenie die witte gebruik nie, vries vir latere gebruik.

2. Voeg die suiker by die eiergele en klits tot dik, liggeel en romerig.

3. Voeg die mielieblom by die eiermengsel en klits weer goed.

4. Plaas die room en melk in 'n dubbelkoker en verhit tot onder kookpunt.

5. Voeg die eier mengsel by en klits goed deur. Hou aan roer totdat die mengsel verdik het.
Toets die mengsel op die agterkant van 'n metaal lepel deur die lepel in die kooksel te druk en draai die lepel om. Trek met jou vinger oor die middel, sodra daar 'n mooi walletjie vorm weerskante, is die vla gaar.

6. Maak nou 'n bak vol ys en sprinkel met growwe sout, plaas nou 'n metaal bak bo op die ys en skep die vla oor in die bak. Hou aan roer sodat die mengsel vinnig kan afkoel. Vervang ys en sout as dit vinnig smelt, (veral in die somer) die eiervla mengsel moet so koud word soos yswater self.

7. Sodra die vla afgekoel is. plaas die hele kaboedel in die vrieskas. Jy moet dit elke uur uithaal en dan met 'n elketriese klitser klits om die yskristalle fyn op te breek. Hou so aan en jy sal sien as dit soos roomys begin lyk, skep in houer en vries met deksel op totdat dit gebruik gaan word.

Maak jou eie ys soutbad om die mengsel vinniger af te koel.



Na elke uur moet die mengsel geklits word om kristalle fyner op te breek.

Hierdie mengsel is perfek in konsistensie en kan bevries word.

ONGEVEER: 750 g roomys.
BRON: Annelien Pienaar, 1998.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking