Donderdag, 21 Mei 2015

KARAMEL PEKANNEUT TERT


Hierdie tert het sy eie storie.
Aan die einde van my 4de jaar trou ek met die man van my drome, jonk en brandarm gaan werk ek in my af periodes by my tannie hulle se tuisnywerheid. Polfyntjie in die Brooklyn omgewing in Pretoria, het my kos kennis en ook mense kennis help verbreed.
Ek het wonderlike mense leer ken, vrouens wat se mans hul los vir ‘n mooi sekretaresse terwyl sy spook met die kinders.

Sy verloor alles en dan begin die merkwaardige vroue bak vir ‘n inkomste. Onder andere was daar een vrou, sy het hierdie ongelooflike Pekan Karamel tert gebak. Ek het 2 jaar by Polfyntjie gewerk en die dag toe ek graad vang en ons, ons eerste woonstelletjie koop, gee sy as “house warming” vir my die vars gebakte tert met die handgeskrewe reseppie by.


Vir my was dit die grooste geskenk ooit want ek het geweet hierdie vuisvoos vrou vertrou my met haar resep, haar inkomste! Sy het my geken en geweet ek sal dit nooit gebruik om by ander tuisnywerhede te verkoop nie. Sy het die styd teen borskanker verloor 'n paar jaar gelede. Hierdie merkwaardige vrou was Este Bherens!


Deur die jare het ek geskaaf en skuur aan die tert, ek wou nog ‘n dikker karamelagtige jellie laag onder in die tert hê.



VULSEL
250 ml goue stroop
½ kop sagte bruinsuiker - styf ingeruk
2 ml sout
5 ml vanilla geursel
15 ml suurlemoensap
3 groot eiers - geklits
1½ kop pekanneute - gebreek en heel
500 ml room - styfgeklop met 2 el strooisuiker

METODE
1.Voer ‘n 23 cm tertpan uit met die deeg, prik die basis en sprinkel ‘n mengsel van mielieblom en strooisuiker op die basis. Bak blind vir 10 minute.

2. Meng al die bestanddele saam en plaas in die gebakte kors. Draai die groot neute mooi regop sodat die ruggies na bo wys, jy kan regtig mooi patroontjies pak.

3. Bak die tert vir 10 minute by 200 ˚ C en daarna vir 40 minute by 160 ˚ C totdat die middel
geset het.

KORS
1½ kop koekmeel - gesif
2 ml sout
15 ml strooisuiker
½ kop botter
4 - 5 el water

METODE
1. Sif die koekmeel, sout en suiker saam.

2. In ‘n voedsel verwerker sny die botter in die meel in, of vryf met vingerpunte in die meel in.

3. Voeg die water by en druk aan mekaar.

4. Verkoel vir 30 minute, gebruik soos nodig.

PORSIES: 6.

BRON: Este Behrens.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking