Donderdag, 30 April 2015

ARTIKEL: LATANA CHEESE

Dean en Petra Lategan van Latana Cheese
Die tweede stalletjie wat my aandag getrek het was die bordjie agter teen die muur met al die gesegdes oor kaas.
Ek besef toe, ek moet bietjie hier vertoef en gesels.
Ek was baie bevoorreg om voor die publiek deur die tente kom, eers in stilte deur te loop en alles af te neem en te besigtig.
Hier het ek ‘n man met die naam Dean Lategan en sy pragtige vrou Petra ontmoet.
Hul besigheid se naam is Latana Cheese en is in die Oudshoorn distrik geleë.
Ek het soos oudergewoonte gou met die mense aan die gesels geraak en die storie agter die storie gesoek.

Die bord wat my oog gevang het....
Dean hulle het na aftrede besluit om ‘n kaasmaak kursus by te woon en het toe begin om self kaas te maak op die familie plaas waar daar met Jersey melkbeeste geboer word.
Gou moes Dean ‘n kaasmaakaanleg inrig en besef dit is nogal hardewerk, hy het Boeren kaas begin maak soos die mense van ouds dit doen.

Hy het ‘n kostelike staaltjie vertel hoe Ashley-Ann May (hul kaasmaker) eendag vanuit die lande na hom gekom het en kom vra of hy haar sal leer kaasmaak.
So het sy toe saam begin werk (eers as skoonmaker) en sonder dat Dean besef hoe geinspireer sy is, nie besef die juweel wat hy het nie.
Tot hy eendag vinnig moes lande toe om na ‘n probleem te gaan kyk en hy het toe reeds die rennet proses aan die gang gesit, hy het hom misreken en toe hy inderhaas terug jaag met die gedagte: “die hele pot kaas gaan weg gegooi word” was hy aangenaam verras.
Ashley-Ann het toe sowaar op eie houtjie die proses suksesvol voltooi.
Na 4 weke het hulle die kaas getoets en dit was heerlik.
Dean hulle het toe investeer in haar opleiding en sy is nou saam met Dean besig met die kaasmaak proses.
Kyk wie hou ook van Latana...
Nog ‘n staaltjie wat my hart sommer week gemaak het was die verlies 2 jaar gelede waar hul ‘n derde van die trop Jerseys verloor het.
Hul meisies het “snot siekte” gekry en baie is dood.
Elke meisie het ‘n naam gehad, Dean het vertel hoe hulle sy broer se alles was, want hy was die melkboer.
Hy het vertel die inskrywing in die stamboek toe hy die koeie se name dood getrek het, het gelui: ”Here, mag dit NOOIT weer gebeur!”
Kyk die oom Dean en ek was beide dik van die trane, ja vir die man sal ek my hoed afhaal.
Sy diere word goed versorg, sy kaas met sorg gemaak, hierdie Kaasplaas kry ook my volpunte!
Oom Dean en Tannie Petra, julle Boeren kaas is tops en julle gasvryheid ongeken!

In September 2014, word Lantana Cheese uitgenooi om deel te neem aan die Wêreld Jersey Kaas kampioenskappe, ’n internasionale kompetisie wat elke jaar in ’n ander land gehou word .
Hulle het sewe kase ingeskryf en wen vyf medaljes, silwer vir die Boerenkaas en Jogurtballe en brons vir Halloumi, Feta en Boerenkaas met Groen peper.

Julle kan Latana Cheese op FB soek en kontak by 082 375 7884 of epos stuur aan petra@lategan.co.za

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking