Maandag, 11 Mei 2015

OUMA HANTIE SE KNOFFELROOM SOUS

Kyk geen huis kan sonder hierdie heerlike sous wees nie, my Ma het dit baie vir ons gemaak.
Sy was baie lief vir haar klei potte om die sous in te stoor, dit het koel gebly daarin en nog verder aangesuur.
Dus het sy die sous nooit in die yskas gesit nie.
Ons het dit op ons eierbrood geëet, as 'n groente bord se doopsous, gebraaide botterskorsie skywe, slaaisous, saam met gebakte groente as 'n sousie, saam met fillet en steaks, schnitzels, aartappel in sy jassie was natuurlik die gunsteling, gesmeer oor ons toebies saam met ham en kaas, kyk daar was nie 'n ding wat nie onder hierdie ekstra geurige sousie deur geloop het nie.


RESEP
250 ml vars room
250 ml suurroom
500 ml mayonnaise - Cross & Blackwell of Miracle whip maak dit heerlik
1 el knoffel - hoogvol
1 knippie neut muskaat
sout en peper na smaak



METODE
1. Klop die room tot styf, oppas, nie te veel klits nie want dan kry jy botter!
Sodra die klitser merke in die room maak en dit hou hul vorm is die room gereed vir die volgende stap.

2. Vou die suurroom en mayonnaise in by die geklopte room asook die res van die bestanddele.

3. Laat die mengsel vir 24 uur buite staan om dik te word.

4. Stoor in yskas vir tot 3 maande, hoe langer dit staan hoe lekkerder word dit.

BRON: Hantie Bezuidenhout, 1980.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking