Saterdag, 23 Mei 2015

ROOSMARYN LAMSKENKEL EENSKOTTEL GEREG


Ons het groot geword met skaapvleis.
Elke winter het my ouers 6 skape, 2 varke, 2 beeste en 50 hoenders geslag, dit was omtrent ‘n slag der slagting!
My tannie hulle het saam met ons die vleis gedeel en ons kinders het maar so om die slagtery en verwerking rond gespeel.
Ons het so 2 weke lank die vleis verwerk omdat die skaap en die bees moes hang om ryp te word.
Ek onthou hoe my oom die skape in die donker stoor toegemaak het sodat hulle ontspanne was voor die slag proses, hulle het nog steeds toegang tot kos en water gehad.
Laat ek vir julle vertel, ek het tot op hede nog nie weer sulke sagte skaap geproe soos daardie van my kleintyd nie.
Ons was dan bederf met ‘n skenkel potjie wat my pa gemaak het, vandag nog is hy die Potjie koning in Skeerpoort, sy potte is legendaries!
Hier is my weergawe van my pa se potjie maar in die hutspot (slow cooker).


RESEP
1 kg lamskenkels of kombinasie van nek en skenkel
1 ui -  so groot soos vuis
3 groot wortels - in dik wiele gesny
2 seldery stingels - sny in klein wieletjies
5 ml sout
5 ml roosmaryn, gedroog
5 ml tiemie
5 ml swart peper - grof gemaal
125 g botter
500 g baba aartappels - afgespoel
250 g sampioene
100 g ertjies
250 ml gedroogde appelkose
250 ml gedroogde pruimedante
250 ml appelkoos sap
60 ml bisto poeier - aangemaak in appelkoos sap

METODE
1. Voorverhit swaarboom pan en gooi die botter in.
Braai die vleis tot bruin en die vleissappe alles ingeseël is, verwyder uit pan en sit solank in hutspot.

2.  Braai die uie en die seldery in die sous van die vleis tot glansend en deurskynend.
Sprinkel oor die vleis in die hutspot.

3. Plaas al die groente en vrugte in die hutspot met 1 kop water en bedek.
Laat prut op hoog vir 6 - 8 ure of totdat die vleis van die been los kom.

4. Maak die bisto aan met die appelkoos sap en voeg by die vleis.
Laat vir 10 minute deur kook en bedien warm met stampmielies.

PORSIES: 4 - 6.

BRON: Gert Bezuidenhout.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking