Donderdag, 30 Julie 2015

PEKAN EN VRUGTE BISCOTTI

Ek woon in ‘n ongelooflike omgewing.
As kind het my Ma baie in die kontrei gekuier en met dit saam het ek ook baie wonderlike kosse gesien.
Skeerpoort het in die 1900’s ‘n sendeling predikant van Duitsland gehad wat baie ander nasionaliteite soos Nederlanders en Grieke getrek het.
So het hierdie families vir generasies hier gewoon en ek het eerste hands hul kos beleef.

Onder andere was daar, soos met alle klein dorpies, ‘n Indiër winkel of Negosie winkel.
Ek onthou so goed, daar was ‘n trokkie wat hulle rond gestuur het elke middag om 16h00 en as jy by jou afdraai gewag het kon jy jou groente, melk en brood so koop.
Die kante van die trokkie het oopgeslaan.

My pa kon enige iets regmaak en die Indiër het hom altyd gevra om te kom help met sy stowe.
Ek het altyd saam gegaan na Amien se huis en daar het ek lemoene met sout en peper leer eet, Achaar geproe, allerhande geure en kleure beleef!
Met dit het ek as ouer vrou later jare met Amien se broer se vrou, Naceema Patel vriende geword. Ons kuier heen en weer, sy kook my Boerekos en ek leer haar en sy leer my Indiese disse.
Dit is die mooiste vrou, sag, vriendelik, innemend en vrek slim!
Ek het 4 keer terug gegaan na haar om met ‘n groot gesukkel my eerste eie Filodeeg reg te kry, dit sit alles in die rol!

Hoekom die lang storie. wel hier is een van my Boere resepte wat sy haar eie twist op gegee het, sy het die kersies vervang met Jelly Babies!

RESEP
3 eierwitte
½ kop strooisuiker
120 g koekmeel
125 g pekans
60 g gekristaliseerde gemmer
60 g groen glans kersies
60 g rooi glans kersies
60 g versuikerde lemoenskil

METODE
1. Gebruik die mini loaf tins, die grootte wat as ‘n porsie gesien kan word.
Smeer goed.
Voorverhit oond na 180 ˚ C.

2. Klits die eierwitte tot sagte punt stadium en voeg dan die strooisuiker bietjies vir bietjies by en klop deeglik met elektriese klitser totdat al die suiker goed opgelos het.
Jy sal ‘n sagte meringue kry.

3. Vou die koekmeel en al die bestanddele in die eiermengsel in.

4. Skep die vulsel in die pannetjies en bak by vir 30 - 35 minute.

5. Haal dadelik uit pannetjies en laat goed afkoel.

6. Laat die broodjie oornag geur ontwikkel vir ten minste 12 - 24 uur voordat dit gesny word.

7. Sny in dun skyfies en droog soos beskuit in oond.

HOEVEELHEID: 50 stukkies van ½ cm dikte.

BRON: Hantie Bezuidenhout.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking