Woensdag, 19 Augustus 2015

WAFELS MET KARAMELSOUS




















Hierdie wafel resep is deel van my naweek kos. Dit is my huiskos, dit laat 'n plekkie in my hart so 'n wollerige gevoel kry as ek aan my Ma se wafels dink. As student wat sondag middae met ‘n trae hart my hartseer Moeder agter gelaat het, het sy altyd vir my ‘n bondeltjie wafels gegee om in die vrieskas te bêre as ek trooskos soek. Die wafels het baie kuiersessies deur staan in die koshuis, ons het saam oor 'n beker koffie gelag, gehuil, geheime gedeel en mekaar getroos. Met my Ma was dit ook so, ek kon met haar oor die intemste dingetjies gesels en dan was dit oor 'n koppie koffie en 'n skyfie wafel en stroop, vandag het ek net die herinneringe van die soet goue oomblike saam met haar!

Die gaar wafels vries baie goed. 
Ek haal dit ‘n uur voor die tyd uit om sag te word en plaas dit dan in die oond by 160 ˚ C vir 5 minute om net weer heerlik bros te word. 
Vandag doen ek nog voort met daardie tradisie van wafels maak. 
Ek betrek my hele gesin by die bakproses en bak dan so 50 op ‘n slag vir die vrieskas. 
Natuurlik is daar altyd “floppies” wat sommer gou gou in belustige magies verdwyn. 

Ek het weer hierdie naweek die waarde van hierdie dis besef, toe ek baie besig was by die gastehuis en moes kook vir die gaste. 
My mense moet mos ook soos konings eet! 
Ek bedien die wafels soet of sout as ontbyt, middag en aandete asook nagereg.

RESEP
As jy nie 'n wafel pan het nie dan maak jy hierdie plan!
BESLAG
220 g Koekmeel - gesif
15 ml Bakpoeier
knippie Sout
15 ml Suiker
300 ml Melk
50 ml Sonneblom olie
2 groot Eiers - geskei

METODE
1. Sif die koekmeel, bakpoeier, sout en suiker saam.

2. Klits die melk, eiergele en olie saam.

3. Meng die droeë bestanddele met die vloeistowwe en klits om alle klonte uit te kry.

4. Klits die eierwitte tot stywe punt stadium. As jy die bak met die geklitste eierwitte omdraai mag dit nie uitval nie. Onthou ook dat daar geen eiergeel teenwoordig mag wees nie, die olie in die eiergeel verhoed dat die eierwitte styf klits.

5. Vou die eierwitte in en laat die beslag 30 minute rus om verder te verdik.

6. Bak in voorverhitte wafel pan. As jy nie een het nie, kan jy plaatkoekies bak!


KARAMELSOUS
200 g Sagte bruinsuiker (Treacle sugar)
60 g Margarien
250 ml Volroom melk - warm (hou 50 ml melk eenkant vir vlapoeier)
25 ml Vla poeier
knippie Sout
5 ml Karamel geursel

METODE
1. Smelt die botter en suiker totdat meeste van die suiker opgelos en soos karamel lyk.

2. Kook die melk eenkant en voeg dit by die karamel suiker en roer weer oor medium hitte sodat al die suiker kan oplos.

3. Meng die vlapoeier eers met die melk en voeg dan by die kokende stroop om te verdik.

4. Sodra die mengsel verdik het verwyder van die hitte en voeg die karamel geursel by.

HOEVEELHEID: 6 wafels.

BRON: Hantie Bezuidenhout - mis Ma!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking