Sondag, 23 Augustus 2015

OUTYDSE PANNEKOEK

My man reken mos dat hy net kook vir oorlewing en ek kook met instink. Dus is ons twee in die kombuis 'n groot gevaar! Met hierdie stelling ingedagte het ek besef dat daar soveel resepte in my kop is en niks op papier neergepen is nie. Dat ek nou maar sit en dit wat instink is nou vir my kinders en ander kan nalaat. Ja, ek het my les met my Ma geleer, daar is soveel geheime saam met haar begrawe dat ek net weer besef het, juwele steek jy nie weg nie, jy polleer dit en gebruik dit!

LES
1. Die pannekoek is lig en donsig weens die asyn wat bygevoeg word wat die bakpoeier ekstra woema gee. Die bakpoeier word aan die einde van die 30 minute rustyd van die beslag bygevoeg, onthou die asyn sal dit onmiddellik laat skuim, dus bak die beslag sodra jy die bakpoeier bygesit het, anders na 1 uur verloor dit sy werking.

2. Olie in die beslag help om te keer dat die pannekoeke nie vas klou aan die pan nie.

3. Bereiding van die pan voordat jy bak. Ek het nou 'n ou Hart pan, cheepie ek weet maar jinne sy kan bak, soms raak sy halstarring dan moet ek haar skuur sodat die pannekoeke nie vas sit nie. Jy verwarm die pan en drup bietjie olie in, sprinkel met sout (½ tl) en vat dan kombuispapier en vryf goed oor die oppervlakte sodat die kolle wat aanbrand geskrop is.
Vee goed af en bak jou pannekoek. As jy 'n kleefvrye pan het dan is dit nie nodig nie.

4. 'n Pannekoek moet vinnig bak.

5. Ek gebruik 'n gewone ballon klitser (whisk) om die beslag aan te maak, los maar die elektriese goed.

6. Die resep vermeerder met gemak sonder enige aanpassings.

7. Die beslag kan sonder bakpoeier in yskas vir 2 weke gehou word.

8. Pannekoek kan gevries word in lae van 10.

RESEP
1 k Koekmeel
½ t Sout
¼ k Olie
1 e Asyn
1 Eier
1½ - 2k Water
1 t Bakpoeier

METODE
1. Sif koekmeel en sout saam.

2. Meng al die vloeistowwe saam en klits met water. Voeg by koekmeel en gebruik 'n ballonklitser om te klits.

3. Voeg die res van die water by, die dikte moet soos room wees.

4. Laat staan vir 30 minute.
Toets die dikte, moet soos room wees en voeg die bakpoeier by.

5. Bak in warm pan. Sodra die beslag van die kante los trek kan jy die deeg om draai.

VARIASIES

Pannekoek koek soos in foto. Ek pak 20 - 30 pannekoeke op mekaar met lae van kaneel suiker met fyn gekapte pekans gemeng. Elke 2de laag kry chantilly room tussen in.
Smeer die buitekant van die koek met Chantilly room en sprinkle met kaneel en neute.

CHANTILLY ROOM

1 kop vars room styf geklits met 4 el strooisuiker en 5 ml vanielje geursel.

HOEVEELHEID: 10 medium grootte.

BRON: Hantie Bezuidenhout.

1 opmerking:

  1. Annelien, ek onthou toe ons so pasgetroud was, het ek eendag pannekoek gebak. My man het 'n bottel brandewyn gehad wat al so paar jaar oud was en nog onoopgemaak in die kas gestaan het, want nie een van ons drink dit nie. Ek het toe so eetlepel of twee daarvan in die pannekoek gesit en dit was heerlik sag. Nodeloos om te sê dat hy daardie verhaaltjie met smaak oorvertel.

    AntwoordVee uit