Maandag, 24 Augustus 2015

PICCALILLI

Ek vermoed dat een my voorvaders dalk in die spesery handel besigheid gedoen het. Ek is gek oor enige krui en spesery, die reuk, die kleur en die proses wat sommiges moet onder gaan om tot sy volle potensiaal te ontwikkel. Ek dink in ‘n sekere mate is die lewe ook so, jy sien iets maar sien dit net as gewoon totdat jy begin inspeksie doen en iets ongewoon ontdek. Ek het hierdie smaak vir Fennegriek (Fenucreek) ontwikkel.

In my kleintyd het my Ma baie by ‘n Indiese vroutjie hier op my tuisdorpie Skeerpoort gaan kuier. Die twee het mekaar hul onderskei kulture se kos leer kook. 
My Ma het regtig die beste kerrie gekook. Na my Ma se dood was daar ‘n spesery wat ek nie my vinger op kon lê nie want soos meeste van haar resepte was dit in haar kop of sommer so neer geskribbel. 
So bel my vriendin Naceema my ek moet my bederf pakkie kom haal. 

Ek staan voor haar hekkie by die voordeur en skielik slaan die reuk wat ek nie kon eien my en daar bars ek verdrietig in trane uit. 
Ek huil so dat Naceema dink ek het slegte nuus gekry. 
Toe ek kalmeer na ‘n heerlike koppie kamilla tee, vertel ek haar van die reuk wat letterlik my hart ‘n paar slae laat mis het en my maag laat draai het. Ek kon nie glo watter groot impak daardie “onthou” krui op my lewe sou hê nie! Ek kon nooit na my Ma se heengaan huil want dit was wat sy wou hê, maar daardie huil het my baie beter laat voel. Watter krui of spesery geur roep vir jou herinneringe op?

Wel jy kan met of sonder die Fennegriek die piccalilli maak.

GROENTE
1 kg Piekel uitjies
1 kg Groen boontjies
1 kg Murgpampoentjies
300 g Wortels
50 g Rooi chillies - pit en al
½ Komkommer
½ Blomkool kop
250 g Sout
2½ liter Water

SOUS
¾ k Koekmeel
½ k Mosterd poeier
½ t Borrie
2 liter Asyn
2 ml Fennegriek - gemaal

METODE
1. Skil en doen jou groente se voorbereiding. Los die uie heel en sny die res van die groente in ewe groot stukkies, ek hou van 3 cm by 3 cm of kleiner.

2. Meng die groente se sout en water saam en roer goed sodat die sout kan oplos. Plaas die groente in die water en laat vir 24 uur staan. Plaas ‘n glas bord op die groente om dit af te druk en ten volle bedek is met die sout water. Roer so 4 keer om die sout oplossing eweredig te versprei. Onthou die groente gaan sout absorbeer en water gaan onttrek word.
Dus is die water om die groente dan nie meer so sout nie, daarom die roer. Werk met plastiek vir hierdie proses as jy die weking doen. Metaal reageer met die sout en jou groente gaan grys word.

3. Dreineer die groente goed voordat dit by die sous gevoeg word.

4. Berei die sous deur al die droë bestanddele saam te sif. Voeg die asyn by en maak ‘n pasta aan. Skep die pasta oor na ‘n kastrol op die stoof en oor matige hitte verhit die mengsel totdat dit verdik het.

5. Voeg die groente by die kokende sous en kook verder vir 20 minute saam.

6. Steriliseer solank jou bottels en hou in die oond totdat dit gevul word. mengsel moet asb dadelik gebottel word en die bottel moet omgedraai word en op sy prop koud word om goed te seël.

BRON: Naceema Patel, Skeerpoort.

1 opmerking:

  1. Piccalilli, baie lief daarvoor, maar dit bring so baie herhineringe terug my oorlede moedertjie se gunstelling. Soek lankal n lekker resep daarvoor. Dankie Annelien gaan dit beslis maak.

    AntwoordVee uit