Dinsdag, 15 September 2015

MURGPAMPOENTJIE EN KANEEL KOEK

Murgpampoent Koekie
Ek was aanvanklik baie skepties oor hierdie vreemde kombinasie van ‘n koek maar ek was aangenaam verras toe ek dit proe! Ek bak my vriendin se Ma se resep al vir 18 jaar en elke nuweling wat dit proe kan nie glo dit het murgpampoentjies in nie!

RESEP
3 Groot eiers
250 g Murgpampoen - gerasper
300 ml Sonneblom olie of gesmelte botter
300 g Sagte bruinsuiker
5 ml Vanielje geursel
100 ml Gewone jogurt of karringmelk
300 g Koekmeel
5 ml Bakpoeier
5 ml Koeksoda
5 ml fyn Kaneel
1 ml fyn Gemmer
1 ml Neutmuskaat
100 g Pekans
2 ml Sout

METODE
1. Voorverhit oond na 170 ˚ C. Berei panne van keuse voor om in te bak. Jy kan dit in die vorm van ‘n broodjie of rond bak. Ek het onlangs kolwyntjies van dit gemaak. Onthou net dat die baktyd korter word as jy die kleiner kolwyntjies bak, ongeveer 20 - 25 minute vir hulle.

2. Klits die eiers en suiker tot baie lig en donsig. Klits dan die olie in ‘n dun straaltjie by totdat alles ingewerk is en die mengsel weer lig en donsig is.

3. Voeg al die bestanddele bymekaar en vou deeglik in. Skep in 2 voorbereide panne en bak vir 34 - 40 minute totdat die toets stokkie skoon uit kom.

4. Laat goed afkoel voordat die versiersel opgesit word.

ROOMKAAS VERSIERSEL VIR BO OP
230 g Roomkaas
½ kop Botter
450 g Versiersuiker
1 t Vanielje geursel

METODE
1. Room eers die botter en die roomkaas appart sodat dit romerig en lig word.

2. Voeg die botter en roomkaas saam en klits goed deur.

3. Voeg die versiersuiker en vanielje geursel by.

GESOUTE KARAMEL VIR TUSSEN LAE
1½ k Sagte bruinsuiker
6 e Melk
6 e Botter - ongesout
½ t Sout
1 k Versiersuiker

METODE
1. Verhit die suiker, melk en botter oor lae hitte totdat die suiker opgelos het. Kook dan vir ‘n verdere 2 minute. Verwyder van hitte en skep oor in mengbak.

2.Voeg die versiersuiker by en klop totdat die mengsel goed afgekoel het na kamertemperatuur. Jy kan met ysbak die temperatuur vinniger afbring.

3. Gebruik op koeklae


HOEVEELHEID: 1 dubbel laag koek.
BRON: Simone Schneider, Tuks.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking