Sondag, 21 Junie 2015

PAMPOEN MUFFINS MET KARAMEL VLA SOUS


Pampoen Muffins met Karamel vla sous.
Hierdie resep is uit nood gebore nadat my Vadersdag ete in detail uitgewerk was en ek my Pa heerlik wou bederf, toe tref die noodlot my.
Die pampoen is waterig en my olie om die poffertjies in te braai, het uitgeloop.
Dus tyd was min en ek moes nood gedwonge dit in 'n muffin met 'n sousie by omskep.
Die koekmeel en eier is vermeerder om die pampoen 'n sponserige tekstuur in plaas van dig en swaar te gee.
Almal het heerlik geëet en nie van die krisis geweet nie.
Dankie Ma, ek weet Mammie het oor my skouer geloer en net kop geskud!


RESEP
500 g pampoen - gaar en goed gedreineer nadat dit fyn gemaak is.
2 eiers - geskei
Roomys scoop vir porsionering.
300 g koekmeel - gesif
15 ml bakpoeier
½ tl koeksoda
½ tl kaneel
½ tl sout
100 ml karringmelk of gewone yoghurt

METODE
1. Klits eierwitte styf.

2. Sif al die droë bestanddele 2 keer saam, net om seker te maak die koeksoda en bakpoeier is eweredig versprei in die meel.

3. Meng die eiergeel, pampoenmoes en karringmelk saam.

4. Meng die droë bestanddele met die karringmelk mengsel.

5. Vou die eierwitte in by die beslag in 'n figuur 8 beweging.

Kyk hoe netjies!
6. Skep in vooraf bereide muffin panne en bak vir 30 minute by 180 ˚ C. Ek gebruik my roomys scoop om eweredige porsies te kry.
Onthou om die pannetjies nie te vol te skep nie, ¾ vol is perfek.

7. As die pannetjies leë gaatjies het soos in die foto, vul dit met water sodat al die muffins eweredig kan bak.
Half vol is perfek.

STROOP
300 g suiker
300 ml water
150 ml melk
50 g botter
10 ml mielieblom
10 ml vlapoeier
knippie sout
5 ml karamel geursel

METODE
1. Maak die mielieblom en vlapoeier aan met 100 ml van die water en hou eenkant.

2. Smelt die suiker in die melk en water oor lae hitte.
 Sodra die suiker gesmelt is voeg die botter by en kook die mengsel vir 2 minute.

3. Voeg die mielieblom mengsel by en kook vir verdere 2 minute totdat die mengsel verdik het.

4. Verwyder van hitte en voeg die karamel geursel by.

5. Skep lepels vol van die mengsel op die warm muffins sodat dit goed absorbeer kan word...

HOEVEELHEID: 24 muffins.

BRON: Annelien Pienaar en Hantie Bezuidenhout.



2 opmerkings: