Vrydag, 15 Mei 2015

AARTAPPEL POFFERTJIES (POMME DAUPHINE)

Hierdie aartappel poffertjies is so oud soos die berge en mense vergeet soms van hulle.
Die basis is Kapok aartappels en Choux deeg (poffertjie deeg) wat gekombineer word.
Die balletjies kan gevul word met spek, kaas en groente.
Dit kan as vingerkos of bygereg bedien word.
Die worsies is heerlik om soos ‘n skyfie in sousies te doop.
Geniet!
RESEP
150 g koekmeel
110 g botter
knippie sout
150 ml melk
150 ml water
4 medium eiers - geklits
1 kg kapok aartappels - klaar gegeur
2.5 ml neutmuskaat

METODE 
1. Sif die koekmeel en sout saam.

2. Verhit die botter, melk en water tot kookpunt.

3. Voeg die koekmeel by die kokende water, verwyder die kastrol van die hitte.
Roer die inhoud baie vinnig totdat dit los kom van die kante van die kastrol en ‘n bal vorm.

4. Laat die mengsel afkoel totdat dit koud genoeg is om die eiers een vir een by te klop met ‘n houtlepel.
Hierdie is nogal moeilik, die deeg wil aanvanklik nie met die eier meng nie maar hou aan roer, houtlepel se kind werk nogal goed vir die werkie.
Elke eier moet so ingewerk word, nie alles op eenslag nie.
As die mengsel te warm is gaan die eiers gaarword!

5. Die kapok aartappels moet geen vog inkry nie.
Kook die aartappel in sy skil tot gaar, moenie dit vooraf skil nie want dan het ons te veel vog in die deeg later en die bolletjies of worsies wat gespuit word gaan dan oop bars!
Druk letterlik net die aartappel fyn, dit is al, sout, peper en neut muskaat.

6. Meng die aartappel goed deur met die Choux mengsel.

7. Vul ‘n spuitsak met die mengsel,
Hier kan jy nou lekker speel.
Jy kan ‘n ster neus vat, die grootste gat wat jy het 48 en groter en spuit dan die mengsel in warm olie, sny elke repie af sodat almal regte lengte is.

8. As jy die balletjies wil maak spuit dan R5 grootte bolletjies met stomp neus punt en rol dit dan in bolletjies.
Diepvet braai.

VARIASIE
1. Jy kan spek, kaas (mozzarella, feta, haloumi) in die balletjies sit en bak.

2. Die balletjies kan ook in eier en broodkrummels gedoop word vir ‘n krakerige bruin voorkoms.

BEDIENING
As bykos by hoofgereg, vingerhappies op ‘n stokkie met heerlike doopsouse.
Kosblik happies vir die kleingoed...

BRON: Annelien Pienaar, Bos en Berg gasteplaas, 2006.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking