Donderdag, 25 Junie 2015

OUTYDSE KAAPSE MELKTERT

Hierdie was altyd ‘n treffer melktert by elke kerkbasaar op Skeerpoort.
Die wyse waarop die skilferkors die melktert so om arm was altyd net vir my te mooi vir woorde.
My ma het net die kuns geken van pastei deeg verstaan of ek dink die 2 het mekaar gevind na jare se bak!

RESEP
VULSEL
1 liter melk
200 g witsuiker
6 eiers - geskei
30 g botter
25 g mielieblom (3 el afgeskraap) (maizena)
20 g koekmeel (3 el afgeskraap)
10 ml vanielje geursel
knippie sout

METODE
1. Smeer die boom van ‘n kastrol wat jy weet nie maklik aanbrand nie met olie.
Verhit 3 koppies melk tot kookpunt, roer gereeld met ballon klitser sodat dit aanbrand voorkom.

2. Meng die res van die melk met die koekmeel en maizena.

3. Klits die eiergele en suiker tot baie lig en donsig.

4. Meng die melk mengsel met die eiergele.

5. Voeg die eiergeel mengsel by die kokende melk en roer met ballon klitser deeglik deur.
Draai hitte af na baie stadig, stoof no 2 of gas op die laagste en kleinste brander.
Laat presies 10 minute kook.

6. Klits die eierwitte tot stywe punt stadium.

7. Sodra die melktertpap gaar is, klits die botter, sout en vanielje geursel by.
Klits die pap totdat dit glad en egalig is.
Vou die eierwitte by die mengsel in met figuur 8 aksie terwyl jy die bak in die rondte draai.
Gebruik ‘n metaal lepel vir die aksie.

8. Skep dadelik in warm gebakte tertdop en bak weer vir ‘n verdere 15 - 20 minute by 170 ˚ C of totdat die tert bo op wil bruin word.

9. Laat die tert by kamer temperatuur afkoel en MOENIE in yskas plaas om af te koel nie, dit gaan krake maak!

11. Sodra afgekoel, sprinkel kaneel of klapper op.


KORS
1. Een keer se aanmaak van die Skilferkors resep op die blog. http://boerekostwist.blogspot.com/2015/06/skilferkors-deeg.html

2. Deel die deeg in 2.
Rol die deeg ongeveer ‘n halwe sentimeter uit.

3. Ek gebruik ‘n erde skottel vir die bak van my melkterte.
Dus meet die deeg 5 cm groter as die omgekeerde bord op die deeg.

4. Sny die sirkel en tel versigtig met die hulp van die koekroller op en drappeer oor die tert bak.

5. Moenie die deeg in die bak in druk nie, lig die deeg se kante stukkie vir stukkie op en laat dit self in die hoeke in gly en druk dan saggies vas.
As jy net die deeg gaan vasdruk gaan die deeg uitermatig krimp tydens die blindbak proses en die deeg gaan ook nie ‘n eweredige dikte hê nie.

6. Prik die basis van die deeg met ‘n vurk en sprinkel met maizena sodat die basis bros kan bly.

7. Plaas dan bakpapier met die bone of rys binne in die tert bak en verkoel vir 30 minute.

8. Bak dan dadelik by 200 ˚ C vir 5 minute en verlaag hitte na 180 ˚ C en bak ‘n verdere 5 minute, verwyder bone en bak nog 5 minute sonder bone.

9. Verwyder tertdop uit oond en skep vulsel dadelik in en bak dan by 180 ˚ C vir 8 - 10 minute.

10. Laat buite afkoel en versier met kaneel of klapper

HOEVEELHEID: 2 groot melkterte 23 cm sirkels.

BRON: Annelien Pienaar


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking