Donderdag, 07 Mei 2015

ROOSMARYN SKAAPBOUD MET KNOFFEL MASALA


Roosmaryn en Suurlemoensap vir ekstra lekkerte!
LES
1. Ek verkies skaapboud omdat dit geuriger is as lamsvleis.
Ek het al so baie gesprekke oor die taaiheid van die vleis gehad maar niks kan die smaak van skaapboud vervang nie.

2. ‘n Lang gaarmaaktyd met lae hitte skakel al die kollageen en bindweefsel vir ‘n sagter smaakliker eindproduk.
Dus as jy ‘n skaapboud van meer as 5 kg gaarmaak, kyk ons na so 5 - 7 ure van gaarmaak by 100 - 110 ˚ C.
Vir kleiner boude 3 - 5 ure by dieselfde temperatuur.

3. Ek gebruik my hutspot of “slow cooker” meeste van die tyd vir die gaarmaak van groot vleis stukke.
So, nou het jy ‘n keuse van 2 gaarmaak metodes.

 4. Verbruin die boud in ‘n baie warm pan vooraf, veral as die hutspot gebruik word.
Dit is geneig om die vleis vaal te laat.
Die verbruining van die boud help ook om die vleis sappe in te seel en die boud sal heerlik sag en sappig wees.

RESEP
3.5 kg skaapboud
50 ml olyfolie
50 ml botter
1 el achaar masala sout - resep by soute afdeling
Soertissie sous en suurlemoenskywe...

10 vars roosmaryn takkies - gewas - meeste supermarkte verkoop deesdae vars kruie - hou 2 takkies heel en die res van die takkies gestroop en die blare fyn gekap
50 ml suurlemoensap
5 knoffel toontjies
½ duimpie vars gemmer - fyn gerasper
½ bottel goeie kwaliteit rooiwyn - Shiraz of Merlot met sy kenmerkende rokerige smaak werk goed vir my
3 uie - grof gekap
½ pakkie wortels - julienne repies gesny
250 g sampioene - afgevee en heel
2 stingels seldery - fyn skyfies gesny
sout en peper na smaak

METODE
1. Verhit jou pan tot rook warm.
Voeg dan eers die botter en olyfolie by.
Braai die skaapboud reg rondom bruin.

2. Laat effens afkoel.
Meng knoffel, suurlemoensap, masala en gekapte roosmaryn.

3. Maak klein snytjies reg rondom die boud, steek die mes op gereelde intervalle reg rondom in.

4. Vryf die knoffel-masala mengsel oor die boud in, jy kan ekstra sout en peper by sit.

5. Neem paar roosmaryn takkies en sny dit in 3 cm stokkies en steek dit binne in die gaatjies wat jy gemaak het.

6. Pak al die groente aan die onderkant van jou bakskottel.

7. Plaas die boud bo op en maak dig toe.
Soms as die boud dalk te groot is vir die skottel / hutspot sit ek net ekstra foelie oor.
Ek bedek my hutspot met ‘n handdoek om die gaarmaak tyd aan te help.

8. Bak die boud vir 5 - 7 ure in die oond by 100 - 110 ˚ C of vir 8 ure in die hutspot op High.

SOUS
1. Voeg 500 ml water by die vleis sous wat onder in die pan lê.
Verhit dit in ‘n aparte kastrol en voeg dan van jou witsous bêre mengsel by om die sous te verdik. Proe en pas die sout en peper aan na smaak.

2. Ek kap die groente grof op en meng dit dan in die sous by.


Hoender skottel gereg
BEDIEN MET
Geroosterde gemmer en heuning botterskorsie met beet.
Hoender groente gebak.
Molshope (kapok aartappel balletjies met ‘n gaatjie in wat met room gevul word, toe gedruk word en dan met kaas bo oor gebak)
Soetrissie sous of ment jellie.
Gemmer poeding (resep onder poeding / nagereg)

Botterskorsie en Beet met heuning.











BRON:
Annelien Pienaar vir Bos en Berg guestfarm, 2012.




1 opmerking: