Maandag, 14 September 2015

MURGPAMPOENTJIE PASTEI

Hierdie resep is eendag uit nood gebore! 
Ek en my man was nog jonk getroud en het elke dinsdagaand bybelstudie by ons gehad toe ons nog in Faerie Glen gewoon het. 
Daardie middag kom beide van ons tuis, moeg na 'n moeilike dag by die kantoor. 
Hier kry ons 'n klop aan die deur, Ds is vroeg daar en wil met ons gesels oor een van die groeplede wat trauma beleef het en ons moet die situasie vir hom monitor. 

Ek vra my man om die tee skinkbord te vat in die kombuis en hy vra of ek iets vir die bybelstudie gemaak het, aag, kyk ek raak toe sommer so lam! 

Al wat in die yskas was, was eiers, melk, winkel skilferkors deeg, feta kaas, brood en murgpampoentjies. 
Op die yskas is my Ma se bobotie resep en ek kyk die vla gedeelte so met die een oog en besluit, vanaand is die aand dat ek gaan kreatief raak!

RESEP
2 pakke Puff pastry
6 eiers
500 ml melk
1 kop Feta - gekrummel - haal ekstra uit om bo op te sprinkel na die tyd.
250 g botterskorsies - in lengte in dun repe gesny
½ kop ui - fyn gekap
100 g vars broodkrummels
2 el origanum
sout en peper na smaak

METODE
1. Voorverhit oond na 230 ˚ C.
Rol die skilferkors deeg op meel bestrooide oppervlakte uit.
Deel die deeg in 2 en sny 'n raampie van die een.
Die raampie moet ongeveer 3cm breed wees reg rondom.

2. Smeer die soliede vierkant met eier en plak die raampie bo op vas.
Plaas terug in yskas op bakplaat om goed koud te word en die kors te laat set.

3. Meng melk, eiers en kaas saam.
Voeg die broodkrummels by en klits weer goed.
Voeg nou alle geurmiddels by.

4. Haal die deeg uit die vrieskas en bakblind vir 10 minute by 200 ˚ C.
Haal uit oond en trek die middelste velletjie af as dit blaserig lyk.

5. Gooi die melkmengsel in die holte en pak 'n laag van die murgpampoentjies bo op.
Sprinkel met sprietuie en bak vir 30 minute by 180 ˚ C.

BRON: Annelien Pienaar.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking