Maandag, 29 Junie 2015

REËNBOOG JELLIE VINGERS

As kinders het my Mammie hierdie dromerige jellie reënbogies vir ons gemaak. 
Deesdae maak ons dit vir die kinders met hul “markdag” of “entrepreneurs” dae. 
Plaas dit in deursigtige houertjies, kinders is gek daarna! 
My seuns maak dit self en natuurlik moet ek die heeltyd keer of daar eindig geen kondensmelk in die mengsel op! 
Hoop julle kinders gaan ook groot-oog na hierdie lekkerny staar soos myne het die eerste keer dat ek dit gemaak het!

RESEP
2 blikkies kondensmelk
150 ml gelatien (ja ek weet dit lyk na baie, maar dit moet so wees)
5 pakkies jellie in geel - groen - rooi, blou - pers net soos jy wil
2.5 liter kookwater

METODE
1. Meng beide blikkies kondensmelk met 450 ml kookwater.

2. Neem nog 450 ml kook water en laat 60 ml van die gelatien in die water oplos terwyl jy roer.
Daar mag geen korreltjies sigbaar wees nie.

3. Voeg die kondensmelk mengsel by die gelatien water en laat effens afkoel.

4. Maak elke kleur jellie in ‘n apparte bakkie aan.
Voeg 25 ml gelatien en 300 ml kook water by elke kleur jellie en roer goed totdat al die gelatien opgelos het.

5. Voer bakplate met kleefplastiek uit en gooi die jellie elkeen in sy eie pannetjie uit.
Die kleefplastiek sal help om die jellie later maklik uit te lig en die lae op mekaar te stapel.
Ek gebruik ‘n 33 cm by 23 cm pannetjie.

6. Sodra die jellie effens begin set, as jy aan dit raak moet dit nie aan jou vinger vas sit nie, dit mag dalk nog loperig wees onder die lagie solank dit net nie sal oplos as jy die kondensmelk lagie bo op smeer nie.

7. So smeer dan die kondensmelk op en laat die kondensmelk ook net effens set.

8. Lig dan die een laag na die ander uit en plaas die lae op mekaar en onthou om die plastiek af te trek.
Hou so aan totdat al die lae opmekaar is.

9. Laat weer stol in yskas vir 3 ure en sny in vingers, koekie drukkers is ook pret om die verskillende vormpies te maak.
Of maak een groot koekerasie.

10. Lekker speel!

HOEVEELHEID: 40 blokkies

BRON: Annelien Pienaar

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking