Vrydag, 08 Mei 2015

BAR-ONE EN COCO POP BLOKKIES

Bar-one koekies!
Hierdie resep het 'n oulike storie. Die storie begin by 'n klein rooikop knapie (my middel kind) in Graad 3, wat gedink het sy juffrou is die mooiste mens ooit! Eendag moes die kinders vir 'n LO projek elkeen 'n bestanddeel saam neem om hierdie koekies te bak.

Wel, Hardus was so beindruk met die juffrou dat hy in sy eie handskrif die reseppie neer geskribbel het soos hulle gewerk het. Die middag na skool moes ons dadelik al die bestanddele gaan koop om dit ook self te maak. Ek besluit toe, laat ek gou die juffrou kontak en hoor of die resep reg is. Ek lees dit vir haar voor en sy begin net te lag, "ek dog Hardus sit en droom en wil nie help nie!" Wel hier is die foto van sy reseppie en dit is regtig heerlik!






RESEP
125 g botter - Rama of Stork Bake
1 tl vanielje geursel
4 kop coco pops
½ kop kakao
2 kop versiersuiker

METODE
1. Smelt die botter en voeg die vanielje geursel by.

2. Voeg die coco pops, kakao en versiersuiker by en roer deeglik.

3. Skep in gesmeerde oond pan en druk met ‘n ander oondpan bo op plat deur 'n liter water as gewig bo op te sit.

4. Laat stol.

BO LAAG
4 x 55 g Bar-one’s
60 ml of 4 el botter


METODE 
1. Smelt die bar-one en botter saam.

2. Smeer bo oor die gestolde coco pops en laat afkoel.

3. Sny in blokkies of druk vormpies.

4. As jy vormpies druk kan die res weer warm gemaak word en truffels gerol word.
Rol die truffels dan in klapper / kakao / versiersuiker / neute of enige sprinkles.
Geniet.

Bron: Sandel Otto, Broedies, 2010

1 opmerking:

  1. Hardus is n ster! Sê vir hom sy reseppie sal die kinders tot in Israel lekker laat smul. Sonja

    AntwoordVee uit