Donderdag, 30 April 2015

ARTIKEL: LABNEH .. BULGAARSE STYL

Funky Chunky Labneh
Hoekom die reeks van resensies oor stalletjies? Wel ek het maar ‘n sagte plekkie vir mense wat op ‘n eenvoudige wyse ‘n bestaan wil maak en op eie stoom die mas opkom.
Graag wil ek Zhana Yordanova van Funky Chunky aan julle bekendstel.

Hierdie stalletjie, Funky Chunky, het my aandag aanvanklik nie getrek nie maar toe ek die Labneh proe het ek behoorlik die vroutjie met vrae gepeper.
Zhana Yordanova is van Bulgarye en is nou so 2 jaar in SA.
Sy het in Bulgarye op die platteland groot geword en baie by haar oupa geleer kaasmaak en kleinvee boer.
Sy vertel dat hulle Labneh met bokmelk en ook skaap melk gemaak het.
Sy het so ‘n pragtige statige houding en so trots op haar produk.


Labneh balletjies in verskeie krue gerol
‘n Oulike wenk wat ek by haar gekry het rakende hanslammers, as jy ‘n ooi het wat genoeg melk het om ‘n hanslammer te voed moet jy die twee se sterte teen mekaar vryf.
Die ooi sal haarself aan die lammer ruik en dan nie die lam weg stoot.
Ons kom dit baie oor, veral as die kudde groot is.
En as ek nou daaraan dink, maak haar opmerking sin, ’n ooi ruik altyd aan haar lam se boud en begaan hom om te drink, dus minder tietie bottels vir my!!!

Maar wat ek eintlik by wil uitkom is die Labneh, dit is soos yoghurt kaas met ‘n groot verskil in die lengte van die tyd wat dit gemaak word, die bokmelk wat sy gebruik en die speserye wat sy om die bolletjies sit.
Ek het ‘n botteltjie van die Medeterainian Labneh gekoop, dit het geroosterde sesamsaad, knoffel, gerookte paprika en mosterdsaad as buite lagie en dan in olyfolie gestoor.
Om julle ‘n idee van die sterkte van die smaak te gee, sy het ‘n ⅛ ste van ‘n teelepeltjie op ‘n stokkie bedien en dit was genoeg om my smaak kliere aan die dans te sit!!!
Sy wou nie die resep gee nie maar ek het wel haar proses uit haar gekry, sodra ek alles ontsyfer het, gaan ek my weergawe vir julle stuur, ek moet nou net ‘n bok gaan soek vir melk!
Maar ek gaan met beesmelk probeer sodat almal dit kan maak met die yoghurt wat in die winkels beskikbaar is...

Nou dink julle seker hoe eet mens die bolletjies, wel sy het voorgestel jy kan dit gebruik om jou taaier vleis snitte met dit in te vryf en te marineer oor nag.
Gebruik dit saam met vis, bak die vis of braai en bedien halwe bolletjies, soos dit smelt besprinkel met fyn dill tippies.
Ek het persoonlik ‘n groot sampioen met olyfolie uit die Labneh botteltjie bedruip en ‘n volle bolletjie bo op gesit en gebak, mense dit was verby hemels!!!
Dan kan jy dit ook met gemengde groentes bedien.
Of as ‘n dip of smeer by ‘n groente bord of saam biltong en koekies.
Die lys is nimmer eindigend.

Dus kry Zhana Yordanova  by my volpunte vir ‘n kwaliteit produk en ook omdat sy so sprankelend was!

Vir diegene wat in Kaapstad omgewing woon en graag haar produkte wil proe, kan Zhana gekontak word op 072 016 0116 of www.funkychunky.co.za 

BRON: Annelien Pienaar, Kaasfees, Stellenbosch, 2015.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking