Woensdag, 03 Junie 2015

SPEK EN SAMPIOEN PAP TERT



Vanaf Donderdag spook ons om die skape aan te ry na die Veilingslokaal buite die Ooste van Pretoria. Vrydag word die skape geinspekteer en dit is ‘n gewas, skeer en skrop om die diere spierwit te kry. Weet julle hoe vetterig is so ‘n skaap se pels...wel my wintershande lyk sommer weer pragtig na al die lanolien behandeling! Hoewe en horings gelukkig die vorige week geknip en gebrand.

Vandag is saterdag en die manne ry na die veiling en die skou, ek sal met die eerste sarsie se aflaai na 13h00 saam ry. Die gastehuis is volbespreek en die ateljee word beset deur 4 predikante wat besig is met spanbou en ek moet die dag se etes voorsit. Hulle eet te lekker aan die oorskiet Hummingbird koek lae.

Die manne kom, ons los die twee seuns tuis en ry vir die laaste oplaai sessie. Ek het vir die kinders oorskiet gelos van die etes van die predikante en so gaat ons op ons tog. Daar gekom is dit sterk skemer en die mense het die store gesluit en die laaibrug is toegesluit. Ou George, ons ou tuinman wat moes oppas het paar “happies” in en vreeslik spraaksaam. Die duiwel allenig weet waar hy die voggies gekry het! George gooi net hekke oop en dit is een moewiese gemors, die ramme en die ooie meng, die nuwe kudde en die ou kudde wat nie verkoop is raak deur mekaar.

Ek skree soos ‘n mal mens, hy moet stop, hoe meer ek skree en waai met die arms om te stop, hoe yweriger gooi hy die hekke oop...George hoor niks met die malende, blêrende skape nie! Ek spring van die een hekkie na die ander, net om die man te loop stop, my voet hak vas en ek donder na benede met ‘n hengse slag. My man hoor die remoer en kom om die hoek... die een ram besluit hy is ‘n springbok en seil oor die tralies en tref my man met die horing op die wangbeen. Die arme man is vir paar sekondes uit soos ‘n kers! Die bloed loop en en George verstaan nie wat de emmer nou aangaan, hy maak net hekkies oop...te lekker.

Moedeloos help ek eers my man en ons begin met die sorteer werk van die deurmekaar skape, die ramme wil net werk en dit was nie die plan nie. Al die diere word opgetel om in die wa te gaan. Twee ure later laai ons die ramme en “springbok” is nog op vrye voet...ons kry die meneer gevang en net vir my man om weer neer te slaan en sy knie velle te verloor. Sy woorde was nie so mooi en ek weet ons gaan verseker hierdie week slag! Ons is moeg, honger en stink net skaap. Dit is na 20h00 wat ons die pad terug huistoe aanpak.

Op die pad kry ek die oproep: “Mamma, hoe maak mens mieliepap, die vleis is klaar gebraai.” Ek verduidelik en die kinders bel nie weer nie. So neem ek aan die manne is mos nou reg. Kom by die huis, laai af en skrop myself om van die skaap reuk ontslae te raak. Ons gaan sit aan vir lekker braaivleis, pap en kuier met die kinders. Die pap het toe so bietjies te veel uitgekom want boetie het die hele 2 kg meel in die kleine potjie gegooi. Lang storie kort, die geboorte van die paptert is soos volg.

STYWE PAP
1 liter water
10 ml sout
30 ml botter
625 ml mieliemeel - grofste wat jy kan kry!!


METODE
1. Kook die water, botter en sout saam.

2. Roer die mieliemeel by die borrellende water by en hou aan roer totdat jy voel die meel verdik.

3. Plaas deksel op en prut op stadig vir 30 minute.

4. Laat die pap afkoel terwyl jy die vulsel voorberei

VULSEL
250 g spekvleis - opgekap of maer ham
250 g sampioene - fyn gesny
1 ui - baie fyn opgekap
125 ml spinasie puree - opsioneel
250 ml room of lae vet melk
400 ml cheddar kaas
1 groot blik pit mielies
1 groot blik suiker mielies
sout en peper na smaak
origanum vir bo op strooi
ekstra kaas vir bo op strooi
In ringkoekpan gebak!

METODE
1. Braai spek, sampioene en ui tot glansend en bros.
Laat effens afkoel.

2. Voeg die room, kaas, mielies en geur middels by.

3. Pak die pap en die vulsel in lae op mekaar.
Eindig met ‘n vulsel laag.
Sprinkel met kaas en origanum.

4. Bak vir 30 minute by 180 ˚ C.

Variasies:
1. Maak die lagies in kolwyntjie pannetjies vir individuele porsies.
2. Laat afkoel en sny in perfekte vierkant skywe of vorms van keuse.

PORSIES: 8 - 10 persone.

BRON: Hantie Bezuidenhout.

1 opmerking: