Maandag, 13 Julie 2015

MAROKKAANSE SKAAP PENS EN POOTJIES

As kind het ons my Ma mal gemaak oor die velle in die afvalpotjie wat sy gemaak het, ek kon aanvanklik nie die reuk van die afval uitstaan nie maar namate ek ouer geword het, het ek die kuns ontdek om die reuk vinnig die nek in te slaan. 
Alles kom in by die skoonmaak proses. 
Elke lid van die gesin kon hul versoek vir hul gunsteling afval vra en dan het Ma dit in die pot gesit, so was almal tevrede, ek was en is lief vir my pensvelle en harsings. 
Saam met dit het my ma vetkoek gebak en dan het ek die sous so in die holtetjie ingeskep en as jy dit byt dan spuit die sop so.
Wat is joune?

LES
1. Pens is grof en taai van tekstuur en vereis ‘n lang en stadige kook proses, hier is ek lief daarvoor om die afval in my Hutspot (Slowcooker) te maak. 
Die stoompot kan wel ingespan word maar ek hou van die langer proses.

2. Ek ken afval as “Pens en Pootjies” het so groot geword, so as jy my vra wat maak ek saam met pens dan sê ek vir jou pootjies! 
Maar basies kan enige ander afval ingesit word soos wat dit beskikbaar is.

3. Ek spoel die pens, al lyk dit goed skoon gekrap, met koue water en week dit dan in koeksoda water, 45 ml koeksoda op 5 liter warm (nie kokende water) en los vir ‘n uur. 
Hierdie proses help met die sag maak proses.

RESEP
1.5 kg skoongemaakte skaap of bees pens (Sien les punt 1 - 3)
1 kg skaap skenkels - nek - lewer - niertjies enige iets van dieselfde gewig
5 knoffel toontjies - fyn gemaak
20 ml kookolie
20 ml botter
15 ml kerrie poeier of eie aangemaakte Achaar Masala
5 ml koljander - geskroei - gemaal
5 ml komyn - geskroei - gemaal
5 ml fennegriek - gemaal
25 piekel uitjies of klein uitjies
5 wortels - in repies gesny
4 aartappels - opgesny in wiggies
30 ml gemmer - vars gerasper
30 ml sagte bruinsuiker - Treacle sugar
20 ml borrie - opsioneel as jy van die vaal kleur hou
20 ml gerasperde suurlemoenskil
20ml suurlemoensap
sout en peper na smaak
250 ml room
20 ml maizena met min water aangemaak

METODE

1. Sny die pens in repe of blokke van jou keuse. 
Bedek met water en voeg 5 ml sout en 15 ml suurlemoensap by en kook vir 3 ure tot amper sag, alle ander afval wat ook geneig is om taai te wees moet dan saam met die pens gekook word en dan verder saam afgerond word met souse en groentes.

2. Sorteer ui en knoffel in verhitte olie en botter totdat die uie deurskynend is, voeg die kerrie, borrie, gemmer, koljander, komyn en fennegriek by en braai vir 2 minute om die geure te ontwikkel.

3. Voeg die res van die groente en gesoteerde ui by die pens en kook verder totdat die pens sag maar nie pap is.

4. Verdik die sous met die room en maizena mengsel.

BEDIEN MET
Stampmielies, lensie gereg en slaai met lekker suur inhoud soos tamatie salsa ens.

PORSIES: 4 - 6 persone.

BRON: Annelien Pienaar.

1 opmerking:

  1. ek is die bobaas afval koker in nigel , met harsings en tong en alles , heerlike besigheid

    AntwoordVee uit