Dinsdag, 26 Mei 2015

OUMA SE VLEISPASTEI ROLLETJIES



LES
1. Alle deeg moet so koud as moontlik voorberei word sodat die botter nie kan smelt nie.  As die deeg te warm word dan gaan die olie uitbak en die deeg taai en olierig wees.   Dus hou alle bestanddele so koud as moontlik.

2. Om die botter makliker in die koekmeel in te vryf rasper die koue botter by die koekmeel in, dit maak die invryf tyd aansienlik korter.


3. Moenie die eierwitte weg gooi nie. 
Ek gebruik dit om skuimpies mee te maak, sien die resep in files oor meringues.

4. Gedurende die rustyd van die deeg in die yskas deel ek die deeg in 4 dele en plaas dit in A4 grootte sakkies en rol dit in die sakkie mooi plat, dit maak die uitrol later net baie makliker. 
Soms gebruik ek nie al die deeg nie en vries dit dan net so.

5. Vorm jou maalvleis vooraf deur dit op kleefplastiek in lang rytjies te skep en dan op te rol in worsies. Laat dit in die vrieskas styf word voordat jy dit gebruik, moenie vries nie. Die rol moet ongeveer 4 - 5 cm in deursnit wees.

6. GOM EN GLANSLAAG
1 eiergeel gemeng met 100 ml melk.

DEEG
8 kop koekmeel
5 ml sout
500 g botter - Rama of Stork bake - koud en gerasper
4 eiergele
4 el asyn
2 kop yswater

METODE
1. Vryf die botter in die meel en sout mengsel, totdat dit soos broodkrummels lyk.

2. Voeg die eier, asyn en water saam en klits goed deur.

3. Meng al die eiermengsel met die meelmengsel. 
Druk liggies aanmekaar en knie liggies. Plaas in yskas om te rus terwyl die maalvleis gemaak word.

MAALVLEIS VULSEL
1 kg maer maalvleis
500 g kapok aartappels
1 tl knoffel
sout en peper na smaak

METODE
1. Maak die maalvleis goed gaar met die knoffel in. Voeg die kapok aartappels by en meng deeglik deur.

2. Laat die maalvleis afkoel voordat dit gebruik word in die deeg, onthou al die bestanddele moet koud bly.

3. Vorm die maalvleis rolletjies en plaas in vrieskas om te set.

MAAK VAN PASTEIE
1. Rol die deeg ongeveer 3 mm dik uit in ‘n reghoek. Strooi die oppervlak waarop jy rol goed met koekmeel.

2. Plaas die worsie op die deeg en smeer die randjies met melk en eiergeel mengsel, dit is jou gom en ook jou glanslaag, rol toe en druk vas.

3. Net voordat jy die worsrolletjies bak, smeer met eiergeel mengsel en sprinkel sesamesaad, papawersaad, paprika of kaas bo oor, jou keuse.

4. Hierdie worsrolle kan dan bevries word of gebak word.

5. Bak by 180 ˚ C vir 20 - 25 minute.











BRON: Hantie Bezuidenhout se resep.

LES: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za











Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking