Maandag, 20 April 2015

SPESERY GEMMER EN APPELKOOS KLUITJIES

Aangesien die winter sy jassie nou sommer so vroeg in April om ons trek is dit tyd vir een van my persoonlike gunstelinge, gemmerkluitjies. Dit is my onthou kos, my tannie het dit altyd gemaak, sy het ‘n koper kastrolletjie spesiaal vir dit gehad. Dit was oorlog as my oom dit durf waag gebruik vir iets anders. Ek het altyd die kastrolletjie uit gelek met my vinger.
Mens mis daardie tye so as mens ouer word en na jou eie kindertjies kyk, jy wonder watter herinneringe hulle eendag van jou kos sal koester.

LES
1. Al wat hier kan fout gaan is die deeg mag dalk kluitjierig uitkom maar ek het met jare se loer oor my tannie se skouer geleer, ”MOENIE DIE DEKSEL OPTEL VOOR 15 minute verby is nie anders slaan hy toe soos ‘n klei os se agterent!”, liewe tannie Ina.

2. Verder het ek ook ondervind as jy winkel appelkoos konfyt gebruik is die suur nie genoeg om die koeksoda goed te aktiveer nie.
Dus as jy nie ‘n ander opsie as winkel appelkoos konfyt het nie, voeg 1 tl asyn by die botter en appelkoos konfyt soos dit smelt.

3. Kry eers al jou bestanddele gereed voor jy begin, tydsberekening is belangrik.

4. Meet die koeksoda perfek af anders gaan te veel koeksoda ‘n  seperige nasmaak tot gevolg hê en te min die kluitjie nie veerlig laat uitkom nie.

5. Lees mooi en ek belowe jy kan NIE die ding laat flop nie!
Sukses is gewaarborg.

STROOP
1 liter Water
1 k Wit suiker
1 t fyn Gemmer
½ t fyn Kaneel
knippie Sout

METODE
1. Voeg al die bestanddele saam in ‘n diep genoeg kastrol wat jy weet nie aanbrand nie en waarvan die deksel dig seel. Roer om die suiker te laat oplos.

2. Kook vir 8 - 10 minute terwyl jy met die deeg begin.

DEEG
½ k Appelkoos konfyt (165 g)
125 g Botter - Rama of Stork bake
10 ml Koeksoda
200 g Koekmeel
knippie Sout

METODE
1. Smelt die botter en appelkooskonfyt saam in ‘n kastrol, dit moenie kook nie.

2. Voeg die koeksoda by, ’n mooi skuimerigheid sal vorm, dit beteken die koeksoda is geaktiveer en gaan begin koolstof dioksied vrystel.

3. Roer die koekmeel met ‘n  houtlepel in die appelkooskonfyt mengsel in. Werk vinnig en moenie dit laat staan nie. Die gedoente is besig om te werk en as jy te lank wag gaan die aktiwiteit afneem.

4. Skep eetlepels vol deeg in die kokende stroop, sit die deksel op en verlaag die hitte na medium en kook vir 15 - 20 minute. Toets, as jy ‘n mes in die middel van die kluitjie insteek en weg trek en dit lyk koekerig en droog dan is dit gereed. Die kleur van die gereg is ‘n ryk diep karamel kleur...

5. Bedien met room of roomys.

Porsies: 6.

Bron: Ina Venter Lombard.

Foto: Golden Cloud koekmeel.

2 opmerkings:

  1. Baie dankie vir die deel van die familie resep. Soos jy weet het ek Tannie Ina baie goed geken eens later jare toe sy met Oom Dirk getrouw het.... sy kon vir jou bak!!!

    AntwoordVee uit