Maandag, 21 September 2015

PEER EN SULTANA BROOD MET 'N TWIST

Ek weet nie almal hou van ‘n soet broodjie nie maar hierdie een is anders!  My Ma het hierdie broodjie op bestelling vir mense gebak.  By elke jaar se kerkbasaar was daar altyd deur die kerkraad afgevaardig dat Hantie 100 brode moes bak. Dus hierdie brood is onvergeetlik!

Ek bedien hierdie broodjie met vars room soms met mascarpone soms met romerige ricotta of doodgewoon botter en konfyt!


Moenie frons dat die resep die water in gram gee nie, dit is korrek.  
Het julle al julle maatbekers se afmetings getoets?  Mmmh?  Het jy geweet jy mag dalk die skok van jou lewe kry? Hoe doen jy dit? Lees die les oor Akkurate afmeet van bestanddele onder wenke op die Blog, of in kort, meet eers 250 ml water af in die maatbeker en gaan weeg dit dan op jou skaal. As dit nie presies 250 g lees nie is jou maatbeker onakkuraat. In wetenskap word water se gewig in ml en g as dieselfde uitgewerk. Melk en sap is weer anders omdat dit soliedes bevat maar weet net, as ek jou leer broodbak dan gaan ek alles vir jou in gramme gee sodat daar geen foute kan insluip nie, muffins, koek en skons werk op dieselfde beginsels.
Romantiese idee vir piekniekmandjie of  plaas tema

RESEP
50 g Botter
250 g Koekmeel - gesif
200 g Nuttywheat - gesif
1 t Sout
1 sakkie Kits gis
¼ t fyn Gemmer
¼ t fyn Kaneel
60 g Sagte bruinsuiker (treacle sugar)
1 Peer - klokhuis verwyder - gepuree
250 g Lou water
30 g Heuning
100 g Sultana’s
5 ml Rum geursel
1 Eier - liggies geklits


METODE
1. Kook 1 kop water in ‘n kastrol en voeg die sultanas by en kook vir 5 minute. Verwyder van stoof en voeg die rumg eursel by.
Marineer oornag.

2. Meng koekmeel, nutty wheat, sout, sagte bruinsuiker, gemmer, kaneel en gis saam. Vryf die botter met jou vingerpunte in totdat dit soos broodkrummels lyk.

3. Meng die water, heuning en peer puree saam. Voeg dit by die droë bestanddele en knie die deeg tot glad en elasties vir 10 minute met die hand of met die menger vir 5 minute. Hoe langer jy knie, hoe fyner gaan die tekstuur word.

4. Plaas die deeg in ‘n gesmeerde bak en bedek om dubbel die volume te rys vir ongeveer 1 uur lank.

5. Sprinkel die gedreineerde sultana’s oor die opgepofde deeg en knie dit in die deeg in om eweredig te versprei. Deel die deeg in twee. Ek weeg gewoonlik my deeg en deel dit dan so in die helfte. Rol die deeg in lang rolle en twist die twee bene om mekaar sodat dit soos ‘n tou lyk. Dit kan vryvorm of in brood pannetjie gebak word, of bak dit in 'n leë blikkie vir 'n piekniek tema.

6. Laat die deeg weer om dubbel die volume te rys. Maak toe met ‘n vakdoek sodat die brood deeg nie kan uitdroog nie. Wees ook versigtig om die deeg nie te laat oor rys nie.
Na 30 minute toets die deeg. Sodra jy met jou vinger in die deeg indruk moet die duik daar bly.

7. Bak die brood soos volg:  Plaas ‘n oondpan in die onderkant van die oond gevul met warm kook water, wanneer jy die oond aanskakel. Dit is belangrik om ‘n plat voorwerp met groot oppervlakte te gebruik om stoom te genereer. Ons wil die brood in ‘n stoom omgewing bak. Hoekom? Jy wil hê die brood moet maksimaal rys. As die brood in net droëe hitte gebak word vorm dit te vinnig ‘n korsie en dit hou die deeg vas om nie tenvolle sy hoogte te bereik nie. Daarom is die stoom in die oond nodig om dit tee te werk. Alle industriele oonde is met stomers toegerus, ons maak ons sin sommer self!

8. Voorverit oond na 230˚C. Bak die brood vir 30 minute op ‘n vooraf gesmeerde bakplaat.
Vir die eerste 5 minute moet die brood by 230 ˚ C bak. Draai dan die hitte af na 200 ˚ C en bak dan vir die res van die 25 minute so. Hou die water dop as jy die brood insit. As die vlak laag is, vul aan met kookwater.

HOEVEELHEID: 4 porsies of 1 brood.

BRON: Annelien Pienaar, 2015.  www.bosenbergguestfarm.co.za



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking