Dinsdag, 15 September 2015

TANNIE PHIL SE VRUGTEKOEK


Nadat ons die gesprek gehad het oor koste brekening vir kerskoeke het tannie Phil van Eeden vir ons hierdie heerlike vrugtekoek gestuur. Ek het dit getoets en net so sonder enige aanpassings vir julle oor getik. Hoop julle gaan in die reseppie belê! Hoekom? Dit bak in ‘n doodgewonde pan en nie die lae boks en dinge waarvoor ons almal weg deins nie, dit is dood eenvoudig en maklik! Enige een kan dit bak!

VOORBEREIDING VAN VRUGTE
1 kg Gemengde koekvrugte
2 k Suiker
2 k Glanskersies - gesny
250 g Botter - Rama of Stork bake is ook geskik
2 k Water

METODE
1. Kook bo genoemde bestanddele alles saam vir 5 minute.

2.Laat die mengsel tot lou warm afkoel.

KOEKBESLAG
4 k Koekmeel
2 t Koeksoda
2 t fyn Gemmer
2 t Suurlemoensap
4 Eiers - goed geklits
knippie Sout

METODE
1. Voeg koeksoda by vrugtemengsel en meng goed.

2. Sif die koekmeel, sout en gemmer saam, meng nou die meelmengsel en geklitste eiers om die beurt in die vrugtemengsel in.

3. Voeg suurlemoensap by, meng goed met houtlepel. Skep in diep pan wat se kante en bodem met waspapier uitgevoer is.

4. Bak in vooraf verhitte oond by 180 ˚ C. Ek het 'n 23 cm deursnit ronde koekpan gebruik. Wanneer koek in oond gesit word stel af na 140 ˚ C. Sit 2 lae waspapier bo op koekpan en haal dit na 2 ure af. As koek in vlakker groot pan bak kan dit dalk net 3 ure bak. As koek na 3½ ure nog nie gaar is nie is daar fout.

5. As koek uit oond kom keer uit op afkoel rak. Gooi goeie gehalte brandewyn oor.Laat heeltemal koud word. Draai toe in foelie en sit in blik. Gooi 1 x per week nog brandewyn oor om klam te hou en draai weer foelie om.

6. Kan na 'n week begin eet. Hoe ouer die koek word hoe meer ontwikkel die geure. Bak ten minste 8 weke voor die tyd die koek. Die koek kan op die rak, goed toegedraai in foelie vir maande bewaar word by ‘n konstante temperatuur.

ANNELIEN SE OPMERKING
Die koek is heerlik klam. Ek gebuik Sjerrie of Jerepico in plaas van brandewyn vir daardie ekstra soet smaak, maar dan gaan die koek nie solank hou nie. Brandewyn is die beste preseveer middel omdat die alkhol inhoud so hoog is. Dit is ‘n wonderlike koek en die moeite werd om te maak.

BRON: Phil van Eeden.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking