Saterdag, 15 Augustus 2015

EENPOT HOENDER GEREG

Hierdie is een van my gunsteling disse om sommer in die week te maak as ek weet die tyd is min maar wil graag 'n gesonde ete aan die gesin voorsit. My hutspot is so deel van my ek kan nie my lewe sonder dit indink nie! 

Ek sit 'n heel knoffelbolletjie in die holte van die hoender om ekstra geur aan die vleis te gee wat dan van die binnekant versprei word. 


Hier leer ek jou ook hoe om die vel van die hoender los te maak en dit te vul met die heerliste mengsel van kruie en botter. Die karringmelk in die resep maak die vleis murgsag en gee dit 'n ekstra romerige smaak.


RESEP
2.5 - 3 kg Heel hoender
vars Dill takkies
200g Feta kaas
3e Songedroogde tamatie pesto (pesto resep is in files)
60g Sagte botter
100ml Karringmelk
1 Knoffel bolletjie (ja die hele een)
1kg Baba aartappeltjies
1 Groen soetrissie - grof gekap
1 Geel - soetrissie - grof gekap
4 Murgpampoene - in lengte gesny
2 pakkies Babaworteltjies - gewas
2 Rooi uie - in kwarte
3e Olyfolie
3e Koekmeel
400ml Hoender aftreksel
200ml Witwyn

METODE
1. Sit solank die hutspot aan op hoog.

2. Spoel eers die hoender onder lopende koue water af. Druk droog.

3. Maak die hoender se vel los tussen die vleis en die vel. Begin deur vanaf die nekkie die vel oor die bors en rug gedeeltes los te maak met jou vinger. Jy gaan ‘n mengsel tussen die vel en die vleis indruk om die vleis murgsag en geurig te maak. Jy moet tot teen aan die boudjies en vlerkies los maak.

4. Kap die dill tippies versigtig op sodat jy ongeveer ‘n ¼ kop het. Meng die feta kaas, songedroogde tamatie pesto, botter, karringmelk en sout en peper na smaak. Druk dan hopies van hierdie mengsel onder die vel van die hoender in.

5. Neem die knoffel bolletjie en sny in die helfte. Plaas die twee helftes in die karkas van die hoender, verwyder dit nadat die hoender gaar gemaak is of los dit net so en druk die sagte knoffel uit as deel van die ete, dit is heerlik so gebak!

6. Berei al die groente voor en plaas dit in die onderkant van die hutspot. Plaas die hoender bo op die groente.

7. Maak die sous aan deur die koekmeel, olyfolie, aftreksel en wyn saam te kook vir 5 minute en sprinkel oor die hoender en groente in die hutspot. Bak vir 4 - 6 ure met ‘n handdoekie oor die hutspot om dit vinniger te laat kook, gesig handdoekie werk goed.

8. As die hoender dan te bleek is na jou sin, plaas dit onder die rooster van die oond vir 5 minute om te verbruin. Bedien met Couscous of stysel van keuse.

HOEVEELHEID: 6 porsies.

BRON: Annelien Pienaar vir Bos en Berg gasteplaas.




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking