Vrydag, 31 Julie 2015

TANNIE LILI SE ONTBEENDE LAMSBOUD

Graag deel ek tannie Lili Dreyer se ontbeende lamsboud resep. 

Omdat ons met skape boer is ek baie bevoorreg om so 'n boudjie van tyd tot tyd te kan pamperlang om garing vleisies te maak. 

In plaas daarvan om die vleis in skywe te sny,"vlok" ek die vleis teen die grein om dan garingtjies te kry. 
Ek bedien dit dan saam met Roti's en geroosterde groente om my eie wraps te maak. 
Ek sprinkel dan van die pansous oor vir daardie ekstra lekkerrrr. 
Of garingvleis op 'n roket, mango, mieliepitte, bokmelk kaas, rooi ui ringe as slaai bedien met vinaigrette slaai sous bedien.

Dan is daar die tradisionele boud en boerekos, soet kaneel pampoen met karamel sous, gabakte groenbone met uie en aartappels en rys. 

Goed en dan die gebakte aartappels in die pansous.
As jy daai aartappel so oplig en jy sien die onderkant het daai bruin ring om en die heerlike bruin drade trek so soos jy onder in loer dan weet jy die koshemel se deur het sopas oopgegaan!!!

STOPSEL
1.5 - 2 kg lamsboud - ontbeen
3 el botter
2½ fyn gekapte paddastoele
1 kop ham fyn opgekap
1 eier
1 toontjie gekneusde knoffel
4 el room
sout en swart peper
1 kop vars broodkrummels

SOUS
1⅔ kop geblikte tamatiesop
1 kop bees aftreksel
1 toontjie gekneusde knoffel
2 el bruin suiker
2el worcestersous
sout en swart peper
4 tl rooi wyn

METODE
1. Maak eers die stopsel deur die paddastoele te soteer totdat alle vog ontsnap het.

2. Voeg die res van die bestanddele by.

3. Laat dit afkoel.

4. Laat die vleis plat lê, vul met die stopsel.

5. Rol op en werk dit toe met dik hekelgare.

6. Plaas in oond en bak vir 1 uur lank.

7. Maak intussen die sous deur alles in die kastrol te gooi en vir 15 minute te prut.

8. Verwyder die boud uit die oond en sit dit in ‘n swaar yster pot.

9. Gooi die sous oor die vleis en sit die deksel op en kook vir ten minste 45 minute terwyl jy die sous 3 keer oor die vleis bedruip het in die oond.

10. Laat staan vir 5 minute voordat jy dit voorsny.

11. Bedien met die sous wat in die pot oorgebly het. (verdik met Bisto as jy wil)

BRON: Lili Dreyer, Pretoria, 2015.


Donderdag, 30 Julie 2015

PEKAN EN VRUGTE BISCOTTI

Ek woon in ‘n ongelooflike omgewing.
As kind het my Ma baie in die kontrei gekuier en met dit saam het ek ook baie wonderlike kosse gesien.
Skeerpoort het in die 1900’s ‘n sendeling predikant van Duitsland gehad wat baie ander nasionaliteite soos Nederlanders en Grieke getrek het.
So het hierdie families vir generasies hier gewoon en ek het eerste hands hul kos beleef.

Onder andere was daar, soos met alle klein dorpies, ‘n Indiër winkel of Negosie winkel.
Ek onthou so goed, daar was ‘n trokkie wat hulle rond gestuur het elke middag om 16h00 en as jy by jou afdraai gewag het kon jy jou groente, melk en brood so koop.
Die kante van die trokkie het oopgeslaan.

My pa kon enige iets regmaak en die Indiër het hom altyd gevra om te kom help met sy stowe.
Ek het altyd saam gegaan na Amien se huis en daar het ek lemoene met sout en peper leer eet, Achaar geproe, allerhande geure en kleure beleef!
Met dit het ek as ouer vrou later jare met Amien se broer se vrou, Naceema Patel vriende geword. Ons kuier heen en weer, sy kook my Boerekos en ek leer haar en sy leer my Indiese disse.
Dit is die mooiste vrou, sag, vriendelik, innemend en vrek slim!
Ek het 4 keer terug gegaan na haar om met ‘n groot gesukkel my eerste eie Filodeeg reg te kry, dit sit alles in die rol!

Hoekom die lang storie. wel hier is een van my Boere resepte wat sy haar eie twist op gegee het, sy het die kersies vervang met Jelly Babies!

RESEP
3 eierwitte
½ kop strooisuiker
120 g koekmeel
125 g pekans
60 g gekristaliseerde gemmer
60 g groen glans kersies
60 g rooi glans kersies
60 g versuikerde lemoenskil

METODE
1. Gebruik die mini loaf tins, die grootte wat as ‘n porsie gesien kan word.
Smeer goed.
Voorverhit oond na 180 ˚ C.

2. Klits die eierwitte tot sagte punt stadium en voeg dan die strooisuiker bietjies vir bietjies by en klop deeglik met elektriese klitser totdat al die suiker goed opgelos het.
Jy sal ‘n sagte meringue kry.

3. Vou die koekmeel en al die bestanddele in die eiermengsel in.

4. Skep die vulsel in die pannetjies en bak by vir 30 - 35 minute.

5. Haal dadelik uit pannetjies en laat goed afkoel.

6. Laat die broodjie oornag geur ontwikkel vir ten minste 12 - 24 uur voordat dit gesny word.

7. Sny in dun skyfies en droog soos beskuit in oond.

HOEVEELHEID: 50 stukkies van ½ cm dikte.

BRON: Hantie Bezuidenhout.

Maandag, 27 Julie 2015

NUTTY WHEAT DIABETIESE BESKUIT

Hierdie resep bevat appel sodat dit die GI van die meel kan afbring.
Die beskuit is sag van tekstuur en kan in panne ingedruk word en gesny word of dit kan in 50 g balletjies gerol word en in brood pannetjies gepak word.
Omdat dit so 'n groot hoeveelheid beskuit is bak ek dit en vries die ander helfte en gebruik en droog soos benodig.

RESEP
7 kop Nuttywheat
2 kop semels
1 kop pekans / rosyne / cranberries of 3 dele van elk
1 kop roulynsaad
1 kop gerolde hawermout (rolled oats)
4 el Natreen - liquid
1 tl sout
2 el bakpoeier
1 tl kremetart
2 tl koeksoda
100 ml melk
500 g margarien - by kamertemperatuur
2 kop karringmelk
2 appels - gerasper

METODE
1. Voorverhit oond tot 180 ˚ C.

2. Smeer 3 - 4 plat oondpanne goed.

3. Hou koeksoda eenkant en meng die droë bestanddele saam.

4. Rasper margarien in meel in en vryf met vingerpunte in totdat dit soos broodkrummels lyk.

5. Meng die koeksoda met melk, maak seker die klonte is goed opgelos.
Voeg by karringmelk om dit te aktiveer.

6. Meng meelmengsel met melkmengsel totdat bestanddele goed gemeng is.

7. Druk die beskuit in die voorbereide oond panne en sny vooraf in vingers.

8. Bak vir 45 - 60 minute op die oond se middelste rak.

9. Laat afkoel en sny in vingers en droog in matige oond van 100 grade vir 3 - 4 ure met oond deur effens oop.

Hierdie beskuit is baie en die resep kan met gemoedsrus halveer word.

HOEVEELHEID: 4 oondpanne.

BRON: Annelien Pienaar, 2010.

FOTO: Vergunning van Hueletts sugar SA.

WORTELKOEK MUFFINS (LAE KOOLHIDRATE EN GLUTEN VRY)

Wortelkoek met roomkaas versiersel
Wat vir my so wonderlik is van hierdie resep is dat dit vir Diabete en ook Gluten allergië geskik is. Dit kan as koek op sy eie gebak word en ook as kolwyntjies of ‘n broodjie. 
Onthou met die kolwyntjies om die tyd met 10 minute te verkort. 
Ek weet die amamdel meel is baie duur, maar jy kan die gebakte muffins vries en uithaal soos benodig.
Een wenk as jy hierdie muffins weer wil laat lewe kry nadat dit gevries was, 5 minute in die oond teen  180 ˚ C en jy het weer 'n wonderlike vars muffin!


RESEP
1½ kop amandel meel (amandels wat baie fyn gemaal is)
¼ tl sout
1 tl bakpoeier
½ tl kaneel - fyn
knippie neutmuskaat - fyn
knippie gemmer - fyn
3 jumbo eiers
1 el vanielje geursel
1 tl Natreen - liquid
2 el sonneblom of Canola olie
1½ kop wortels - fyn gerasper
½ kop pekans

VERSIERSEL
200 g roomkaas
½ tl Natreen - liquid
½ tl vanielje geursel
100 ml vars room

METODE
1. Voorverhit oond na 180 ˚ C en berei panne voor.

2. Meng al die droë bestanddele van die koek saam, amandelmeel, speserye, sout en bakpoeier en sif deeglik saam.

3. Meng al die vloeistowwe saam in ‘n aparte bak, eiers, versoeter, olie, vanielje en roer deeglik.

4. Voeg die wortels en pekans by die vloeistowwe en meng weer deeglik.

5. Bak vir ongeveer 18 minute vir kolwyntjies en 25 - 35 minute vir koek en broodjie.

6. Laat goed afkoel voordat die versiersel opgesit word.

7. VERSIERSEL
Plaas al die bestanddele in mengbak en meng met klitser of voedselverwerker deeglik deur en versier die kolwyntjies.

ELKE MUFFIN BEVAT
215 kaloriëe
20g vet
6 g protein
3 g netto koolhidrate per 100 g

HOEVEELHEID: 12 muffins.

BRON: Annelien Pienaar, 2013, Voedsel en Voeding.


Lees verder by die volgende skakel oor hoe Low Carb diets werk.

http://www.walkfromobesity.com/has-your-weight-loss-stalled-out/

Saterdag, 25 Julie 2015

KAAS EN MAALVLEIS MUFFINS

Hierdie veelsydige deeg kan ook in die vorm van 'n broodjie gebak word.  Die beslag kan met sukses verdubbel word en vir groter getalle mense voorberei word.  Maalvleis kan met enige ander bestanddeel soos botterskorsie, wortel, aartappel, biltong, weense worsies, ham of spek vervang word. Lekker speel!

RESEP
2k Koekmeel
2t Bakpoeier
2.5 ml Koeksoda
150g Cheddar kaas - gerasper
1k Karringmelk / Amasi / gewone joghurt
½ Ui - fyn gerasper
½t Vars knoffel - fyn gekap
½t Veggie spice
100g Maalvleis - gaar gekook in water
½ Blikkie Suikermielie pitte - dreineer
1t Basillie

METODE

1. Voorverhit die oond tot 180 ° C. 
Smeer 2 muffin panne met 12 gate.

2. Sif die koekmeel, sout, bakpoeier en koeksoda goed saam. 

Meng die meelmengsel, die meeste van die kaas (hou ’n biejie eenkant vir bo oor strooi), karringmelk, ui, knoffel, veggie spice, maalvleis en mieliepitte in ’n bak.

3. Skep die deeg in die voorbereide panne en bedek met die oorblywende kaas en basillie.


4. Bak vir 35 - 45 minute tot goudbruin en gaar.


HOEVEELHEID: 24 kolwyntjies.


BRON: Hantie Bezuidenhout.


Donderdag, 23 Julie 2015

GROENTE SOP OF GROENTE GEREG MET 'N TWIST

Hierdie resep het ‘n paar gesigte, gebruik dit as ‘n groente dis wat oond gerooster word met ‘n heerlike knoffel en balsamiese asyn sous of as ‘n heerlike growwe groente sop. 

BASIS RESEP
½ kop rooi soetrissie - gekap
½ kop groen soetrissie - gekap
½ kop ui - gekap
½ kop seldery - fyn gesny
2 kop wortel - repies
2 kop botterskorsie - blokkies
2 kop radyse of rape - blokkies
3 kop aartappel - blokkies
2 kop murgpampoentjie - ringe
¼ kop olyf olie
1 tl kerrie poeier
sout en peper na smaak

METODE VIR GEROOSTERDE GROENTE DIS
1. Plaas al die groente in ‘n oondpan en bedruip met olyfolie. Skud die pan sodat al die groente met die sout en olie bedek is.

2. Bak met foelie bedek vir 30 minute en plaas dan onder die oond se element om bruin te braai.

3. Bedien ‘n sous op die kant.
 ½ kop balsamiese asyn, 4 el bruinsuiker, 1 el heuning, 4 el olyf olie, 1 el fyn knoffel, sout en peper na smaak.
Kook vinnig saam om die suiker op te los en plaas in sous potjie.

METODE VIR GROWWE GROENTE SOP
1. Plaas al die bestanddele in ‘n kastrol en voeg 2 liter water met 2 blokkies aftreksel by.
Ek verkies Ina Paarman se groente aftreksel poeier.
Kook vir 20 minute of totdat sag.
Water kan verdubbel word as jy ‘n dunner sop verlang.

2. Die sop kan netso bedien word of dit kan puree word.

3. Bedien met ekstra room.

HOEVEELHEID: 10 - 15 mense.

BRON: Annelien Pienaar, Bos en Berg gasteplaas.



Saterdag, 18 Julie 2015

SPITBRAAI BYKOSSE

AARTAPPEL WIGGIES
Kook vooraf die aartappels tot gaar.
Laat afkoel en skil dan.
Sny in wiggies en laat dit in die vet van die spit onder in die bak braai net voor opdiening om heerlik bros te word.
Ek is lief daarvoor om sout, droë geroosterde koljander, peper en vars kruie as geurmiddels te gebruik.

GROENTE KEBABS
Gebruik groente wat tans in seisoen is om die stokkies mee te vul.
Moenie die groente te styf teen mekaar in steek nie, jy wil die sousies mooi tussen die groente laat deur loop. Maak 'n aparte vuur en rooster die stokkie daarop. Nadat dit gaar is bedruip met die volgende sousie.

250 ml olyfolie
125 ml balsamiese asyn
50 g bruinsuiker
50 ml heuning
50 ml knoffel
sout en peper na smaak

Meng alles saam en bestryk die gaar stokkies met 'n kwassie.

BROCCOLI EN OLYF SLAAI

1 kop brokkoli
250 g olywe - ontpit (kan met kersie tamaties vervang word)
250 g spek - fyn gekap - gebraai
100 ml spriet uie - fyn gekap
100 g Fetakaas - gekrummel
seldery soveel as jy wil - fyn gesny
1 Granny smit appel - in klein blokkies
125 ml pekans
sout en peper na smaak

SLAAISOUS
125 ml Cross en Blackwell mayonnaise
125 ml kondensmelk
125 ml gewone joghurt

Meng alles saam en gooi oor slaai en meng goed.


PASTA SLAAI
Hierdie pasta kan die dag voor die tyd gekook word om tyd te spaar.

500 g pasta skroewe of skulpies
100 g kersie tamaties
2 avokado pere
1 medium ui - gerasper
125 ml gedroogde perskes - fyn op gekap

SLAAISOUS
125 ml Cross en Blackwell mayonnaise
125 ml kondensmelk
125 ml gewone joghurt
50 ml suurlemoensap
sout en peper na smaak

SUIKERMIELIE GENOT
Wie hou nou nie van 'n suikermielie nie, en het julle geweet dit is baie gesond om te eet!
Ek sit die skottel met mielies vir die gate neer en dan demonstreer jy vir hulle hoe om hul eie mielies te versier, dit is gewoonlik vet pret, veral vir die kinders!

Kook die mielies eers tot gaar en smeer dan die punte van die mielies met witsous om as gom vir die lagies te dien.
Sprinkel dan die laag van jou keuse oor.

LAAG 1
 125 ml gerasperde parmesaan of pecorino kaas
125 ml cheddar kaas
125 ml spek - klaar gaar en fyn gekap

LAAG 2 
1 kop songedroogde tamaties wat in kookwater hidreer is en dan fyngekap is en met olie en knoffel verfris is.
sout en peper

LAAG 3
Speel met geroosterde neute en sade soos sesame saad.

BRON: Annelien Pienaar, 2015.

DIE KAASMAAK PROSES IN 'N NEUTE DOP

Feta kaas
Ek werk al vir jare in die kosindustrie met bakterieë wat geskik is vir menslike gebruik, ek spesialiseer in broodbak en kaasmaak. Dit is my passie en my lewe om mense te leer om gesonder te kan eet en leef, dieselfde bakterieë vir kaas kan vir broodbak ook gebruik word.  Dus is brood en kaas, letterlik my brood en botter!

OM KAAS TE MAAK HET ONS NODIG

MELK 

Melk met ‘n hoë protein inhoud en vetinhoud, verkieslik rou (ongepasteuriseerde melk). Pasteurisasie is weer ‘n ander lang onderwerp waarmee ek julle lank kan besig hou.  
Jou eerste keuse sal altyd Jersey melk wees, sy gee die beste kwaliteit melk vir kaasmaak (my mening en ook volgens die LNR), dan Gernsey, Airshire en Fries (Holstein), Bok en Skaap melk (feta) omdat haar melk se protein inhoud die hoogste is gaan jou opbrengs  dus hoër wees op dieselfde volume melk teenoor die Vries.

BAKTERIEË

Om die melksuikers (laktose) om te sit in melksuur en om die pH van die melk te verlaag (suurder te maak). 
Daar is 2 tipes bakterieë wat gebruik word nl: Termofiel (lief vir hitte) en mesofiel (nie so lief vir hitte) hierdie 2 bakterieë is die 2 menere wat die smaak en tekstuur van die kaas bepaal. 
Tyd en temperatuur is deurgans in die kaasmaak proses uiters belangrik. 
As die tyd en temperatuur nie goed na omgesien word nie kan die kaas oor koaguleer (te veel stol) rubber word of te suur word, so dit is nogal ‘n proses waar jy nie kan rondloop en ander goed doen nie, jy pas die pot soos ‘n baba op! 
Die kulture wat gebruik word het ook elkeen sy eie karakter eienskap wat smaak, geur en tekstuur beinvloed. 
Die kulture wat ons gebruik gee 'n heerlike botteragtige nasmaak.

RENNET
 Dit is ‘n ensiem wat nadat die inkubasie tyd van die bakterieë voltooi is, bygevoeg word om die melk proteine te laat stol sodat die kaas wat jy produseer gesny kan word om die wei van die wrongel te skei. 

Die wei is die waterige gedeelte en die wrongel die wit rubberagtige gedeelte.

KALCIUM CHLORIED 

Omdat die melk soms te min kalcium in het word dit bygesit in die proses by inkubasie (wanneer die bakterieë in die melk moet groei). 
Die funksie is om te help met die set van die wrongel (curd).

SOUT

Dit preserveer die feta op 'n natuurlike manier en geen swamme of slegte bakterieë kan in hierdie omgewing groei nie. 

INDIESE OF ASYN FETA 

Nou goed, met hierdie neutedop inligting wil ek gaan kyk na die vinnige Feta wat net met asyn, suurlemoensap, sitroensuur ens gemaak kan word. 
As jy dit wil maak vir tuisgebruik dan sê ek “go for it”, MAAR die raklewe is ongelukkig net
5 - 7 dae afhangend van hoe dit gestoor word. 
Die kaas mag ook dalk die tekstuur van 'n uitveer hê. 
Jy sal vind  nadat die Feta gemaak is, dit dalk pap word en een solide massa vorm, dit word dalk bruin of die water word melkerig.
Hoekom? 
Jy het paar probleme op hande. 
Die wrongel se pH voordat dit in die brine gesit word was te hoog, die inkubasie temperatuur oor nag was te laag en die suur ontwikkeling kan dalk te stadig gewees het. 
Verder as die kaas begin gis dan het jy ‘n groter probleem, Clostridium Botulinum kan ontwikkel, (dit is‘n mikro-organisme wat verlamming van die asemhalingstelsel tot gevolg het en mense gaan dood), GOOI WEG!!
Die Feta gaan ook ‘n suurder smaak hê as gevolg van die suur wat by die melk gevoeg word. 
Ek het na van die resepte gekyk en die sout oplossing waarin die Feta gestoor word is die sout te min en dit help dus bakteriële groei aan. 
Toets die resepte maar ek beveel dit ten sterkste aan om die “real thing” te koop en te maak.

Die proses om hierdie feta te maak is soos volg.

 Die melk word gekook met die asyn en dan deur ‘n sif of gaasdoek gedreineer om die wrongel op te vang en die wei te dreineer. 
Dan word die wrongel in ‘n vorm gedruk en dan afgekoel. 
Wanneer dit gestol het word dit in blokkies gesny en in ‘n baie flou sout oplossing gestoor.

ORDENTLIKE FETA

Die proses werk soos volg. 
Die roumelk word eers gepasteuriseer by 65 ˚ C vir 5 minute en dan dadelik na werk temperatuur afgebring (ongeveer 30 ˚ C ), dan word die kulture bygevoeg vir inokulasie (aansuur) van melk. Volgende word die rennet bygevoeg om die melk te stol en daarna word die stolsel in spesefieke grootte blokkies gesny en geroer om die wei en die wrongel te skei. 
Die wrongel word dan in feta pype (sommer blou water pype) geskep (nie ingedruk) en dan oornag geinkubeer vir suur ontwikkelling. 
Die volgende dag word die feta ontvorm, gesny en in ‘n sterk soutoplossing met die nodige preserveermiddels gesit (nee nie kunsmatig in die vorm van sitroensuur) en dan kan die kaas vir 4 - 6 weke gestoor word in die yskas in lugdigte houers. 
Dit is altyd vir my wonderlike geskenke om aan gaste te gee en ek weet dit gaan lank hou en is veilig.

EIENSKAPPE VAN 'N GOEIE FETA 

Dit het genoeg lug gaatjies, krummel maklik en is bros.
Sodra jy dit byt en dit is suur en die tekstuur is soos 'n stuk uitveer wat jy kou en dit maak squeek geluide, wel dan is jou feta 'n flop!

GEVOLGTREKKING

As jy wil leer kaasmaak, begin eers by die Beginners Sagte kaas klas wat 'n 1 dag klas is en doen dan later die gevorderde klas wat oor 2 dae strek.
Die proses is deeglik uiteen gesit in die kursusse wat ons aanbied. 
Die “kits” wat verkoop word het al die nodige bakterieë, rennet, termometer, CD, inligtingstuk, Kalcium chloried en suur in om jou te help om die “real thing” te maak. 
Feta se proses stem baie ooreen met Cheddar en Gouda tot op ‘n punt en dan skei die paaie. 

VIR VERDERE INLIGTING OM DALK 'N KURSUS TE DOEN OF KITS AAN TE KOOP KONTAK

annelienp@outlook.com Annelien Pienaar, sel: 0795956198

PS - LAKTOSE INTOLERANSIE

Mense wat hierdie toestand het kan nou met 'n geruste hart self hul melk se laktose vlakke na 'n aanvaarbare vlak verlaag deur Lactase by hul melk, eie joghurt wat hul vervaardig, kaas ens te voeg. As jy nog slimmer wil werk met jou kaas keuses op die winkelrak, kan jy 'n ekstra mature kaas koop.
Hoekom?
Die Lactaze sit alle melksuikers om in melksuur. Die proses word dan versnel. 


STOLLINGS TOETS VIR DIE GESKIKTHEID VAN WINKEL MELK VIR DIE MAAK VAN KAAS
As jy wil kaas maak met winkel melk is die rennet toets maar altyd 'n oplossing.
Maak 'n koppie melk warm tot 32 ˚ C en gooi 'n paar druppels rennet in en laat staan vir 'n halfuur teen 32 ˚ C om te stol.
Indien dit 'n stywe stolling is, is jou melk geskik.
Indien nie, moet jy maar joghurt daarvan maak.

BRON: Annelien Pienaar, 2015. 

Vrydag, 17 Julie 2015

MOSTERD EN HEUNING GLANSEER SOUS

Hierdie sous het soveel gebruike.
Ek smeer 'n heel werf hoender met hierdie sousie om dit lekker taai en bros te maak, voeg net dill tippies by die sous en jy het voorwaar 'n wenner. 
Of enige varkvleis snit kom heerlik sappig en soet met dit uit, kom probeer gerus. 
Gebruik die growwe Dijon mosterd resep in die argief.

RESEP
250 ml mayonnaise
125 ml heuning
50 ml Dijon mosterd - grof

METODE
1. Meng alles saam en gebruik as ‘n glans laag oor vleis net voordat dit uit die oond kom.

2. Smeer beide kante van gaar vark loin tjoppies met die mengsel en plaas dit terug oor die vuur of onder die grill van die oond.
Bak tot mooi taai en bruin.

3. Lekker eet.

HOEVEELHEID: 1½ kop mosterd mengsel.

BRON: Annelien Pienaar.

Woensdag, 15 Julie 2015

SUURLEMOEN KONDENSMELK VLA TERT

Hierdie is my "lui huisvrou" tert vir elke dag! 
In 'n japtrap het ek sommer met niks 'n heerlike nagereg, tert en sonskyn in 'n bak vasgevang, kom lees hoe maklik, selfs my kinders kan dit maak!

RESEP
½ kop vla poeier
100 ml suiker
4 kop melk
2 blikkies kondensmelk
200 ml suurlemoensap
1½ pakkie Tennisbeskuitjies - fyn gedruk
½ kop room
100 g strooisuiker
1 tl vanielje geursel

METODE
1. Maak ‘n gladde pasta aan met 1 koppie melk en die vla poeier.

2. Kook die melk en voeg die gladde pasta mengsel by die kokende melk en hou aan roer met draad klitser om klonte te voorkom totdat dit verdik het en jy geen melerigheid proe. 
Mikrogolf oond kan ook ingspan word, maar roer gereeld elke minuut tot verdik.

3. Terwyl die vla afkoel meng die kondensmelk met die suurlemoensap en roer goed deur om dik te word.

4. Plaas ‘n laag krummels in die tertbak en skep ‘n laag vla oor en smeer gelyk. 
Plaas in vrieskas sodat 'n velletjie vorm, doen dit tussen elke laag. 
As die vla te warm is gaan die kondensmelk mengsel smelt op die warm vla en dan gaan die lagies in een smelt.

5. Smeer weer ‘n laag kondensmelk. 
Jy kan besluit of jy dit in baie lagies wil maak waar die koekies die lae definieer of jy kan net een tert met 2 lae maak.

6. So ‘n lagie koekies, vla en kondensmelk mengsel is die volgorde van werk, lekker speel!

7. Klits die room met die strooisuiker tot styf en geur met vanielje geursel.
Smeer bo op die tert en sprinkel neute, krummels of net wat jy lus het voor oor.

HOEVEELHEID: 8 - 10 mense.

BRON: Hantie Bezuidenhout.

Saterdag, 11 Julie 2015

SJOKOLADE EN NEUT PAVLOVA ROULADE

Veerlig, sag en romerig, smaak my 'n engel het op my tong gepiepie!

RESEP
4 Ekstra groot eiers by kamer temperatuur
250 ml Strooisuiker, gesif en ekstra vir dekorasie
5 ml vanielje of karamel geursel
15 ml asyn
20 ml mielieblom (maizena / cornstarch)
50 g amandels - gevlok en gerooster - enige ander neut kan gebruik word
200 g donker bak sjokolade - fyn gekap en gesmelt
1 blikkie karamel kondensmelk
125 ml vars room - styf geklop

METODE
1. Voorverhit oond tot 160 ˚ C. Smeer ‘n swissroll pan met afmeting 30 x 25 cm en voer uit met waspapier. Spuit die waspapier weer en strooi ‘n dik laag mielieblom om die meringue later makliker uit te keer en die papier af te trek.

2. Klits die eierwitte tot stywe punt stadium. As jy die bak omdraai en oor jou man se kop hou moet die eierwitte nie uitval nie. Maar moenie dit droog klits nie.

3. Voeg die strooisuiker by die eierwitte lepel vir lepel en hou aan klits. Maak seker voor elke byvoeging dat die suiker goed ingelikts is, 2 minute se klits na elke byvoeging. Hierdie is die maak of breek van die pavlova en vergemaklik die rol van die roulade.

4. Sodra al die suiker ingewerk is voeg die asyn, mielieblom en geursel by.

5. Smeer in die bakplaat en bak vir 20 minute of totdat krakerig en styf.

6. Terwyl die pavlova bak smelt die sjokolade oor ‘n dubbel koker.
Onthou die water in die onderste kastrol moenie die bak se bodem raak nie anders gaan jou sjokolade skif.
Moenie die water woes kook nie want as daar ‘n spatsel in jou sjokolade kom gaan dit ‘n klont vorm en jy sal moet weggooi en oor begin.

7. Meng die karamel met die sjokolade en roer goed deur.

8. Keer die gebakte rol uit op ‘n vadoek wat met baie strooisuiker en amandels besprinkel is.
Laat 5 minute afkoel.

9. Smeer die karamel oor die rol en laaste die room. Onthou die karamel mengsel moet afgekoel wees anders smelt die room as jy dit opsit.

10. Rol op en verkoel goed voor bediening.

HOEVEELHEID: 6 porsies.

BRON: Annelien Pienaar.

BOTTERSKORSIE EN FETA SOUTTERTJIES

Hierdie is een van die wonderlikste tertjies om te maak, dit kan vele twists kry deur net die groente wat gebruik word af te wissel. 
Vervang bloot net die Botterskorsie met spinasie, eiervrug, aartappel, murgpampoentjie of selfs beet, die lys is nimmer eindigend. 
Vir vegetariese vriende en ook mense op spesiale dieëte is hierdie ‘n wonderlike happie om voor te sit. 

RESEP
kg botterskorsie
100 ml grasuie - fyngekap
25 ml olyfolie of grapeseed oil
30 g botter
2 medium uie - fyn opgekap
2 knoffel toontjies
200 g feta - gekrummel
6 groot eiers
250 ml room - kan met Ideal melk vervang word
15 ml kruie van keuse
peper

METODE
1. Voorverhit oond tot 180 ˚ C.
Berei 2 x 12 holte muffin panne voor.

2. Skil en sny die botterskorsie in blokkies van 2 x 2 cm en blansjeer tot amper sag.

3. Verhit olie en botter en soteer ui tot glansend.

4. Voeg dan die knoffel by en braai vir ‘n minuut.
Moenie die knoffel aan die begin by die ui sit nie, dit gaan hard en bitter word.

5. Verkoel effens en voeg by die afgekoelde botterskorsie en feta.

6. Meng die eiers, room, peper en kruie saam.
Wees versigtig met die sout, die feta is nogal baie vir die resep en jy kan maklik te veel sout by sit.
Ek sit geen sout by nie maar dit is jou keuse.

7. Meng die 2 mengsels en skep in muffin pannetjies.

8. Bak vir 25 - 30 minute.
Laat vir 5 minute in die pannetjies afkoel voordat dit ontvorm word.

VARIASIE
1. As jy spek, worsies en vleis wil insit kan jy 750 g groente vat en 250 g vleis insit.

HOEVEELHEID: 24 muffins.

BRON: Annelien Pienaar.

Vrydag, 10 Julie 2015

PIESANG KARAMEL POEDING

Hierdie resep is ‘n groot geskenk van Rista Greyvenstein se persoonlike resep versameling. Sy het te vertel dat haar man nie ‘n poeding mens is nie en hierdie piesang poeding is een wat hy baie geniet. 
Ek het hom gebak en dit is voorwaar ‘n groot bederf op die smaak kliere.

BESLAG
2 kop koekmeel
½ kop strooisuiker
4 baie ryp piesangs - fyn gedruk
1 tl bakpoeier
1 tl koeksoda
½ kop appelkooskonfyt
1 kop volroom melk
3 e botter - gesmelt
1 groot eier -  geklits
1 tl vanielje geursel
knippie sout

STROOP
1 kop bruinsuiker
4 el stroop
1 blik Idealmelk
½ kop water

METODE
1. Voorverhit die oond tot 180 ˚ C.
Smeer ’n oondvaste pan met botter.

2. Sif koekmeel, sout, bakpoeier en koeksoda saam.

3. Gooi suiker by, roer liggies deur.

4. In ‘n ander lekker groot mengbak gooi die gooi fyn piesangs, melk, gesmelte botter, eier vanielje geursel en konfyt en meng liggies saam.

5. Gooi nou bietjies bietjies gesifte koekmeel op ‘n slag by tot alles lekker gemeng.

6. Gooi in gesmeerde pan.

STROOP
 In ’n kastrol bring al die bestandele tot kookpunt, verwyder van plaat en roer tot suiker opgelos is. Gooi nou die helfte van die stroop versigtig oor die agterkant van ‘n eetlepel oor die rou deeg.
Sit dadelik in die voorverhitte oond en bak vir 40 minute tot goudbruin.

8. Bring die res van die stroop tot kookpunt en gooi oor die poeding sodra uit die oond kom.
Sit dit terug in die oond vir so 10 minute totdat dit borreltjies maak.
Laat rus vir so 20 minute voor jy dit opdien met roomys of lekker styfgeklopte room.

HOEVEELHEID: 1 reghoekige 23 x 19 cm bak.

BRON: Rista Greyvenstein, 2015-07-10.

Maandag, 06 Julie 2015

PAMPOEN MUFFINS

As jy op 'n speel-speel manier jou kind pampoen wil laat eet is hierdie muffin met bietjie roomkaas versiersel of glansversiersel net die ding! Hoop julle gaan hierdie een netso baie soos my gesin geniet.

RESEP
2½ k Koekmeel
½ t Kaneel
¼ t Neut muskaat (nutmeg)
¼ t Naeltjies (cloves)
¼ t Gemengde kruie (all spice)
½ t Sout
1 t Koeksoda
1 t Bakpoeier
1/2 tot 1 k Suiker (Gebruik sagte bruinsuiker, gee heerlike karamel smaak)
¾ k Olie
1 t Vanielje geursel
2 Eiers
½ k Karringmelk of plein joghurt
1½ k Pampoen puree - gekook en fyn gemaak - nie waterig
ekstra Bruinsuiker en neute van keuse om op die muffins te sit voordat dit gebak word

METODE
1. Voorverhit die oond na 180 ˚ C en spuit muffin panne of 2 brood pannetjies.

2. Sif die koekmeel, kaneel, neutmuskaat, naeltjies, allspice, sout, koeksoda en bakpoeier saam.

3. In ‘n mengbak met ‘n klitser klits die suiker, olie en vanielje geursel saam tot lig en donsig.

4. Voeg die eiers een vir een by, die eier moet eers weer romerig word voordat die volgende eier bygevoeg word.

5. Vou die karringmelk, pampoen puree in die eier mengsel in met 'n metaal lepel.

6. Vou dan die droë bestanddele by.

7. Skep pannetjies ¾ vol,  sprinkel met bruinsuiker en neute.

8. Bak vir 20 - 25 minute 180 ˚C.

9. As afgekoel versier met glans versiersel.

HOEVEELHEID: 15 muffins of 2 brode van 23 x 10 x 8 cm.
(Bak die brode by 170 ˚C vir 60 minute).

BRON: Annelien Pienaar.

Sondag, 05 Julie 2015

GESTOPTE BEESFILLET MET GEROOKTE MOSSELS

Wat ‘n groot bederf!
Tannie Lili Dreyer het met ons een van haar wonderlike vleisdisse gedeel.
Ons het dit vanmiddag oor die kole gemaak en dit is voorwaar iets uit ‘n ander era! 
Tannie Lili is een van Boerekos met ‘n Twist se oudste lede en ons kan sommer nog baie by hierdie fyn vroutjie leer, kom eet gerus saam.


OPMERKING
Ek het die rol die vorige aand gemaak murg sag van die binne kant gemaak. 

RESEP
1.5 kg  mooi afgewerkte filet (vette, senings ens verwyder)
sout en swart peper 


STOPSEL

1 blikkie gerookte oesters of mossels
100 g vars broodkrummels
45 ml pietersielie - gekap
10 ml tiemie - gedroog
sout en swart peper
30 ml botter
1 klein uitjie - gekap
30 ml droë sherrie
50 ml suur room
1 pakkie streepspek 


METODE
1. Maak ‘n diep keep aan die kant van die filet tot amper by die endpunte. 
Die fillet word dan oop gevlek om die vulsel op te sit.

2. Meng al die bestanddele van die vulsel saam behalwe die spek repies.

3. Vul die gat met die vulsel en werk dit toe met naald en lyngaring om die vorm te behou.

4. Vryf die sout en peper buite om. 
Draai nou die hele snit toe met die streepspek .

5. Plaas dit op n rooster bo op ‘n pan met water sodat die vet in die water kan drup en ‘n rokery voorkom. 
Bak dit by 180 ˚ C - 190 ˚ C vir 25 - 30 minute.

6. Laat dit ‘n paar minute rus voordat dit skywe gesny word.

HOEVEELHEID: 6 - 8 porsies.

BRON:
Lili Dreyer.