Woensdag, 13 Mei 2015

TUISGEMAAKTE MALVALEKKERS

Hierdie twee resepte wat ek met julle deel is al vir paar generasies deel van ons gesin.
Die eerste resep het nie eier witte in nie, dus vir mense met eier allergieë is dit heerlik lig en sponsig!

Die tweede een is die oudste van die 2 resepte en bevat wel eierwitte.

Hoop julle gaan berge van hierdie soet en sagte soentjies maak.

LES
1. Wanneer mens malvalekkers maak dan het dit baie dieselfde beginsel as met nougat maak.
Jy het ‘n suiker termometer nodig om regtig akkuraat te werk. 
En jy gaan klits dat dit my jou ore uitloop.
‘n Elektriese menger is van kardinale belang, jy gaan nie met die hand soveel lug in kan werk nie.

2. SPONS
Wanneer gelatien oor koue water gesprinkel word sodat dit kan hidreer, water kan absorbeer en dit maklik kan oplos wanneer dit verhit word.

3. SMELT VAN GELATIEN
Nooit in die mikrogolf oond nie.
Ek sit net die bakkie waarin ek die gelatien gespons het in ‘n ander houertjie met kookwater om die gelatien te help smelt.
Roer om op te los.
Vervang die water weer totdat al die gelatien gesmelt is en die mengsel soos dik stroop is.

4. Sodra die mengsel gereed is om in die pan geskep te word om te stol moet jy baie vinnig werk, die mengsel gaan stol, jy kan nie wag nie.
Maak dus seker dat al jou panne en bestanddele gereed is.

5. WAT IS DIE VERSKIL TUSSEN GLUKOSE STROOP EN MIELIESTROOP?
Glukose bevat 15 - 19% water en is ‘n inverte suiker.
Dit word gemaak in ‘n verskeidenheid konsentrasies, vir bak doeleindes is die konsentrasie dikker as mieliestroop.

Mieliestroop bevat 24% water en is gemaak van glukose en bygevoegde fruktose om kristallisering te voorkom.

Dus is die verskil net die vog inhoud wat verskil, maar eintlik dieselfde!
As jy versigtig is en die kokende suiker mooi oppas, kan gewone goue stroop gebruik word maar dan moet jy besef dat dit maklik kan brand en ‘n bitter nasmaak kan kry.

MALVALEKKER STOF
½ kop mielieblom (maizena)
½ kop versiersuiker

Sif alles 3 keer saam.
Hierdie stof word gebruik om te verhoed dat die malvalekker vas sit.

RESEP 1
2½ el gelatien
½ kop water om gelatien in te spons
½ kop water
⅓ kop glukose stroop
2 kop wit suiker
¼ tl sout
2 tl geursel -  rooswater / mint / vanielje / karamel / amandel
½ tl gel kleursel

1. Spons die gelatien in die water.

2. Plaas die suiker in ‘n hopie in die middel van die kastrol, ’n piramide!!!

3. Voeg die water by rondom die suiker om ‘n dammetjie te maak.
Draai die kastol in ‘n sirkel om die water en die suiker te meng, geen lepel in die suiker nie en geen roer!
Draai die kastrol net in die rondte.

4. Voeg dan ook die glukose by.
Was die kante van die kastrol af as daar suiker kristalle vas sit.
Doen dit deur ‘n kwassie in water te doop en dan die kristalle af te was.

5. Kook die stroop tot dit 115 ˚ C bereik of sagtebal stadium.

6. Smelt die gelatien voordat die stroop by 115 ˚ C kom.

7. Plaas die gelatien in ‘n mengbak, voeg die stroop by sodra dit op die regte temperatuur kom.

8. Klop die warm mengsel eers op stadig, jy kan hier lekker brand, die sous kan spat.

9. Sodra die mengsel skuimerig word verhoog die spoed en klits vir 10 - 12minute tot lig en donsig.

10. Voeg die kleursel en geursel by, klits die heeltyd soos jy byvoeg.

11. Skep die mengsel in ‘n voorbereide pan uitgevoer met waspapier wat gespuit is en dan met ‘n diklaag mielieblom mengsel gepoeier is.
Die bakpapier moet oor die kante van die pan gaan.

12. Maak gebruik van 2 panne wat dieselfde grootte is, die rede is, die een pan word bo op die ander pan geplaas met ‘n liter water as gewig om die mengsel mooi plat te maak.
Sprinkel ook die bokant van die malvalekker deeg met die mielieblom mengsel en sit weer gespuite bakpapier op voordat die pan met gewig op gesit word.
Onthou, doen ook so met nougat maak.

13. Los vir 3 - 4 ure om te stol, nie in die yskas nie!
Jy kan blokkies sny, vormpies druk, afval stukkies kan vir miljoenêrs tert gebêre word.
Elke gesnyde deel moet weer in die mielieblom mengsel gaan om die taaiheid weg te kry.
Die sny toerusting wat gebruik word kan met kleefwerende sproei gespuit word sodat die taai degie nie vas sit nie.

RESEP 2
2 el gelatien
¼ kop kraanwater  om gelatien in te spons
¾ kop kookwater
2 kop witsuiker
3 el goue stroop
2 eierwitte
1 tl vanielje geursel

1. Volg die stappe van nommer 1 - 10 van resep 1.

2. Klop dan apart terwyl die mengsel nog besig is, die eierwitte styf.
Vou dit dan in by die mengsel, werk hier baie vinnig en skep in pan.
Volg dan weer die res van die stappe in resep no.1

HOEVEELHEID: 1 groot oondpan.

BRON: Annelien Pienaar, 2001.




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking