Saterdag, 27 Junie 2015

TANNIE TASIA SE VENISIESE VINGERS


In die gemeenskappie waar ek groot geword het van Skeerpoort, was daar ‘n Italiaanse vrou, tannie Tasia Cappitani. Ek onthou die tannie het vreeslik baie geraas, maar sy het ‘n hart van goud gehad. As ons 3 dogtertjies saam met my Mammie die melk gaan haal het dan het sy ons in genooi om van haar “Italiaanse” koekies te kom eet met Oro’s. Ek kon as kind net nie genoeg van hierdie koekies kry nie. Om ekstra koekies te kon kry moes ek die slingertjie draai van die room afskeier, ek hoor nou nog die geping-ping van die kontrepsie, vandag het ek ‘n rooie en ‘n bloue in my kombuis. Sy het vir my Ma hierdie reseppie gegee, soos die tyd verby gegaan het, het ek paar kinkels ingewerk. Hier is die oorspronklike resep en onder aan variasies.

RESEP
175 g botter - kamertemperatuur
½ kop mielieblom (maizena)
1 kop koekmeel
¾ kop versiersuiker
1 ml sout

METODE 
1. Voorverhit oond na 180 ˚ C. Berei 'n bakplaat soos volg voor - spuit kleefwerende kos sproei op en sif dan mielieblom op en skud die ekstra af.

2. Verroom die botter en versiersuiker tot lig geel en donsig, dit sal ongeveer 5 - 8 minute neem. As jy dit nie ordentlik doen nie, gaan die koekie nie suksesvol wees nie.

3. Sif die mielieblom, koekmeel en sout saam.

4. Meng die meelmengsel met die bottermengsel.

5. Neem nou ‘n versier sak en pas ‘n groot stêr punt in. Ek verkies om die materiaal sakke te gebruik omdat dit nie so maklik skeur nie. Die rede hoekom - jy gaan die sak vul met die mengsel en die bo kant baie styf opwen om die mengsel afwaarts te dwing. Soos jy die heeltyd spuit, moet jy die sak opwen.

6. Trek in die stoffies van die mielieblom op die bakplaat strepies met jou vinger vir die lengte wat jy die koekie wil hê.

7. Bak vir 10 - 15 minute totdat mooi goudbruin van kleur.

8. Laat die koekies afkoel en doop punte in gesmelte sjokolade en sprinkel met 100’s ‘n 1000’s of doop die punte in glans versiersel.

Plaas die gedoopte vingers op gesmeerde bakpapier om later maklik te kan verwyder sonder om die koekies te breek.

VARIASIES
1. Neem die helfte van die mielieblom en vervang dit met vla.

2. Voeg 50 g fyn gekapte pekans by die mengsel en spuit met ronde punt.

3. Spuit blommetjies en plak met sjokolade aan mekaar vas.

HOEVEELHEID: 20 vingertjies

BRON: Tasia Cappitani




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking