Vrydag, 31 Julie 2015

TANNIE LILI SE ONTBEENDE LAMSBOUD

Graag deel ek tannie Lili Dreyer se ontbeende lamsboud resep. 

Omdat ons met skape boer is ek baie bevoorreg om so 'n boudjie van tyd tot tyd te kan pamperlang om garing vleisies te maak. 

In plaas daarvan om die vleis in skywe te sny,"vlok" ek die vleis teen die grein om dan garingtjies te kry. 
Ek bedien dit dan saam met Roti's en geroosterde groente om my eie wraps te maak. 
Ek sprinkel dan van die pansous oor vir daardie ekstra lekkerrrr. 
Of garingvleis op 'n roket, mango, mieliepitte, bokmelk kaas, rooi ui ringe as slaai bedien met vinaigrette slaai sous bedien.

Dan is daar die tradisionele boud en boerekos, soet kaneel pampoen met karamel sous, gabakte groenbone met uie en aartappels en rys. 

Goed en dan die gebakte aartappels in die pansous.
As jy daai aartappel so oplig en jy sien die onderkant het daai bruin ring om en die heerlike bruin drade trek so soos jy onder in loer dan weet jy die koshemel se deur het sopas oopgegaan!!!

STOPSEL
Foto geleen van Jamie Oliver
1.5 - 2 kg lamsboud - ontbeen
3 el botter
2½ fyn gekapte paddastoele
1 kop ham fyn opgekap
1 eier
1 toontjie gekneusde knoffel
4 el room
sout en swart peper
1 kop vars broodkrummels

SOUS
1⅔ kop geblikte tamatiesop
1 kop bees aftreksel
1 toontjie gekneusde knoffel
2 el bruin suiker
2el worcestersous
sout en swart peper
4 tl rooi wyn

METODE
1. Maak eers die stopsel deur die paddastoele te soteer totdat alle vog ontsnap het.

2. Voeg die res van die bestanddele by.

3. Laat dit afkoel.

4. Laat die vleis plat lê, vul met die stopsel.

5. Rol op en werk dit toe met dik hekelgare.

6. Plaas in oond en bak vir 1 uur lank.

7. Maak intussen die sous deur alles in die kastrol te gooi en vir 15 minute te prut.

8. Verwyder die boud uit die oond en sit dit in ‘n swaar yster pot.

9. Gooi die sous oor die vleis en sit die deksel op en kook vir ten minste 45 minute terwyl jy die sous 3 keer oor die vleis bedruip het in die oond.

10. Laat staan vir 5 minute voordat jy dit voorsny.

11. Bedien met die sous wat in die pot oorgebly het. (verdik met Bisto as jy wil)

BRON: Lili Dreyer, Pretoria, 2015.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking