Maandag, 01 Junie 2015

OUMA HANTIE SE MELKTERT


Hierdie wonderlike melktert resep is al vir 10 generasies in die familie en het nog nooit teleurgestel nie.
My hart raak sommer week as ek dink, Ma se hande, hulle was altyd so sag en het to so lekker gewerk, van kosmaak, koekbak, ruggies krap, tere herinneringe.

LES
1. Die eiers moet baie goed met die suiker verroom word totdat dit 'n dik massa word.
Sonder om te tegnies te raak is die klitsery se werk om die eier te laat stol (koaguleer) amper soos om dit gaar te maak.
Hier word dit net met 'n klitser gedoen.
Die punt waarby ons gaan uitkom, dit gaan direk in die warm kokende melk en dit gaan skif as dit nie genoegsaam geklits is nie.

2. Jy gaan eers 'n koppie kokende melk by jou eiermengsel sit om te voorkom dat die eier skif.
Dan word die eiermengsel direk in die kokende melk gevoeg.

3. Sodra die mengsel gaar is moet dit weer deeglik geklop word om dit satyn sag en egalig te maak.

4. Smeer altyd die bodem van jou kastrol met olie voordat jy die melk ingooi om te verhit.
Dit help voorkom dat die melk vasbrand.

RESEP
1 liter melk
6 eiers
1 kop suiker
3 el mielieblom - gelyk (45 ml) (maizena)
3 el koekmeel - gelyk (45 ml)
3 el botter
1 tl vanielje geursel

METODE
1. Jy het 'n kastrol met 'n volume van 5 liter nodig vir hierdie melktert anders kook die inhoud later oor.
Verhit die melk tot kookpunt.
Terwyl jy wag vir dit om te begin kook.

2. Klits die eiers en suiker saam vir 5 minute op hoog of totdat dit dik en romerig en lig van kleur is. Voeg dan die mielieblom en koekmeel by rn klits deeglik sodat daar geen meelklonte teenwoordig is nie.

3. Sodra die melk begin kook voeg eers 'n koppie melk by die eiermengsel, klop deeglik deur en voeg dit terug by kokende melk.

4. Hier kom die geheim - presies 10 minute van kook!
Verlaag die hitte na stoof plaat 2 of vir gas na die laagste verstelling.
Plaas deksel op en moenie oplig voor 10 minute verby is nie.

5. Na 10 minute voeg botter en vanielje geursel by en met behulp van 'n ballon klitser (whisk) klop sodat die mengsel glad en satynagtig word.

6. Skep dadelik in voorbereide bakke.

KROEK KORS
1 pak Tennis beskuitjies - fyn gemaak
100 g botter

METODE
1. Maak die tennisbeskuitjies fyn in voedsel verwerker en gooi die gesmelte botter by die mengsel.

2. Druk in gesmeerde pan.
Gebruik dadelik.

LEWER: 3 x 23 cm terte.

BRON: Hantie Bezuidenhout.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking