Maandag, 21 September 2015

GEMARINEERDE SAMPIOENE

Daar is niks so heerlik soos hierdie klein knopies sampioene op ‘n stokkie in ‘n dromerige romerige sousie gedompel. As jy ietsie romanties wil doen vir ‘n piekniekmandjie is hierdie net die begin van lekker dinge! Wat wonderlik is van hierdie resep jy kan dit maande voor die tyd maak en in die yskas in lugdigte houer stoor. Die rakleeftyd in die yskas is 3 maande maksimum. 

Hierdie sampioene word in olie gepreserveer en die olie kan na die tyd gebruik word in allerlei disse. 
Ek gebruik dit om my sout muffins mee te geur, spek en eiers mee te bak of selfs my vleis in te braai. Dus is hierdie resep twee vliëe met een klap!

Sampioene mag nie in water skoon gemaak word nie. 
Omdat dit soos ‘n spons is (swam) absorbeer dit ongelooflik baie water en jou eindproduk is ‘n pappery van grys water en dit word dan ook nie effektief gepreseveer nie.

Onthou, hoe groter die sampioene wat gebruik word hoe meer vog tydens die kook proses absorbeer word, hoe korter word die rakleeftyd van die produk. 
Ek stel voor as jy groter sampioene gebruik dat dit binne 2 weke gebruik word. Moenie skrik as die gebottelde produk se olie wolkerig word as dit eers staan en afkoel nie, dit is juis oor hierdie vog wat dit gebeur. Daar is niks fout nie, daar is net vog teenwoordig wat rakleeftyd korter maak.

RESEP
500 g klein Knopies sampioene - skoon gevee en stingels teen die boud afgesny
1 k Asyn - wit of wit wyn
50 ml Wit suiker
2 t Sout
½ t heel Koljander korrels - geskroei (coriander)
½ t Fennegriek (fenugreek)
½ t Knoffel vlokkies - gedroog
½ t Rissie vlokkies - rooi
2 Lourier blare (bay leaves)
Olyfolie
Sonneblom olie
Roosmaryn takkie - vars
2 x 375 ml Glas botteltjies

METODE

1. Kook die asyn, suiker, sout en kruie (behalwe vars roosmaryn) saam. Sodra die mengsel kook voeg die sampioene by en kook op vinnig vir 10 minute.

2. Was die botteltjies en hou dit in ‘n pot kokende water en haal dit net uit voordat dit gevul moet word.


3. Dreineer die vog en sprei die sampioene oop om net effens droog te word. 
Skep die sampioene in die warm botteltjies en vul met helfte olyf olie en helfte sonneblom olie. Skep van die oorblywende speserye terug en druk 2 roosmaryn takkies in die botteltjies. Laat vir paar dae staan voordat dit gebruik word sodat al die geure kan ontwikkel.

4. Laat die botteltjies onderste bo afkoel en stoor vir 3 maande in die yskas. 
Sodra die botteltjies oopgemaak is gebruik so gou moontlik. Die olie is baie geurig en kan weer gebruik word om voedsel in te braai.

BRON: Annelien Pienaar, 2015. www.bosenbergguestfarm.co.za, klasse

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking