Donderdag, 24 September 2015

KAAS EN SPRIETUI BROODJIE

Nou goed, hier moet ek bieg. Ek hou van ‘n resep wat vir my buigbaar is. 
Hierdie was aanvanklik ‘n sout muffin resep gewees en later het ek besef maar daar is mos geen rëel wat sê dit moet net in een vorm wees nie! Dus het ek bietjie geskaaf en skuur en nou het ek ‘n reseppie wat ‘n paar vorme en geure aangeneem het.Ek gebruik bestanddele wat in die yskas is. 

As ek die dag bv nie grasuitjies het nie vat ek dan pietersielie, spinasie enige groen ietsie. 
Ek sit ook ongeveer 100 g spekvleis (gaar), knoffel polonie, gaar hoender, tuna, worsies, net wat jou hart begeer in. Moenie die 100 g oorskry nie.Wanneer ons met vakansie gaan maak ek paar sakkies van hierdie mengsel vooraf aan en bind dit toe. Hou dit koel en gebruik binne 4 weke. Wanneer brood met koeksoda of bakpoeier gebak word val dit in die kategorie, Quick Breads. 

Ek hou daarvan om die engelse naam te gebruik want dit is uiters beskrywend van die tegniek wat gebruik word, sommige mense ken dit ook as roerbrood. Daar is wel ander roerbrode wat slap is en met gis gemaak word. Moenie gis en bakpoeier of koeksoda in een resep gebruik nie, die een is 'n biologiese rysmiddel en die ander chemies. Beide stel CO2 vry!  Dus dupliseer mens nie. Ek wou al die horrie piep kry oor vetkoek resepte wat beide bevat!

RESEP
2 Eiers - geklits
200 ml Melk
200 ml Karringmelk of Ideal melk of room
280 g Bruismeel - gesif
10 ml Bakpoeier
½ t Mosterd poeier
½ t Cajun peper
300 g Cheddar kaas - gerasper of Feta kaas
50 ml Vars gekapte grasuie
knippie Sout en peper na smaak

METODE
1. Meng die melk, karringmelk en eier saam.

2. Sif al die droë bestanddele saam en voeg die kaas en sprietuie by.

3. Meng die nat en droë bestanddele saam. Vou alles in en moenie oor meng nie, jy wil dit klonte rig hê.

4. MUFFINS
 Skep die vooraf gesmeerde muffin pan ¾ vol. Lewer ongeveer 20 muffins. Bak in voor verhitte oond by 200 ˚ C vir 15 minute.

5. BROODJIE
Skep die brood pannetjies net ¾ vol en bak by 180 ˚ C vir 30 - 35 minute. Enige grootte pan kan gebruik word, groter as 15 cm. As jy klein individuele porsies wil maak val dit onder die muffins se baktyd en temperatuur.

BRON: Annelien Pienaar, 2015.   www.bosenbergguestfarm.co.za

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking