Maandag, 17 Augustus 2015

SAMPIOEN EN GORILLA SOUS

Mhhh, hierdie sous is uit nood gebore! So stuur ek die dag vir manlief met my inkopielys winkels toe. Ek het verwag dat ek wel weer soos die gebruik ‘n paar oproepe sou kry met die vreemde goed wat ek op die lysie skryf. So kom die eerste oproep in: “Bokkie, die man by die groente afdeling weet nie van Brussels en Spruite nie”, kyk daar lê ek soos ek lag vir die dierbare man van my. Geduldig help ek hom reg, jy lees die lysie seker onderste bo of jou bril is skeef. Goed hierdie een is afgeweer. 

Toe kom die tweede oproep:” Bokkie, daar is honderde kase om van te kies, hier is ‘n vrou wat sê sy sal kan help.” 
So gesêls ek en die vrou en ek verduidelik mooi ek soek Gorgonzola kaas. ”Nee, mevrou ons hou nie gorilla kaas aan nie.” Hoe meer ek verduidelik hoe meer wil ek huil, nie my man of die vrou maak kop of stert uit nie. Uit radeloosheid vra ek my man om maar Cammenbert kaas te kry aangesien dit een was wat hy opgenoem het soos hy deur die rakke gekrap het. Dus hier is my Gorilla sous wat nou ‘n Twist met Cammenbert gekry het. Beide werk heerlik!

RESEP
3 e Olyf olie of druiwepit olie
250g Sampioen snippers
1 Knoffel toontjie
250 ml Room
175 g Gorgonzola, Brie of Cammenbert (dit smelt vinnig en voorkom dat die room te warm word en skif) verwyder net die skilletjies
sout en peper na smaak
2 e Vars Dill tippies - of 1 el gedroog
100 g Pekan neute - gekap

METODE
1. Soteer die sampioene vir 5 minute en voeg dan die knoffel by en braai vir 1 minuut. Oppas knoffel kan brand en dan word dit bitter.

2. Voeg die room by en laat dit vir 1 minuut lank kook. Voeg die kaas by en roer versigtig dat die kaas kan smelt oor medium hitte, die mengsel moenie kook nie.

3. As die kaas en room goed gesmelt het voeg al die bestanddele in  die kastrol en roer deeglik deur. Bedien as pasta sous, vleis sous vir steaks, schnitzels en seekos dip.

HOEVEELHEID: 4 - 6 porsies.

BRON: Annelien Pienaar, 2009, Bos en Berg gaste plaas.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking