Sondag, 03 Mei 2015

VYE KONFYT

Hier is die beloofde vye resep.
Dit is 'n lang ene maar ek het moeite gedoen met onderliggende kennis opbou, lees deeglik asb.
Basiese beginsels by konfyt kook.

LES
1. Die eerste en belangrikste beginsel van enige inmaak proses (preservering) is 'n steriele omgewing, toerusting en praktyke.
Maak seker dat jou kastrolle, toerusting, werksoppervlaktes, kapplanke, messe, vadoeke en bottels gestriliseer is voordat jy begin.

 2. Dit is belangrik dat die water en suiker saam baie stadig verhit word en die heeltyd geroer word, sodat al die suiker kristalle oplos, die mengsel MAG NIE kook voordat al die suiker opgelos het nie, die kante van die kastrol moet die heeltyd met 'n kwassie en skoon water afgewas word om kristal vorming tee te werk.

 3. Wanneer konfyt gekook word, is dit belangrik dat jy die volgende beginsel onder die knie kry, hoeveelheid suiker, vrug en vog tot die kooksel.
Ek kook konfyt uit my kop uit, nie omdat ek dink ek is slim nie maar omdat ek my verhoudings ken.
Dus: 1 deel vrug tot 1 deel suiker.

4. Jy moet altyd 'n suur by die konfyt voeg om kristal vorming tee te werk.
Met amper 25 jaar se kook ervaring kan ek, na al my eksperimente (flops, baie van) vir julle aandui dat jy nie sonder 'n suur kan werk nie.
Meeste resepte verwys na suurlemoensap, ek verkies om vars te gebruik, die botteltjies is verdun,
ek het dit al met 'n pH meter getoets!
Wanneer mens 'n suur byvoeg doen ek dit die laaste 15 minute voordat die produk gebottelleer word.
Ek vind dat die suur dan nie sy werking later van tyd verloor nie, dit kook uit as jy dit in die begin bysit.
Die ander funksie van die suur is om te help met die pektien om 'n meer jellierige tekstuur te gee.

5. Geurmiddels saam met konfyt verbeter en versterk die vrug se smaak.
Ek is baie lief om 'n duim grootte knoppie gemmer by my vye kooksel te voeg.
Hoe langer die vye in die bottel staan hoe intenser word die geur, amper so 'n liquirish smaak.
Kaneel stokkies, ster anys, casja bas, pynappel en appel kan ook bygevoeg word.

6. Ek gebruik hier net pas ryp vrugte vir die vye halwes en effens papper vir fyn vye konfyt, geen van my vye word geskil nie, onthou die vye se sap brand erger as rissies, handskoene word aanbeveel as jou vel baie sensitief is.

7. Ek smeer altyd my kastrolle se bodems met olie om veral by fyn vye aanbrand te voorkom.

8. Ek vries ook my vye as ek baie het met die suiker oor.
Dan soos ek tyd kry kook ek die vye.
Laat die vye ontdooi by kamertemperatuur en verhit baie stadig totdat al die suiker opgelos het.

9. Die steriliseer van die bottels is die sukses verhaal van die eindproduk en as dit behoorlik gedoen is kan jou vye tot 24 maande op die rak goed bly.
Was met warm seep water die bottels binne en buite asook die deksels, moenie dink as jy bottels in groot maat koop dat dit skoon is nie, dit is nie so nie, die bottels se proppe word deur mense op gedraai, ek was by Consol en het gesien hoe dit gedoen word.
Sit die nat bottels in jou oond op
100 ˚ C om dit droog te maak en warm te hou, asook dit te steriliseer.
As jy lui is soos ek, skottelgoed wasser toe en dan oond toe.

10. Jou toerusting lysie gaan soos volg lyk.
5 - 10 liter kastrol
soplepel
bakke met skoon water vir afskep van skuim en afwas van kante van kastrol
vleis tangetjie om die warm bottels uit die oond te haal
piering vir die bottels om in te staan as jy hulle volskep
droë lappe vir die vashou en toe draai van flessies
Warm flesse bevorder ook 'n goeie vakuum seel tydens bottellering.

11. Moenie die warm bottels met 'n nat lap probeer afvee nie want dit gaan bars, moet dit ook nie in water dompel nie, dit gaan bars.
Draai die bottel op sy deksel en laat so afkoel.
Plaas dit dan na die tyd in koue diep water om die taai te verwyder, koue water werk beter as warm.
Die rede vir op die kop draai,  daar vorm waterdamp in die binnekant van die bottel.
Sodra jy die bottel terug draai los daardie vog van onderaf op en deur osmose beweeg dit na bo om die suiker konsentrasie eweredig te versprei, dus kan daar nie goggas groei nie.
Het jy al gekry dat jy jou konfyt oop maak en daar is 'n skimmel velletjie op?
Wel omdat dit nie omgedraai is nie het die water damp net daar bly lê en die suiker is mos nou verdun en die bakteriee kan lekker begin groei.
Ek weet ook dat die konsep bydra tot 'n digte seel.

RESEP VIR VYE STUK KONFYT
1 kg vye halwes - slegte plekkies uitgesny en afgespoel
800 - 1000 g wit suiker
1 kop water
2 el vars suurlemoensap
1 toontjie gemmer - afgeskil en in baie dun skywe gesny (so groot soos jy duim se kop)
knippie sout


METODE
1. Op lae hitte los al die suiker in die water op, roer gereeld en was die kante van die kastrol met kwassie en skoon water af.

2. Sodra al die suiker deeglik opgelos is kook die stroop vir 5 minute.

3. Voeg gemmer by die kokende stroop.

4. Voeg die vye halwes in 4 bondels by, dus voeg die eerste hopie by die kokende stroop, roer deur en wag dat die mengsel weer begin kook en voeg die volgende by, hou so aan totdat alles bygevoeg is.
Dit is baie belangrik om die stroop se temperatuur konstant te hou anders gaan die vye nie mooi deurskynend kook nie.

5. Terwyl die vye kook sal jy merk dat daar skuim vorm, dit is onsuiwerhede wat skimmels en giste bevat wat moet afgeskep word, die soplepel werk lekker vir die takie.
Roer net af en toe die konfyt terwyl dit matig vinnig kook.
Hoe langer jy kook hoe donkerder kom die vye uit.
Ek hou van 'n ligte vy met 'n matige stropie.

6. Die tyd wat die vye kook word bepaal deur die hoeveelheid wat jy op 'n slag kook, ek kook nooit tuis meer as 3 kg op 'n slag  nie.
So ek doen die somme as volg, jy sal dadelik sien as die vye stroop begin dik word, dit gaan nie meer net in die middel borrel en uitwaarts gaan nie, dit gaan soos stroop oral oor borrel, lyk amper soos 'n aero se borrels oor die hele oppervlakte van die konfyt, dit gaan lyk of dit soos melk wil oorkook.
Voeg dadelik die suurlemoensap en knippie sout by.
Laat dan vir 5 minute so kook en verwyder van die hitte, laat 10 minute staan voordat jy dit warm begin bottel.

7. Soms bly daar stroop oor wat jy kan stoor vir die volgende kooksel of ek kook dit verder om 'n dik stroop vir nageregte te gebruik.

Lewer ongeveer 4 - 5, 475 ml botteltjies.

BRON: Hantie Bezuidenhout (my liefste Moeder).






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking