Vrydag, 26 Junie 2015

SJOKOLADE BESKUITJIE BLOKKIES

Hierdie is die ideale reseppie vir die jongspan om tuis self te maak, natuurlik onder Ma se wakende oog of hopelik Ouma!
Ouma’s en tannie’s het nou maar een maal net die gawe om ‘n kind te bederf en goed toe te laat wat Mamma nie sal nie.
Dus is hierdie reseppie veilig en maklik vir ‘n kind om te volg, ek dink in ‘n mate het my een seun, so ‘n klein ondeunde rooikoppie vinnig geleer lees met begrip.
Ons het altyd gesukkel om hom die liefde vir lees aan te leer totdat die kook gogga hom gebyt het, toe kom ek mos agter die man wil goed lees wat sin maak!
Hopelik maak dit die lees gogga ook vir ander maters wakker.

RESEP
250 g Rama of Stork Bake
500 g versiersuiker - gesif
5 el kakao - gesif
2 tl vanielje geursel
1 eier - geklits
2 pakkies Marie koekies - ek het al met Tennis beskuitjies ook gemaak - breek met die hand in Rice Crispie groottes (Fyn sensoriese en middellyn kruising spiere word hier geoefen!)

METODE
1. Smelt die margarien oor medium hitte en roer die versiersuiker, kakao en vanielje geursel by.

2. Haal van die stoof af en klop die eier vinnig by.

3. Gooi die koekies in die kastrol en meng deeglik met die kakao mengsel.

4. Druk in gesmeerde panne in die dikte van jou keuse uit.

5. Laat effens afkoel en sny in blokkies.

6. Laat heeltemal afkoel in die yskas.

7. Maak jou Ma se kombuis skoon en eet alles alleen op!

VARIASIES
1. Haal 'n ½ pakkie koekies uit en sit 1 kop gekapte pekans in.
2. Haal 'n ½ pakkie koekies uit en sit 1 kop gekapte kersies in.
3. Smeer bokant met karamel kondensmelk en gooi gesmelte baksjokolade oor.

HOEVEELHEID: Halwe oondpan

BRON: Onbekend

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking