Saterdag, 11 Julie 2015

SJOKOLADE EN NEUT PAVLOVA ROULADE

Veerlig, sag en romerig, smaak my 'n engel het op my tong gepiepie!

RESEP
4 Ekstra groot eiers by kamer temperatuur
250 ml Strooisuiker, gesif en ekstra vir dekorasie
5 ml vanielje of karamel geursel
15 ml asyn
20 ml mielieblom (maizena / cornstarch)
50 g amandels - gevlok en gerooster - enige ander neut kan gebruik word
200 g donker bak sjokolade - fyn gekap en gesmelt
1 blikkie karamel kondensmelk
125 ml vars room - styf geklop

METODE
1. Voorverhit oond tot 160 ˚ C. Smeer ‘n swissroll pan met afmeting 30 x 25 cm en voer uit met waspapier. Spuit die waspapier weer en strooi ‘n dik laag mielieblom om die meringue later makliker uit te keer en die papier af te trek.

2. Klits die eierwitte tot stywe punt stadium. As jy die bak omdraai en oor jou man se kop hou moet die eierwitte nie uitval nie. Maar moenie dit droog klits nie.

3. Voeg die strooisuiker by die eierwitte lepel vir lepel en hou aan klits. Maak seker voor elke byvoeging dat die suiker goed ingelikts is, 2 minute se klits na elke byvoeging. Hierdie is die maak of breek van die pavlova en vergemaklik die rol van die roulade.

4. Sodra al die suiker ingewerk is voeg die asyn, mielieblom en geursel by.

5. Smeer in die bakplaat en bak vir 20 minute of totdat krakerig en styf.

6. Terwyl die pavlova bak smelt die sjokolade oor ‘n dubbel koker.
Onthou die water in die onderste kastrol moenie die bak se bodem raak nie anders gaan jou sjokolade skif.
Moenie die water woes kook nie want as daar ‘n spatsel in jou sjokolade kom gaan dit ‘n klont vorm en jy sal moet weggooi en oor begin.

7. Meng die karamel met die sjokolade en roer goed deur.

8. Keer die gebakte rol uit op ‘n vadoek wat met baie strooisuiker en amandels besprinkel is.
Laat 5 minute afkoel.

9. Smeer die karamel oor die rol en laaste die room. Onthou die karamel mengsel moet afgekoel wees anders smelt die room as jy dit opsit.

10. Rol op en verkoel goed voor bediening.

HOEVEELHEID: 6 porsies.

BRON: Annelien Pienaar.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking