Woensdag, 09 September 2015

TUIS GEMAAKTE EN GEGEURDE BOTTER

Wat is nou nie lekkerder as om ‘n vriendin by wie jy gaan kuier met ietsie in die hand te bederf nie? Dink net jy neem ‘n tuisgebakte broodjie met konfyt en gegeurde botter in ‘n mooi pakkie toegedraai!

Kom ons maak eers ons eie botter van room.

Dan verwerk ons hierdie heerlike botter in iets wat gegeur word om in vulsels vir vleis stop te gebruik.

Of heerlike botter wieletjies met suurlemoen vir daardie vars vissie op die kole of sommer net vir ‘n vars gebakte broodjie.

TUISGEMAAKTE BOTTER
1 liter Room
5 ml Sout
Yskoue water met ekstra ys op die kant

METODE
1. Klits die room met ‘n elektriese klitser totdat die room begin skif. Die room word eers mooi wit en skuimerig en dan oorklits jy dit nog verder om dan die geel deeltjies te kry. Jy sal sien die karringmelk is waterig dun en die botter gedeeltes dryf daarin.

2. Hou aan klits totdat dit ‘n massa word. Werk so koud as moontlik.

3. Gooi die mengsel in ‘n kolander wat met kaasdoek of dun materiaal uitgevoer is om al die dele op te vang. Moenie die water gedeelte wat dreineer weg gooi nie, dit is regte egte karringmelk (die goed wat jy in die winkel koop as karringmelk is nie die ware Jakob nie. Die kultuur wat ingegooi word is Amasi!).

4. Bind die bene by mekaar en dompel die bondel in die yswater. Dompel so 5 keer en druk die sakke teen mekaar sodat die deeltjies aan mekaar kan klou. Maak die sakkie oop en brei die botter soos klei in die yswater. Ek stel voor gebruik plastiek handskoene want jou hande pyn. Jy moet so aan hou was totdat die water mooi helder is en al die karringmelk uit gewas is.

NB: As jy nie goed was nie gaan jou botter baie gou afgaan en vrot ruik as gevolg van die karringmelk wat vasgevang is.

5. Plaas die botter in die sakkie terug en hang op om goed te dreineer. Na 2 ure knie die sout in die botter in. As jy ongesoute botter wil hê slaan hierdie stap oor. As jy baie botter maak, dit vries goed.

DILL EN SUURLEMOEN BOTTER ROL
500 g Botter - kamer temperatuur
3 e Dill tippies - gedroog
1 e Suurlemoenskil - gerasper
2 e Suurlemoensap
knypie Growwe peper (twee vingers)

METODE
1. Plaas al die bestanddele in voedsel verwerker of gebruik elektriese klitser en meng totdat die sap goed ingewerk is.


      
2. Berei waspapier voor en sit op werksoppervlakte. Skep helfte van die botter in die papier en vou die papier oor. Nou het jy ‘n worsie, druk die botter styf teen die kant was en rol op sodat jy die dikte kry wat jy wil hê. 'n R5 grootte is mooi om op vars gebakte vis te sit. Draai die kante van die wors styf op en rol weer om mooi rond te kry. Plaas op koue bakplaat en sit terug in yskas om styf te word.

3. Sodra styf, maak oop en rol in ekstra dill of gedroogde suurlemoenskil of swartpeper om die hele rolletjie te bedek. Bind mooi toe in nuwe waspapier en versier.


RAAK KREATIEF MET JOU EIE GEUR KOMBINASIES
Gebruik die resep wat ek gegee het vir die suurlemoen botter en hou die vloeistof mates dieselfde. Dus as jy ‘n rooiwyn botter wil maak vervang dan net die suurlemoensap met rooiwyn. Dit sal nie ‘n waterige mengsel word nie.

Aangeheg is paar idees van soet en sout kombinasies vir die gegeurde botter.
Ek maak ‘n heerlike pekan en kaneel met rum essence vir my gesondheids muffins.
Hoop julle raak sommer lekker kreatief met julle geskenk idees!

HOEVEELHEID: 500 g.

BRON: Annelien Pienaar, 2015-09-09.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking