Maandag, 15 Junie 2015

KWEPER LEKKERS

Hierdie lekkerny het ons menige keer as kind help maak, veral die maal proses en die deurvryf deur die sif.
Dankie tog vir tegnologiese vooruitgang en die voedselverwerkers wat vandag alles soveel makliker maak.
Hierdie lekkerny val in die klas van vrugte lekkers en is wonderlik in die sin dat daar geen preserveermiddels in is nie.
Ons kosblikke het altyd geblom van hierdie kweper lekkers en die maats het altyd tou gestaan vir ‘n happie.

RESEP
gelyke dele moes tot gelyke dele suiker
25 ml sout
45 ml asyn

METODE
1. Was die kwepers deeglik en vryf die donsies met ‘n growwe lap af.
Al die dele, selfs die skille en klokhuis word gebruik, so moet niks weg gooi nie.
Maak seker dat al die dons afgevryf word anders gaan dit ‘n irritasie op die tong veroorsaak as dit geëet word.

2. Skil die vrugte af en verwyder die klokhuis en hou eenkant vir later.
Sny die vrugte in blokkies.

3. Plaas die vrugte stukke in 4 liter water aangemaak met sout en asyn om verkleuring te voorkom.

4. Kook die skille en klokhuis vir 30 minute in net genoeg water om dit halfpad te bedek.

5. Syg deur gaasdoek en moenie dit deur forseer om dit te druk nie.
Neem hierdie vog en voeg dit by die vrugte blokkies wat gedreineer is.
Voeg nog water by om die vrugte net-net te bedek.

6. Kook die vrugte by matig vinnige hitte totdat dit pap en sag is.
Plaas in voedsel verwerker en puree dit.
Vryf die moes deur ‘n sif om seker te maak die moes is egalig en nie klonterig.

7. Voeg gelyke dele suiker by gelyke dele moes.
Dit wil sê as jy 500 g puree het gaan jy 500 g suiker gebruik.

8. Smeer ‘n kastrol met olie en kook dan die suiker en puree saam totdat die puree lyk of dit begin wegtrek van die kante.

9. Gooi die moes in ‘n gesmeerde bakplaat met ‘n dikte van 3 cm, die vrugte moenie dikker wees as
3 cm nie anders neem dit te lank om uit te droog.

10. Laat die mengsel vir 4 - 5 dae staan totdat dit droog en nie meer taai is nie.

11. Sny in blokkies en rol in strooisuiker.
Laat weer 4 dae lank droog word en verpak in lugdigte houers.

BRON: Kit Bezuidenhout (Ouma Groot).

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking